Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Dié kant en daai kant*

JP du Toit

“Kruis of munt?” lui die vraag voor die wedstryd begin. En hoewel die besluit in die hande van die noodlot oorgelaat word, kan die uitslag van die munt se val ’n verreikende gevolg op die verloop van die wedstryd hê. In die openingswedstryd wou Polly glo eerste kolf. Madiba het gesê ons moet boul. Ons sal nie weet of dinge anders sou gewees het nie, maar ons sal altyd bly spekuleer. Die muntstuk het twee sye. Net soos baie ander aspekte van die spel.


Die openingseremonie

Dit was ’n groot gedoente. Daar was baie bemarking. Van die spel, van plaaslike talent en van ons land.

Dié kant: Ongelooflik baie mense was betrokke — die oorgrote meerderheid was vrywillige deelnemers. Dit was local en dit was lekker. Van die kostuums wat in die townships vervaardig was, tot die kindertjies wat so hier-en-daar in ’n verkeerde rigting gehol het. Miskien sou dit meer klinies en professioneel gelyk het as daar meer lasers en gadgets was.

Daai kant: Suid-Afrika se trots lê in haar mense en hulle entoesiasme — vir my was dit puik gepersonifieer in die seremonie. Ons sou miskien ’n meer afgeronde vertoning kon opdis as ons van minder optreders gebruik gemaak het, of as meer tegnologie ingespan was. Maar dit sou hoogverraad wees.


Suid-Afrika teen Wes-Indië

Miskien nie ’n droomuitslag nie, maar wel ’n droomwedstryd.

Dié kant: As ons maar net die loot gewen en eerste gekolf het … Polly kon die boulers beter ingespan het ... Ons moes nie die druk laat verslap het nie ... Kallis kon net sowel daardie vangskoot benuttig het ... As Gary Kirsten maar net ingestap het saam met die bouler … Kon die boys nie maar vinniger deur die boulbeurte gekom het nie?

Daai kant: Ja, baie dinge kon anders gewees het: Ons kon gewen het omdat die skeidsregters baie meer vrygewig was wanneer ons boys wydlopers geboul het. Of wanneer die opposisiekolwers uitgegee was sonder dat hulle kolf die bal geraak het. Maar sou ons dan met ’n geruste hart kon slaap? Ons kon wel vir ’n gunstige uitslag gevra het, maar nie vir ’n beter openingswedstryd tot die 2003-WB nie. Dit was ’n plesier om te sien hoe ons boys hulle beste op die dag gelewer het, net soos wat dit ’n plesier was om te sien hoe een van die beste kolwers in die wêreld sy brood verdien, net soos wat dit ’n plesier was om te sien hoe ’n impi se gevegslus aangewakker word.


Kommentators

Tot watter mate moet die kommentator subjektief betrokke wees in die spel, en tot watter mate moet daar ’n volwasse “onbetrokkenheid” wees? Tot watter mate is die kommentator ’n speler, ’n kritikus, ’n toeskouer, ’n ondersteuner, ’n puris, ’n vaandeldraer of ’n gefrustreerde middeljarige man? Word hierdie ouens ooit getoets vir verbode middels? Sluit hierdie middels ook whiskey in?

Dié kant: Jong kommentators kan vars insae lewer. Ouens soos Aamir Sohail, Iain Healy en Fanie de Villiers kan vertel hoe hulle spanmaats en opponente tans vaar, maar hulle kan ook maklik beïnvloed word deur ou emosionele bagasie. Tot watter mate, byvoorbeeld, was Kepler Wessels as kommentator onpartydig oor Hansie Cronjè se kapteinskap? EN: Is dit nódig om onpartydig te wees?

Daai kant: Meer ervare kommentators, soos Robin Jackman, Lee Irvine en Tony Greig kan teoreties meer objektief wees, maar raak hulle nie ’n bietjie te verwyderd van wat tans gebeur nie?

