Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Laaste gooi van die dobbelsteen

Blou Bul Braampie

Met nuwe spelers wat nog weekliks by die Springbok-oefenkamp betrek word, lyk ons agbare afrigter, Rudolf Strooihalm, se boeke duister. Toe Robbie Kempson seerkry, word Fourie du Preez huis toe gestuur. Skynbaar het Strooihalm toe skielik nog ’n stut nodig. Die beseerde Jean de Villiers, ’n agterspeler, word deur die woelige Kleinschalk Burger — losvoorspeler — vervang. Wie het gesê Strooihalm kan nie lateraal dink nie?

Toe ek Saterdagaand die rugbyprofeet Nico Jordaan gelukwens nadat hy vir die soveelste keer hierdie seisoen al die naweek se uitslae reg voorspel het, gooi ek op die ingewing van die oomblik ’n klip in die bos. “Dink jy Strooihalm gaan vir Kleinschalk as wilde kaart vir die Wêreldbeker kies?” vra ek stuitig. “Nee,” antwoord die profeet nors. “Hy sal dit darem nie doen nie.”

Maandag bel ek hom breëbors terug. “Ek het jou gesê,” terg ek. Hy antwoord nie. Al wat ek hoor is ’n sug.

Seun van Grootschalk ofte not. Die All Blacks se spogflank, Richie McCaw, sal die jong Burger voor brekfis lewendig opvreet en dan sy naam na Richie McJaw verander, om nie eens van oom Lawrence Delaglio te praat nie. Die man het nou die dag nog aan al Engeland se beste heuningkoeke gesuig. Hoe gaan die jong Burger teen so ’n maaifoedie staande bly? “Dalk gaan Strooihalm hom as impakspeler gebruik,” pols ek vir Nico. “Of as impakslagoffer,” kap hy terug.

Ek dink Strooihalm se span is ’n uitgemaakte saak. Dis net oor Lukas van Biljon wat daar nog onsekerheid bestaan. Ek weet nie hoekom is Strooihalm en sy skynheilige keurkomitee so bekommerd oor die spelers se privaatlewens nie. Wat is rugby anders as georganiseerde geweld? En hoekom kan ’n speler nou nie eers meer ’n geveggie of twee in ’n nagklub gaan opbreek nie? As Bob Skinstad dit doen, is dit broederliefde, en as James Dalton dit doen, is dit kattekwaad. Skeer Lukas oor dieselfde kam, sê ek.

Strooihalm het ook glad nie drie hakers nodig nie. Richard Bands het die beste deel van sy loopbaan as haker opgedraf. Kies Lukas en Danie Coetzee en laat Bands uithelp as daar fout kom. As die skynheiliges dan nie vir Lukas wil kies nie, moet die Bulle se Gary Botha die logiese keuse wees. Hy het kookwaterrugby vir die Sharks in die Supertwaalf gespeel. Ek weet nie hoekom Strooihalm so behep is met John Smit nie. Smit het vanjaar nog feitlik geen rugby gespeel nie. Met sy beseringsrekord sal hy sommer vroeg-vroeg uit die prentjie uit wees. As ek soveel probleme as Strooihalm gehad het, sou ek weggebly het van al hierdie ambulansgevalle.

Ten spyte daarvan dat die keurders wyd gekies het, glo ek ’n paar verdienstelike kandidate moes ook nou by die oefenkamp gewees het. Die losvoorspelers pla my die meeste. Gerhard Vosloo (Pumas), Johan Wasserman (Bulle) en Nico Breedt (Cheetahs) lyk na ysters wat ons dalk teen die Engelse se Hill en Back mag nodig kry. Juan Smit en Big Joe het weliswaar goed teen die All Blacks gevaar, maar of hulle die meedoënlose, onophoudelike dryfbewegings van die Bleekbene sal kan stuit, sal nog gesien moet word. Neil Powell lyk week na week na ’n skrumskakel wat op internasionale vlak sy man sal kan staan.

Vir Strooihalm het die laaste gooi van die dobbelsteen aangebreek. Om ’n foto te neem van al die spelers, afrigters, konsultante, kenners en video-analiste wat hy sedert die ramp by Twickenham in diens gehad het, sal daar met ’n wyehoeklens vanuit ’n helikopter gewerk moet word. Of dit die regte ding was of nie, is egter nie meer ter sake nie. Die slag is gelewer. Van hier af sal sy taktiese denkers by die spindokters moet oorneem. Net goeie uitslae sal verseker dat hy nog aanstaande Januarie in die saal is.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.