Taaldebat - Language debateArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
Senior watch slim, Jaeger Le Coulter Masters Series must not replica watches miss. Jaeger Le Coulter's master series is swiss replica watches an entry - level series in the brand, but it replica watches sale also has a complex style to replica watches online the sky.

Dag 1: Stellenbosch - Koekenaap

Gelaaide kar, gelaaide pad, soos twee lope wat mekaar geduldig opweeg. Tog voel dit meer soos om na ’n spieël te korrel … bagasie is ook buskruit.
“Two eighty-four fifteen. Thanks chief.” Dorpstraat se BP het nog nie die son gesien vandag nie.

Kom ons draai nie doekies om nie. Ek is moer bang. Bang dat hierdie hele ding ’n helse flop kan wees, bang dat ons beplanning oorhaastig, oorambisieus en ondertollig was, bang dat ons nog voor die laaste robot op pad uit N1 se kant toe gekaap gaan word en almal (insluitende die kapers) met helder oë vol hoop op LitNet sal klim en ... niks daar vind nie.

In hierdie tipe situasie is daar baie dinge waarop mens kan roep om jou te help ken lig en moedasem skep. Geloof, vriende of dwelms is almal heel werkbare opsies, maar soms moet jy maar net aanvaar jy’s ver dieper in as wat jy veronderstel het, en die regterkantste pedaal trap. Ons gaan Afrikaans soek … Wat??! Nee nee, die beste van als, ons gaan dit in twaalf dae regkry. Om dit te vind? Nee – net om dit te soek. Te soek na die hoekom, die wat, die waar en, bowenal, die hóé van ons persoonlikheidsversteurde taal.

Ons verlaat Stellenbosch met ’n paar leidrade en hopeloos ambivalente verwagtinge vir die trek, oftewel die taaltoer, soos die bloedjie onlangs sy/haar/ditse naam ontvang het.

Die eerste mikpunt is Koringberg, naby Moorreesburg – ons moet uitkyk vir ’n plaashek waar ’n Australiese vlag wapper, en iemand met die naam Izak Esterhuyze opspoor.

 

  • Koringberg – Praat met my Plattelands!

Ons wit Ferrari (lees 1,3 liter Volkswagen Chico) roep ’n halt waar die manne by die  sementmenger wag – een word deur homself as Izak Esterhuyze uitgewys. Blou oorpak, versigtige hande, versigtig. Nege en vyftig jare, almal van hulle in die Swartland.

Piet, Izak en Henry“As ’n man met my kom Ingels praat, sê ek hom, nie man, praat met my Plattelands! Jy moenie kom grênd wees hierso nie.” Izak was ’n maand lank skoolgegaan by Nuwedrif se plaasskool. Hy’t dit egter vinnig omgeruil vir die rol van broodwinner, met sy pa wat ouer en sieker by die dag geraak het. “Ek kan darem my naam herken, as ek hom op papier sien,” glimlag Izak. “Ons mense hier praat glad af met mekaar. Ons verstaan mekaar so. Maar as ’n kind iets kan leer, twee tale kan leer, laat hom leer. Solank hy iets leer!” Die koringvelde glinster, die voorman loer ongeduldig na ons. “En daar in die kerk, hulle lat ons Ingelse liedjies sing, ek verstaan nie die goete nie! En dan ook nog die preke in Ingels so baie ... ja nee, ek voel soms afgekap, man.”

Net uit nuuskierigheid moet ons ’n spreekwoord of sêding uit Izak kry. “’n sêding van ons mense?” Hy kyk eenkant toe, dink diep, kyk terug, “Nee, ek kan nie julle die sêdinge vertel nie, ek’s dan ’n bekeerde man!” …

“Aaag, julle bedoel die bruinmensies.” Skaars vyf honderd meter weg is die vrou van die plaas in die kombuis, besig om middagete vir haar gesin voor te berei. Pasta met groente. Repe vis word deur beringde vingers van hul grate af geknyp. “Kyk, die ou bruinmensies, die plaasmensies – hulle gaan dan nie eens skool nie. Dit is in elk geval julle jongmense wat Afrikaans so opneuk – alles is cool, alles is awesome. En die mode is mos nou, almal gaan werk oorsee, wat gaan Afrikaans jou in Londen help? Dis ’n beperking!”

Ek hoor my kollega vra of sy haar kinders, wat almal tuisskool-programme ontvang, in Afrikaans leer en help.

“Ja, maar dis anders … ek voed hulle op,” sê sy met ’n gebalde vuis. Stukkies vis val. “Dit help in elk geval nie jy baklei vir ’n halfgebakte Afrikaans nie. Die Afrikaans wat ons nou praat, dis nie Afrikaans nie. My generasie het nog geleer om ongekruide Afrikaans te praat. Waarom moet ’n mens baklei daarvoor?”

Die yskasdeur vertoon verskeie magnete. “Chocolate is the most essential nutrient.” “Thou shalt not weigh more than thy refrigerator.” ’n Vers uit Spreuke.

“Ag, ek weet nie. Dalk moet julle net eers werk om die mense hier te hou.”

Ja, dalk.

 

  • Paternoster – Al hierdie permitte! Wie gaan kos op die tafel vir jou mense sit? Nie kortbroek of Mbeki nie –jy moet!

Ryno en MarioOns ry Moorreesburg en Vredenburg deur, Paternoster in, en spoor die restaurant op die strand op waar ons vir Mario moet kry. Mario is laat – hy bel en vra of sy vriend Ryno kan saamkom. Dié twee is gebore Paternosterers … Paternosteriëers … Pat– … Dié twee is gebore op Paternoster, en maak tans die geheel van die Paternoster-buurtwagbemanning op.

