Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kop hou, Bulls!

Blou Bul Braampie

Pretorianers was Saterdagaand stomgeslaan na die Bulls se briljante oorwinning teen die Crusaders. Die span se asemrowende gedaanteverwisseling het vriend en vyand se asems weggeslaan. Hoe is dit moontlik dat die ploeteraars van die reeks skielik die voorlopers kon vernietig? En die Crusaders is vernietig, glo vir my.

My vriend Gerhard Smal se versoek dat ek my mening oor die Bulls se puik oorwinning moet gee, kom nie onverwags nie. Ek was tot dusver baie krities oor die Bulls se gesukkel. Dit het my in goeie geselskap geplaas, want die Bulls kon in die eerste gedeelte van die reeks net mooi niks reg doen nie. Teen die Crusaders het alles egter net in plek geval. Die Bulls se spelontleders het die Crusaders se aanvalspatrone korrek ontleed en met redelike gemak ontlont. Boonop het die besering van McCaw die besoekers se ritme vroeg in die wedstryd verbreek. Ek moet egter dadelik byvoeg dat die Bulls op die oorlogspad was en dat die teenwoordigheid van McCaw nie veel sou gehelp het om die voorspelergolf waarmee die Bulls vorendag gekom het, te stuit nie.

Vrydagaand se wedstryd ten die Queensland Reds is omtrent die beste waarvoor die Bulls kon hoop. Hoewel die Reds die Stormers goed besig gehou het, dink ek die Bulls het voorlangs te veel skietgoed vir die Aussies. Die Bulls sal net moet waak dat hulle nie balle in die kele van Latham en Sailor af skop nie. Die Reds se krag lê in die agterste driehoek. Hulle aanvalle is nooit haaks en voorspelbaar soos dié van die Crusaders nie. Daar word van langer aangeë en onverwagte hoeke gebruik gemaak. Dit beteken dat die Bulls se verdedigingspatrone berekend in plek sal moet beweeg as daar wel ‘n aanval uit die agterste geledere ontketen word. Onthou, dit was die Bulls se probleem in baie van sy vorige wedstryde.

Ek is dankbaar om te sien dat Heyneke Meyer gesê het dat dit nie ‘n maklike wedstryd gaan wees nie. ‘n Oormaat selfvertroue is op hierdie stadium die Bulls se grootste vyand. Dan moet ook in gedagte gehou word dat die Bulls nie goeie aandspelers is nie. Die Bulls sal moet kop hou.

Die Stormers is die span met die moeilikste taak dié naweek. Ook hulle sukkel om aan die gang te kom. Boonop behoort die Crusaders na hulle skoknederlaag teen die Bulls met meer doelgerigtheid vir die Kaapse trots te kom. Indien die Stormers op volle sterkte was, sou ek nie getwyfel het dat hulle met hand en tand vir die besoekers sou gaan nie. Met al die beserings van die Stormers het die skaal beslis in die besoekers se guns geswaai. Gert Smal is egter ‘n ou jakkals. As daar een ou is wat die Bulls dit kan nadoen, is dit Smal. Kom ons hoop die Stormers bou voort op die Bulls se wedstrydplan.

Die Cats het na hulle vlieënde begin in die ongeluksvoëls van die reeks ontpop. Hulle kon al weer gewen het as onbekwame skeidsregters en ontoereikende verdediging hulle nie gekelder het nie. Die Chiefs is op hulle tuisveld ontembaar. Tog dink ek dat die Cats genoeg talent het om te wen, mits hulle die tuisspan se held, Sione Lauaki, hokslaan. Lauaki is nie verniet na agtsteman verskuif nie. Saam met die uitgeslape Byron Keleher kan hulle die spil wees waarom die Chiefs se aanvalle draai.

Die Sharks meet kragte teen die Blues. Albei spanne se verdediging is verdag. Die Haaie sal die Blues se blitsige agterlyn moet tem as hulle seggenskap in die wedstryd wil hê. Die oplossing vir die Sharks se probleme lê voorlangs. As John Smit sy pak onder ‘n kombers hou, kan hulle die Blues se pak, wat geneig is om uit te rafel, onder genoeg druk plaas om die tuisspan se agterlyn te neutraliseer.

Was dit nie vir die baie beserings by die Stormers nie, was die moontlikheid van vier Suid-Afrikaanse oorwinnings nie uitgesluit nie. Ek maak dié wilde stelling op grond van die sielkundige impak wat die Bulls se verpletterende oorwinning op die gees van ons spanne moes gehad het.



LitNet: 14 April 2005

Wil jy reageer op hierdie inligting? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.