Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Beproefde Blou Bul-patroon van sagmaak voor en reg skop agter is maar weer besig om te seëvier

Blou Bul Braampie



Die Suid-Afrikaanse spanne se onvermoë om goeie spel in oorwinnings te omskep, is besig om hulle kanse vir ’n plek in die semifinale te knou. Die arme Bulle moes aanskou hoe die geleende Kat, John Daniels, hulle die wedstryd teen die Highlanders kos. Ek sal nie verbaas wees as ek hoor Daniels is in ’n roeibootjie op pad terug na Suid-Afrika toe nie. Rudi (Rooimoer) Joubert, die afrigter van die Bulls wat Wylie Human van die Blou Bulle weggewys het, ten gunste van Daniels, moes boonop nog die naweek aanskou hoe Human twee briljante drieë vir die Sharks druk. Het Rooimoer maar by die Blou Bulle gehou en die ander spelers rondom hulle gekies, kon hy die naweek dalk ’n tweede oorwinning in Nieu-Seeland opgetower het.

Die Bulle het nietemin bomenslike veggees aan die dag gelê. Slaag hulle daarin om nog ’n keer op toer te wen, moet hulle ’n goeie kans hê om die gesogte uitspeelwedstryde te haal. Onthou: die Bulle het nog geen tuiswedstryd vanjaar gespeel nie! Die mees verblydende aspek is die nuwe jong spelers wat so sterk deurkom. Geo Cronje lyk al meer na ’n Springbok en Richard Bands na die vaskop wat SA rugby dringend benodig. Voeg daarby die kookwaterspel van Wikus van Heerden en Pedrie Wannenburg en die toekoms lyk skielik nie meer so bleek nie.

Die arme Stormers word bloots deur die beseringspook gery. Met soveel top agterspelers op die krukkelys behoort hulle eintlik Discovery te nader vir ’n borgskap. Grant Esterhuyzen, wat nou deur Groot Gert by die Katte geleen word, is ’n baie bekwame speler, hoewel hy in verlede jaar se Curriebekerfinaal tweede viool teen Dries Scholtz moes speel. Esterhuyzen is egter nie ’n vegter nie. Sodra sy span swaarkry, verloor hy belangstelling.

Die beserings in die geledere van die Stormers het duidelik uitgewys dat daar nie genoeg diepte onder ons agterspelers is nie. Min spanne sal nie swaar trek as hulle ’n hele Springbokagterlyn op die krukkelys het nie. Selfs die Stormers met al sy talent het nou by die punt gekom dat een verdere besering in die agterlyn hulle op hulle knieë gaan dwing. Gedink wat sou gebeur as Robbie Fleck nou ’n ernstige besering opdoen?

Die Cats, wat deur Tim Lane afgerig word, het wonder bo wonder ’n goeie oorwinning behaal. Die oorwinning het hulle te danke aan André Pretorius se skopstewel wat musiek gemaak het vir die rugbyhonger Ellisparkse skare. Ek sien Bobby het gesê die spelers verkies die entoesiastiese Johannesburgers bo die kleinerige skares in Bloemfontein. Al wat ek kan sê is: Pasop, ou Bob! Daardie Bloemfonteiners vergewe nie maklik nie. Gaan vra maar vir David Kramer as jy my nie glo nie.

Vir die Katte lyk dit asof Big Joe en Pretoriussie besig is om hulle vorm te herwin. Die vaste voorspelers van die Cats lyk steeds vir my baie broos. Selfs met Jannes Labuschagne terug, wonder ek of hulle die mas gaan opkom teen die sterker Nieu-Seelandse voorosse.

Dieselfde vrese geld vir die Sharks, wat verlede week darem te maklik bes gegee het. André Snyman en Wylie Human moes die nasionale keurders se oog gevang het met hulle briljante stukkies individualisme. Gary Botha was ook puik.

Ek sien Rudolph Straeuli en sy beeldpoetser, Rudolph Lake, het hierdie naweek heelwat in Rapport te sê gehad. Dis die eerste keer dat Strooipop dit in die openbare oog waag nadat hy SA rugby terminaal gekwes op Twickenham agtergelaat het. Hy het heelwat te sê gehad oor hoe gesond SA rugby nou is en hoe goed Joost en sy Bulle nou weer speel. Hy’s natuurlik reg. Dit gaan goed aangesien hy nog nie weer veel met SA rugby te doene gehad het nie. Sy eksperimente met dartelende Bonsai-agterspelertjies en denkende voorspelertjies het klaaglik misluk. Punt. Die beproefde Blou Bul-patroon van sagmaak voor en reg skop agter is maar weer besig om te seëvier. En die teenwoordigheid van ’n dodelike stelskopper is nie meer onderhandelbaar nie.

’n Laaste voetnota: Die media berig dat die breintrust van SA krieket later hierdie week vergader om ’n post mortem oor die Wêreldbeker te hou. ’n Mooi benaming vir ’n groepie paloekas, is dit nie?


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.