Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Springbokke se swakste vertoning op tuisbodem in baie jare

Blou Bul Braampie

Die Bokke se treurmare duur voort. Asof verlede jaar se katastrofiese vertonings in Frankryk en die Britse Eilande nie genoeg was nie, lewer die Spingbokke verlede week seker hulle swakste vertoning op tuisbodem in baie jare. Nie eers die spanne wat teen die ‘74-Leeus verloor het, het so vrot gespeel nie. Om alles te kroon wen hulle nog boonop die wedstryd en maak agterna asof daar niks gebeur het nie. Die rugbyskrywers loof hulle veggees en die spelers getuig dat hulle hulle doel bereik het, naamlik om teen elke prys te wen. My hart bloei vir die armsalige toeskouers wat elkeen R250 betaal het om die gemors te aanskou.

Die gemeenskaplike faktor in die agteruitgang van Suid-Afrikaanse rugby die afgelope twaalf maande is die afrigter, Rudolf Straeuli. Hy word natuurlik in sy kwaad gesterk deur ’n groepie rugbyskrywers wat in sy goeie boekies wil bly voor die Wêreldbeker later vanjaar. Die gevolg is dat Straeuli se onbeholpe resultate toegesmeer word, want die joernaliste weet die kanse is feitlik nul dat hy vervang gaan word voor die toernooi.

Die aanwysing van Rudi Joubert as agterlynafrigter en die spelpatroon wat die Bokke Saterdag gevolg het, dui daarop dat Straeuli nie die vaagste benul het wat hy doen nie. Louis Koen staan 20 meter agter die voordeellyn en skop dan sulke aapstertskoppe in die opponente se gebied in wat dan deur die vaardige Skotte in teenaanvalle omskep word. Die taktiek word met Gary Owens afgewissel en hoe minder die Bokke uitrig, hoe meer oordoen hulle die taktiek. En dan noem ons dit afrigting. G’n wonder die skare het die spelers luidkeels uitgejou nie.

Voorts is daar gedurig ’n groepie lomp voorspelers met bottervingers in die agterlyn. Dié onder hulle wat wel die bal raakvat, bekruip die voordeellyn teen so ’n stadige pas dat die Skotse voorspelers geen moeite ondervind om hulle met eentonige reëlmaat terug te duik nie.

Kom ons wees eerlik. Geen Springbokspan wat deur Harry Viljoen en Tim Lane of Carel du Plessis en Gert Smal afgerig is, het ooit so onbeholpe vertoon nie. Viljoen was duidelik ontsteld elke keer wanneer die Bokke kleigetrap het, maar wat doen Straeuli? Na Saterdag se debakel wys hy in ’n media-onderhoud uit dat die spelers nog net vir ’n week saamgeoefen het. Waar het jy al ooit sulke snert gehoor? Die Sharks-agterlyn en die Bulls-voorspelers het die hele Supertwaalf saamgespeel. Dit is die afrigter wat gefaal het om ’n sinvolle wedstrydplan vir hierdie bewese kombinasies uit te werk. Ek kan verstaan hoekom Straeuli nie bereid was om verder saam met Tim Lane te werk nie. Lane sou nooit so ’n verbeeldinglose patroon gesteun het nie.

Nog meer onverklaarbaar is die weglating van Ricardo Loubscher uit die span vir die tweede toets. Ricardo het darem ’n paar doodvatte uitgevoer. Dis die groot name soos Stefan Terblanche en André Snyman wie se verdediging hulle in die steek gelaat het. Verder word Skinstad en Russell in die span opgeneem. Beide van hulle se verdediging was onbevredigend in die Supertwaalf. Wat het nou van Straeuli se verklaarde beleid geword om net dodelike verdedigers te kies?

Die kersie op die koek is Straeuli se beheptheid met selfone, drank en damesgeselskap vir die spelers. Sy popspeeldissipline het duidelik geen vrugte afgewerp nie. Wat gaan hy hierdie week verbied? Wat van opblaaspoppe, e-pos en gemmerbier?

Dan het die afrigter ook ’n voorliefde vir stompsinnige media-onderhoude; en hy skryf nou ook kwansuis vir een koerant ’n weeklikse rubriek. Ek dink hy moet liewer ophou neuk met goed wat niks met rugby-afrigting te doen het nie en kyk of hy nie ’n behoorlike wedstrydplan kan uitwerk nie.

Ek weet die uur is laat, maar ek dink die skrif is aan die muur. Ons kanse om die Wêreldbeker te wen is besig om te vervaag. Ons kan net sowel nou maar van die afrigter ontslae raak en met Derrick Hougaardt en ’n paar ander wilde lote die Drienasies aandurf. Nie eers ’n goeie vertoning op Ellispark sal my oortuig dat Straeuli bevoeg is om ’n internasionale span af te rig nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.