Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die val van Louis Koen

Blou Bul Braampie

Dit wat ons almal gevrees het, het toe gebeur. Die val van Louis Koen het toe die Bokke se doppie geklink. Dis maklik om ná die tyd slim te wees, sal baie lesers seker sê, maar vergun my ’n uittreksel uit verlede week se Blou Bul Braampie (nogal my slotwoord): “Hougaard is ’n moet vir my beginspan. Begin Strooihalm met Koen, kan dinge lol. In daardie geval verwag ek dat die Bokke met 15 punte gaan verloor.”

Die vermetele afrigter van die Bokke se agterlyn, Rudy Joubert, lewer na die wedstryd ’n pleidooi dat Koen nie gekruisig moet word nie. Ek stem saam. Dis Joubert wat die blaam vir die pak slae moet dra en dis Joubert wat op die eerste vliegtuig huis toe moes gewees het. Vir nege maande misken hy nou al die grootste rugbytalent wat hierdie land gesien het sedert Naas Botha - Derick Hougaard. Hierdie ondermyning van ware talent moet nou stopgesit word!

Die geveg teen die Ingelse is geskiedenis. Ons het verloor en nou lê die veldslag voor. Teen die All Blacks, sê jy. Alles behalwe, sê ek. Die manne van Samoa gaan ons klippe laat kou. Onthou, hierdie ouens kom uit ’n land uit waar rooivleis ’n heeltemal ander betekenis het as wat dit vir Checkers het. Anders gestel, hulle sal die Bokke lewendig opvreet vir ’n plek in die kwarteindronde. Daardie Samoaanse krygers word nie verniet koppesnellers genoem nie. Hulle vernietigende hoogvatte is ’n verskynsel wat nog glad nie uitgesterf het nie en ’n rooi kaart sal maar skrale troos bring as ons een van die Bokke se angels moet verloor. Onthou hoe amper het een van hierdie laat hoogvatte vir André Joubert uit die Wêreldbeker uitgehaal in 1995.

Hoe meer ek die koerante oor Saterdag se wedstryd lees, hoe meer dink ek aan die rekord van die Suid-Afrikaanse boksers die afgelope paar dekades. Hoeveel kere het kommentators soos oorle Gerhard Viviers ons wysgemaak dat ons held die opponent papgeslaan het, net om later te verneem dat hy maar weer sleg met punte verloor het. Kyk, die Bokke het dapper omgekom, maar verloor is verloor. Die 53-3-oorwinning wat die Ingelse verlede jaar teen 14 Bokke behaal het, verskil nie veel van die 25-6 teen 15 Bokke nie.

Al die ligpunte bly maar ’n skrale troos. Die formidabele verdedigingspatroon wat Ray Mordt saamgestel het en die feit dat die Ingelse nie ’n enkele rolmaalbeweging suksesvol kon uitvoer nie, is wonderlik, maar dis alles deur een afgestormde skop ongedaan gemaak. Ek hoor Rudy Joubert loop en verkondig dat Koen baie beter as Hougaard in die oefeninge skop, maar as die vlae van die grensregters nie in die wedstryde opgaan nie, bly ’n goeie oefenrekord net ’n aangename gedagte.

Die uurglas is besig om leeg te loop vir ons agbare Springbokafrigter, Rudolf Strooihalm. Aan die een kant voel ek jammer vir hom, want met ’n rustydtelling van 6-6 was ’n oorwinning heeltemal binne sy bereik. As hy Hougaard na rustyd opgestuur het met die instruksie om die bal wyd te speel, was die Ingelse op die krytvloer. Toe hy egter sy ore aan Rudy Joubert uitleen en Koen op die veld hou, was sy doppie geklink. Dit bly steeds vir my vreemd dat Krige nie op die veld instruksies gegee het dat die bal wyer gedra moet word nie. Dit was tog kort na rustyd duidelik dat die Ingelse se kruisverdediging sukkel om by te hou. Joe van Niekerk en Juan Smit moes meer aanvalle op die Poms se middelveld geloods het.

Alles is egter nog nie verlore nie; inteendeel, die All Blacks sal twee keer oor spankeuses dink as hulle die video van die Bokke se wedstryd kyk. Die Bokke se vaste vyf het kookwater gelyk. Ploeg hulle met Samoa se voorspelers, soos wat ek te wagte is, gaan die All Blacks brul. Ek glo dieselfde wedstrydplan waarmee die Ingelse amper getroef is, kan die All Blacks nog meer hoofbrekens besorg, mits dit met baie meer professionaliteit uitgevoer word. Die bewerings dat Carlos Spencer nie kan raakskop as die oomblik groot is nie, is ’n wolhaarstorie. Hy is en bly die gevaarlikste aanvallende losskakel in wêreldrugby vandag. Een of twee skewe skoppe gaan niks daaran verander nie.

Die wedstryd teen Georgië is op sig net ’n formaliteit. Die Bokke moet net pasop dat hierdie nasate van Simson nie te veel pasiënte agterlaat nie. Die bietjie wat ek van hulle gesien het, dui daarop dat hulle definitief nog nie geweld afgesweer het nie.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.