Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Jake se geluk gaan hou teen Ierland

Blou Bul Braampie

Toe kom die Bokke se wiele sommer met die intrapslag amper af. Wie sou nou kon raai dat die hoogsgemiddelde Wallis-spannetjie die flairvolle Bokke so sou laat skrik? Wie sou ooit kon dink dat 'n Springbokvoorry uit Os du Randt, Hanyane Shimange en John Smit sou bestaan? Die werklikheid is sekerlik snaakser as fiksie.

Maar nog is 't einde niet. Berigte uit Ierland weet te vertel dat Jean de Villiers dalk Saterdag op losskakel vir die Bokke mag uitdraf. Nou toe nou. Wanneer laas het die knaap losskakel gespeel? In standerd sewe dalk? Of in 'n koshuiswedstryd by Maties? Wil iemand nie dalk net vir White vertel wat met die Bokke se wedstryd teen die '74-Leeus gebeur het toe 'n jong belowende Vrystaatse agtsteman, Gerrie Sonnekus, op skrumskakel gekies is nie? Benewens die loesing wat die Bokke gekry het, is Sonnekus se loopbaan dié dag ernstig geknou. Ek hoop nie Jake dobbel met die jongeling se loopbaan nie. De Villiers kan met die 2007-Wêreldbeker een van ons angels wees, mits hy nie vir die wolwe gegooi word nie.

Dit lyk al meer vir my asof Jake iewers in 'n vat Ierse whiskey beland het, of was dit dalk Guiness? Die arme ou se katrol is definitief nie meer aan sy stok vas nie. Met meer as tien vlugte per dag tussen Suid-Afrika en Londen moes Derek Hougaard lankal by die span aangesluit het, of Nel Fourie, of Morné Steyn, of Conrad Barnard of ... of ... Dit lyk my of Jake banger vir die Bulle is as 'n toeris wat in Pampelona tydens die stormloop geval het. 'n Fobie vir Blou, of so iets, en dis so onnodig. 'n In-vorm Hougaard sou saam met sy gereelde provinsiale skakelmaat, Fourie du Preez, aan White 'n waterdigte versekeringspolis bied. En om by Naas aan te sluit: in die trietsige Britse weer wil jy net in jou opponente se halfgebied speel en dit is juis dit wat Hougaard so waardevol maak.

Dit het ook tyd geword dat iemand vir die Wit Valk die reëls verduidelik. Dit lyk vir my net 'n kwessie van tyd voordat 'n rooi kaart weer in sy rigting gewys word. Die gevaar is dat ons kort voor lank met 'n rooivalk opgeskeep gaan sit. Op Twickenham kan so iets die Bokke ernstig knou. Ek dink hy was Saterdag effe ongelukkig om sou gou te stap. Aan die ander kant laat hy my dink aan 'n openingskolwer wat die hele tyd sy kolf buite die wegpen uithang en dan verbaas is as hy aan 'n wegswaaier raak. Kom Schalkman. Jou pa het met die André Watson-debakel vir ons gesê jy is 'n sensitiewe seun. Dit is nou tyd om dit te bewys voordat die mense dalk dink die nare oom Koos Basson was dalk reg.

'n Ander talentvolle outjie wat my glad nie beïndruk het nie, is die hoogsbekroonde Joe van Niekerk. As die Bok-voorspelers die oorhand het, hardloop Groot Joe soos 'n ribbok op die rante rond, maar toe die pak van Wallis begin dryf, toe staan hy maar weer en kyk soos 'n ou tante by 'n woelige krimpelien-uitverkoping. Nee, wat. Ek dink ou Joe is 'n lummel wat net kleintjies kan boelie. In die Curriebekerreeks het hy sleg afgesteek teen manne soos Wickus van Heerden, Jacques Cronjé en Hendro Scholz.

So wat gaan Saterdag gebeur? Ek dink Jake se geluk gaan hou. Die Iere het in Suid-Afrika gewys dat hulle verdediging maar broos is. Ek dink die Bokke gaan vyftig persent beter speel en met tien punte wen. Speel Jean de Villiers egter losskakel, kan Pagel se sirkus dalk net die dorp oorneem.



LitNet: 12 November 2004

Wil jy reageer op hierdie inligting? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.