Die witgekalkte huise, die meeste van hulle besit deur “Duitsers, of Transvalers, of celebrities. Die rugby-ouens, hier’s baie van hulle, en die skrywers ook”, is groen- of bloubedak en opmekaar, met DSTV-skottels op omtrent elkeen se skoorsteen gemonteer.

“Kyk, dis die nuwe government. Hulle wil die taal verander net soos hulle die land verander!” Ryno is vyf en twintig, hipervriendelik, hiperkwaad. “Op elke ding is daar ook nou ’n wet! Al hierdie permitte – wie gaan kos op jou tafel sit as jy nie ’n permit het nie? Nie Kortbroek of Mbeki nie – jy moet! En die aansoekvorms vir die goed – hulle stuur vir jou net so ’n dik  aansoekvorm [sy duim en wysvinger is plus-minus vyf en ’n half sentimeter uit mekaar], en dis als in Engels. Nou kry al die vissermanne langs die Weskus hierdie vorms, en nie een kan dit verstaan nie! En watter man gaan verniet vir jou die goed vertaal? Dis net nie logies nie!”

Die kelnerin kom die derde maal terug om te vra of ons nou al besluit het. Mario kyk weer na die spyskaart. “Dié gerookte vispatee, nee, ek ken nie die goed nie, dissie wat my ma gemaak het nie. Kalamari, daai ken ek …”

“Wel, soos ek sê, die hele ding is net nie logies nie,” val Ryno weer in. “Ek het twee darkie-vrinne wat vlot Afrikaans praat. Die Xhosa-kinders is so vyftien persent van die skool – hulle leer dit aan, so wat is nou fout met Afrikaans? Jy’s ’n volbloed Suid-Afrikaner, vir wat sal jy nie Afrikaans kan verstaan nie!” Met ’n handbeweging klap hy per ongeluk sy eie sonbril van sy hare af. “Sorrie ... ’n man raak partykeer kwaad, maar nou ja.”

“Kyk hier,” sê Mario, “Afrikaans is ons taal, en niks gaan dit verander nie. Nie hierdie aansoekvorms nie, niks. Ook nie die Capies nie; hulle mors met die taal, met die ge-Engels en -Afrikaans.”

Ryno skud sy kop. Dis net nie logies nie.

 

  • Lambertsbaai – Muffy doen faders, ja!

Dit is al laatmiddag toe ons die huis in Cloetestraat (!) opspoor. Lies Barnabas is die verpersoonliking van energie. En sy spog met ’n bry wat enige Moorreesburg-boer sy rogbrood gou sal laat gorrel.

Ons het skaars gesit, toe’s daar kinders by die agterdeur.

“Mevrou!”

“Praat maar!”

“Mevrou, issie haarsny nog oop?”

“Gaan kyk daar by oom Saal se huis!”

Sy draai terug. “Dis ’n man wat hier agter my ’n haarsalon werk – ek vra hom vyftig rand ’n maand – net vir die krag, jy sien.”

Daar is net die drie houtstoeltjies in die sitkamer, met ’n prent van Elandsbaai se berg teen die een muur, en ’n foto van ’n walvisstert bo die water teen die ander. Sertifikate lê op ’n hopie op die tafel, almal uitgemaak aan Hilda Barnabas:

Diploma van Dankbetuiging (Lambertsbaai Jeugklub)
Erkenningsertifikaat van die Vrolike Vinke Vrouebemagtigingsgroep …

En dit hou net aan.

Lies“Kyk,” begin sy, haal haar bril af en vee die lense met haar groen truipunt skoon, soos sy minstens een maal in vyf minute doen, “’n ding kan mos nou nie van bo af op nie, hy moet mos van onder af op! Hoe kan jy ’n kind van graad R tot graad twaalf in Afrikaans leer, dan in ’n ander medium? Hierdie goed gaan opvoeding terugsit.”

Opvoeding terugsit?

“Dis moedertaal! Dis mos so, soos ’n kind redeneer en dink! Afrikaans is ’n taal – die probleem is mense sien dit as ’n apartheidstaal, maar dis ’n taal! Engels is ’n taal, Xhosa is ’n taal, Afrikaans is ’n taal!”

“Mevrou! Is Muffy hier?”

“Moreoggend tienuur’s hy weer hier!”

“Doen Muffy faders, Mevrou?”

“Ja, hy doen faders. Toe, orraait, kom tienuur môre weer om.”

Sy draai, sit weer, maak haar bril skoon. “Kyk, ek’s ’n volbloed-ANC. Maar ek stem net nie saam tot alles nie. Hulle is besig om Mandela se visie te mors. Om die kinders op te voed, met rekenaars en so ook, die geld is daar, maar die monitorering nie. Die opvoeding word teruggesit met die taalgoeters, man. Julle kan sê wat julle wil, ek’s elke dag saam met daai ses en veertig kinders, ek weet mos!”

By die agterdeur sukkel ek met die skuifslot. “Elke enkelouer,” sê Lies terwyl sy ’n skroef uit ’n laai uitvis, “het ’n tool!”

 

  • Doringbaai – Black Label en die taaldebat

Op Doringbaai, onderweg na Koekenaap, ons bestemming vir die nag, word ’n Swart Etiket afgesluk in Doringbaai se kroeg. Toevallig ontmoet ons ’n Dagbreek-inwoner, en ons is skielik terug op Stellenbosch, kla oor herhaling en T-opsie ensovoorts. Bagasie en buskruit ... ek het so ’n gevoel nie een van ons het nog ’n idee wat enige van dié twee beteken of inhou nie.

Groete

Henry


Terug na Taaltoer

LitNet: 27 Junie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.