Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Derick Hougaard is ’n miskende wonderkind

Blou Bul Braampie

Daar loop hierdie week baie benoude boude in die Springbokkamp rond. Daaroor het ek geen twyfel nie. Die video’s wat van die tuisfront af aankom, sal ’n duidelike boodskap bring: daar is baie honger spelers by die huis wat aan die deur klop om Wêreldbeker toe te gaan. Nommer een op die lysie is die miskende wonderkind, Derick Hougaard. Sonder om weer my eie beul te blaas, wil ek tog die lesers na verlede week se Blou Bul Braampie verwys waarin ek Hougaard se talente besing het. Wel, die David Beckham van rugby, soos ek hom gedoop het, het my nie gedrop nie. As Rudy Joubert na verlede naweek se slagting op Loftus nog nie kan aanvaar dat Hougaard die talentvolste jong losskakel in wêreldrugby is nie, is hy ver heen.

Hougaard was egter nie al wie blink vertoon het nie. Die losvoorspelers van die Blou Bulle was uitmuntend. So ook Pietie Ferreira. As ek vandag ’n drietal losvoorspelers moes kies om die Engelse drietal met Delaglio aan die spits op 18 Oktober in Perth van die doellyn moet weghou, kies ek Leonard, Wasserman en Ferreira. Danie Rossouw was ook uitmuntend. So ook Albert van den Bergh van die Sharks.

Op senter het Dries Scholz se vrot vertoning teen die Vrystaat darem gestaaf hoekom ons agbare afrigter, Rudolf Strooihalm hom nie wou saamvat op die toer na Aus-NZ. JP du Toit was skitterend. Hy het kringe op Scholz gehardloop. Mauger sou dieselfde gedoen het. Scholz se weglating is ongelukkig een van die min dinge wat Mnr. Strooihalm al vanjaar reg gedoen het.

Waar ek tot dusvêr nogal empatie met die keurders gevoel het en hulle wye spankeuses verdedig het, is my geduld, soos die res van die volk, besig om op te raak. Eerstens kies hulle Gus Theron vir hierdie krities-belangrike toer ten spyte van die feit dat Theron kwaai uitgesak het in die Supertwaalf. As hulle meer veggees in die agterlyn wou gehad het, is Anton Pitout tog die logiese keuse. Theron is op sy beste ’n Woensdagspringbok. Daarteenoor bied Jorrie Muller darem die spoed waaroor Scholz nie beskik nie. Ek dink Jorrie gaan goed vaar.

Boonop blyk dit nou dat Selborne Boome vir Bakkies Botha gaan vervang — dit glo om meer beweeglikheid aan die pak te verleen. Ek is sprakeloos. Minder as twee weke gelede het dieselfde Strooihalm vir Bakkies geloof vir sy onverskrokke voorspelerspel teen dieselfde Wallabies. Nou is Botha nie meer goed genoeg nie. Dit klink vir my na ’n akute geval van geheueverlies.

Ek was nogal verbaas om op Boots en All te sien dat Joe van Niekerk die volk inlig dat hy definitief Saterdag die toets as flank gaan begin. Die feit dat hy die aankondiging self maak, nogal drie dae vor die amptelike aankondiging van die span, duid aarop dat die spandissipline nie na wense is nie. Dalk is dit juis ’n teken van die groot dosis integriteit wat SA rugby kortkom.

Dit is dieselfde soort integriteit wat vroeg verlede week op die spel was toe meneer Strooihalm vir Heyneke Meyer laat weet het dat hy twee Springbokke vir hom beskikbaar stel vir sy belangrike Curriebekerwedstryd teen WP. Die meeste afrigters in Suid-Afrika sou Geo Cronjé en Pedrie Wannenburg met ope arms ontvang het. Meyer, wat reeds sy span vir die wedstryd aangewys het, het volstaan by sy spankeuse. Die vertroue wat hy in sy spelers gestel het, het vrugte afgewerp want die Bulle het met die WP geploeg. Dit het ook glad nie as ’n verrassing gekom toe die handpop van SA rugby, ene Gideon Sam, die Bulle gekritiseer het vir Meyer se besluit nie. Gelukkig steur niemand hulle aan Mnr Sam nie. Allermins die befoeterde Bulle.

Ek weet dit is al teen hierdie tyd ’n bul van ’n cliché maar ek gebruik dit maar weer. Die Springbokke se uur van waarheid het aangebreek. Never mind die ou storie van die kruispad. Die krisis is veel groter. Die wind het gedraai en daar is ’n moerse gat in die skuit. Die volgende agt dae sal bepaal of Springbokrugby nog ’n faktor in wêreldrugby gaan wees.

Daar is al hoe meer tekens in die media dat die Sraeuli-regime se genadebrood besig is om op te raak. So skryf ’n pittige sake-joernalis hierdie week dat ABSA ’n Straeuli gedoen het oor die Internetbedrogskandaal Hy verduidelik dit as ’n aggressiewe teenreaksie asook gedrag wat ’n mens aan ’n dronk hoender laat dink. ’n Gesaghebbende rugbywebwerf beskryf Straeuli se uitsprake as “flowery clichés and mystifying mumblings.”

Intussen lê die uitvoerende hoof van SA rugby, ene Rian Oberholzer, so laag dat ek al begin wonder het of ’n mens nie ’n noodberig vir hom oor RSG moet laat uitsaai nie. Maar, soos almal weet, laaglê is maar net een manier om jou verantwoordelikhede te ontduik. Dit lyk vir my mos al of die kaptein van hierdie skip, met ’n skemerkelkie in die hand, op die wal staan en kyk hoe die skip sink.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.