Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Bokke was ’n volksverleentheid

Blou Bul Braamie

Ons agbare Springbokafrigter, Rudolf Strooihalm, het Saterdag na die tweede toets toe darem weer ’n helder oomblik beleef — sy eerste sedert hy die Bokke by die Polisiekollege laat voorberei het. Sy opmerking dat die Bokke waarskynlik ’n drag slae teen die seëvierende Engelse op die lyf sou geloop het, is in die kol. Soos die Engelse teen die All Blacks gespeel het, lyk hulle na die vroeë gunsteling vir vanjaar se Wêreldbeker. Hulle vertoning het gestaaf wat ek nog van die begin van die jaar af sê: hulle kan slegs met onortodokse guerrilla-taktiek geklop word, en om dit te kan regkry, moet die span met guerrillavegters gelaai word. ’n Paar goeie bevelvoerders om die troepe op koers te hou, en ’n paar roekelose stormtroepe wat vir geen duiwel stuit nie.

Die Bokkeurders het weer — soos met die aanvanklike span teen die Skotte — goeie werk gedoen. Min fout kan gevind word met die Bokspan of die A-span. Ek sou Hendrik Gerber in die Bokspan gehou het en Wikus van Heerden na die A-span verskuif het, maar dis nie ’n krisis nie. Gerber het sy staal gewys teen die Skotte en dis wat saak maak. Bakkies Botha hoort ook in die Bokspan — hy het die vure onder die voorspelers aangesteek.

Ek sien Corné Krige het nie net as Bokkaptein oorgeneem nie, hy het ook sommer dadelik ingeval as waarnemende voorsitter van die twakpraatklub. In sy eerste spreekbeurt na sy heraanstelling as kaptein, beweer hy die fel kritiek teen die Bokke oor hulle vrot vertoning in die eerste toets teen die Skotte was ongeregverdig. Baie van die manne het glo vir die eerste keer in ’n toets saamgespeel. Nou ja toe! Net omdat die kleur van die manne se truie verander het, ken hulle mekaar skielik nie van Adam af nie. Watse snert is dit?

Ek kan sien Krige het nog nie R1 000 betaal vir vier toetskaartjies vir sy gesin nie. Boonop moes so ’n pa sekerlik na die Durban-toets aan die jongelinge verduidelik hoekom hulle helde bottervingers en poeiervoete het. As Krige behoorlik na die video-opname gekyk het, sou hy besef het die Bokke was ’n volksverleentheid.

Heelwat van die rugbyskrywers het die laaste tyd gesinspeel dat Joost te stadig raak vir toetsrugby. In die eerste toets teen die Skotte het hy definitief te stadig by die breekpunte aangekom. In die tweede toets was dit beter. Ek dink nie Strooihalm kan bekostig om die Wêreldbeker sonder Joost aan te durf nie. Die beseringsrisiko met Krige is té groot. Kom daar fout, is daar niemand om die leisels oor te neem nie. Ek dink ook nie ons moet die Engelse met Sephaka of Pieter Rossouw as kaptein aandurf nie.

’n Slotwoord: die kies van die beginvyftiental teen Argentinië gaan belangrik wees. As ek in Strooihalm se skoene was, het ek my laaste kans om te eksperimenteer, roekeloos benut. Dit is die een wedstryd waar hy dit met ’n paar wilde kaarte kan waag. Dit is ’n goeie stukkie taktiek om vir Joost te laat rus. Tog is dit jammer dat hy nie met Geo Cronjé en Fabien Juries gewaag het nie. Hulle tel onder die ysters wat hy gaan nodig hê om die Engelse aanslag op 18 Oktober af te weer.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.