Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die poppe gaan dans op Loftus

Blou Bul Braampie

Saterdag gaan die poppe op Loftus dans wanneer die Bulls en die Stormers mekaar takel in ’n stryd om Supertwaalf-oorlewing. Die wedstryd het die potensiaal om die rugbyriller van die jaar te word, mits die spanne se afrigters hulle kaarte reg speel en die skeidsregter sy kant bring.

Tensy Saterdag se verloorder met twee ligapunte van die veld af stap, is dit neusie verby vir hom en sal Suid-Afrika met net een ernstige aanspraakmaker op ’n plek in die halfeindstryde die res van die seisoen aandurf.

Ten spyte van die afrigter van die Bulls se onverklaarbare reeks aankondigings, sê my hart vir my die Bulls kan hierdie een wen. Rudy Joubert het reeds meer as ’n week voor die botsing gesê dat Derek Hougaardt nie die wedstryd gaan begin nie en dat Wessel Roux nie eers op die bankie gaan wees nie. Tensy Joubert besig is met ’n sielkundige speletjie, is dit ondenkbaar hoekom hy twee sulke belangrike leidrade vir Groot Gert en Stil Carel deurgee. Om ’n gepaste verdedigingspatroon teen Louis Koen uit te werk behoort die twee Kaapse afrigters nie meer as 15 minute te neem nie. Vir die wat nie kan raai nie, die volgende wenk: hou maar dop hoe die skrumskakel van die Stormers (Conradie/De Kock) gebruik word om die druk op Koen te plaas.

As ek twyfel oor die strategieë van ’n afrigter, gaan ek altyd terug na die oermoeder van beroepsport, te wete sokker. Wanneer laas het jy, die leser, gehoor dat sir Alex Ferguson twee weke voor ’n belangrike wedstryd reeds vir die pers vertel watter spelers nie die wedstryd gaan begin nie. Dit gebéúr net nie. Jy sien die spanlyste eers wanneer dit vyf minute voor die wedstryd bekend gemaak word.

Dalk het Joubert ’n kaart in die mou wat baie van ons gaan verras. Ek twyfel egter oor sy taktiese vaardighede en verwag dat die Bulls gaan poog om die Stormers voor plat te loop. Dis hier waar ek dink die Stormers se battery gedugte voorrymanne dalk Joubert se kaarte deurmekaar kan krap. Dis ook dan wanneer Joubert dalk hartstogtelik mag terugverlang na ’n Wessel Roux om die Stormers se skrumkrag in toom te hou.

Verlede naweek het die Haaie ons almal verras met ’n verrassingsaanval op die Katte. Ek is bevrees die Katte se nege lewens is opgebruik. Hulle sal bo hulle vermoëns op toer moet speel as hulle in die boonste helfte van die punteleer wil eindig.

Die Nostradamus van rugby, my ou vrind Nico Jordaan van Hermanus, het my reeds vroegmiddag gebel en vertel dat hy ’n visioen gehad het dat die Haaie gaan wen. Ek het dit afgelag, want Bobby het tog gesê die Katte is ontembaar op Ellispark. Die wedstryd was ’n rugbyfees, danksy die beheerste vertoning van Mark Lawrence. Hoewel hy nie foutloos geblaas het nie, ken hy sy plek. Sy vermoë om deel van die spel te word behoort ’n voorbeeld te wees vir al die Supertwaalf-skeidsregters. Daar is te veel sammajoortjies wat dink die son skyn uit hulle fluitjies uit.

Vandat ons tydens verlede jaar se toer na die Britse Eilande en Frankryk agtergekom het hoeveel been die Bokafrigter, Rudolf Strooihalm, nou werklik tussen sy ore het, het hy met nog ’n paar belaglike uitsprake vorendag gekom. Sy jongste teorie oor strafskopkwotas is ’n meesterstuk op die gebied van belaglike denke. Volgens die Beeld van 31 Maart het Dolfman vir elke speler ’n teiken gestel om net twee strafskoppe per wedstryd af te staan. Nie meer as drie punte mag per speler afgestaan word nie. Net drie spelers het blykbaar die eerste kwota oortree en nog drie die tweede kwota. Strooihalm gaan blykbaar statistiek inspan om dissipline by die spelers aan te kweek.

My vraag is of die artikel nie op 1 April moes verskyn het nie. Dit stink van belaglikheid. Het iemand al vir die vent uitgewerk dat as elke speler in die span by sy kwota hou, sy span 45 punte teen hom gaan hê? En wat van die plaasvervangers? Kry hulle halwe kwotas? Dis nogal jammer hy het nie die kwota verlede jaar voor die Twickenham-toets ingestel nie. Was dit in werking, het die 14 spelers met 45-3 verloor. Ek werk maar met 45 punte want ek glo dat Jannes Labuschagne net die 23 minute wat hy op die veld was, nodig sou gehad het om sy kwota vol te kry.

Dieselfde agbare Bokafrigter, Strooihalm, skryf van verlede week af ’n rugbyrubriek vir Rapport. Dis natuurlik alles deel van die propaganda om ons van die Slag van Twickenham te laat vergeet. Dit gaan nie werk nie, ou! Jou eerste poging was nie net oninteressant en niksseggend nie; dis net so geloofwaardig soos die uitsprake van George W Bush oor vrede. Ek sal eerder lees wat Nataniël of Dowwe Dolla oor rugby te skryf het.

Ten slotte: ek sien in verlede week se Rapport dat die gedugte
sluipskrywer(s) Boela Vermaak en ek nogal dieselfde dink oor dinge wat krap in SA rugby. Dis vir my nogal ’n eer as ek en Boela saamstem. Ek weet hy het oor baie jare sy pols op ons nasionale spel en daar is min dinge wat hy nie uitsnuffel nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.