Natuurlik is daar nie eenvoudige antwoorde nie, maar hierdie vrae laat my wonder. Elke ou het seker maar sy idee van wat van ’n kommentator ’n goeie een maak, tog voel ek dat ’n paar dinge wat in die openingswedstryd kwytgeraak is, teen die etiek van krieketkommentaar indruis:

“Die Meksikaanse golf: mens sou kon dink dat hulle al aan iets anders kon dink teen die tyd … Dit het hulle elf jaar geneem om dit te bemeester …” Soos sekere TV-aanbieders, het ’n Australiese kommentator gebruik gemaak van die taktiek om ander te verkleineer ten einde vir die wêreld te wys hoeveel langer sy eie krieketkolf is. Net omdat julle ondersteuners altyd hoede en sonskerm dra en nie golwe maak nie, beteken dit nie dat ons ondersteuners ongeskool is nie.

“Wes-Indië was ook 161 vir 3 een keer teen Australië, maar ons het vinnig ’n kolfineenstorting bewerkstellig en hulle sodoende geklop …” Dit mag miskien waar wees, maar wat het dit met hierdie wedstryd te doen? As mens na argiefmateriaal en ou statistieke in isolasie kyk, behoort Colin Bland in Harvey se plek te speel.


Die 2003-WB, Week 1 Vasvra

Toets jou kennis van die eerste paar dae van die WB se gebeurtenisse deur die volgende veelvuldigekeuse-vrae so eerlik moontlik te beantwoord:

1. Die term “middel-orde” verwys na:

dié kant: die netheid van die kolfblad
daai kant: die ouens wat tussen die openings- en stertkantkolwers kolf.

2. ’n “Rolmodel” is ‘n … :

dié kant: prominente figuur wat ’n voorbeeld vir jong geesdriftiges stel
daai kant: model wat dronk rondrol.

3. “Verbode middels” … :

dié kant: die paaltjies wat aan óf die wegkant, óf die bykant gebruik moet word
daai kant: dwelmmiddels wat nie deur sportlui gebruik mag word nie.

4. Sonder Brian Lara … :

dié kant: sou Wes-Indië tweede gekom het in die openingswedstryd
daai kant: sou die ander Wes-Indiese spelers harder aan hulle eie spel gewerk het.

5. Shane Warne is ‘n … :

dié kant: klein pes, maar tog ’n krieketlegende
daai kant: krieketlegende, maar tog ’n klein pes.

6. Die wêreld se beste krieketskeidsregter is:

dié kant: oom Rudi
daai kant: oom Rudi.

7. Die Holland-Indië-wedstryd was … :

dié kant: ’n “reminder” dat krieket maar ’n “Fanie old game” is
daai kant: ’n teken dat die ghielemientjie-spanne verdien om in die WB te speel.

8. In Australië se openingswedstryd teen Pakistan kon ons sien dat … :

dié kant: hierdie ouens nou maar net eenmaal baie gevaarlik is
daai kant: hierdie ouens wel kwesbaar is.

9. “Mph” verwys na … :

dié kant: Australiese kommentators se onvermoë om die desimale stelsel te begryp
daai kant: mylpaal-houer.

10. Die ikon van die week is:

diekant: Lance Klusener, ten spyte van die resultaat
daai kant: Andrew Symmonds, juis oor die resultaat
anderkant: Marc Lottering, maar nie net oor sy haarstyl nie
duskant: Lee Irvine, vaandeldraer van die gees van die “gentleman’s game”
onderkant: mnr CB Wishart, wat gewys het mens kan krieket speel ten spyte van …
bokant: Madiba, oor daardie hoendervleiswekkende advertensie.

Nou ja, dis dan die beurt. Hou die kolf mooi regop en bly in lyn met die bal.


* JP du Toit is die enigste wegbreekbouler wat van ’n stadiger aflewering gebruik maak. Sy talent was reeds sigbaar toe hy die Laerskool George Suid se onder 11 C span gelei het tot ’n oorwinning oor die onder 11 A span. Opposisie reken hy is onspeelbaar in sy eie agterplaas. As hy nie besig is om krieket te kyk, te speel, of te skryf nie, wen hy graag die Lotto.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.