Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor vrot refs, virtuele onkantlyne en baie bloeddrukpille

Blou Bul Braampie

Die verkope van bloeddrukpille aan rugbyliefhebbers het die naweek weer die hoogtes ingeskiet. Ek moes self my dosis ’n paar keer verdubbel om nog ’n traumatiese rugbynaweek te verwerk. Ek weet nie wie my die kwaadste gehad het nie: die vrot refs of die flou Bulle. Fanie Vermaak van die Pumas se beroep om die aanstelling van ’n ombudsman om met swak skeidsregterbeslissings te handel, het omtrent die klomp stiksiendes laat rooi sien. (Dis ook al wat hulle gesien het.) Intussen stry Katzenellenbogen en sy trawante soos gewoonlik meedoënloos dat hulle beslissings reg was. Om hulle punt te staaf, beroep hulle hulle dan op hulle assessors wat hulle vertel het hoe goed hulle geblaas het, ten spyte daarvan dat videogetuienis die een blatante fout na die ander uitwys.

Ek weet regtig nie hoe SA Rugby van hierdie skeidsregterskliek ontslae gaan raak nie. Hulle laat die Broederbond na ’n klomp laerskoolprefekte lyk en vee hulle af aan enige vorm van kritiek. Die oplossing lê waarskynlik in inligtingstegnologie met mikroskyfies in die skoene van die spelers en virtuele onkantlyne op die speelveld. Die wedstryde sal waarskynlik drie uur of langer duur, maar die uitslae van wedstryde sal verantwoordbaar wees. Nie soos nou, waar die spelers Lotto teen die ref se fluitjie speel nie.

So wat het die naweek gepla?

Wel, om mee te begin: Katzenellenbogen se blatante ignorering van Krige se onkantspel in die doodsnikke van die wedstryd. Aangesien die insident voor sy oë afgespeel het, sal die rede vir die flater nooit werklik ontrafel word nie. Die feit dat WP in die laaste paar minute besonder roekeloos, of was dit desperaat, met die reëls omgegaan het, ly min twyfel. Die Krige-insident was nie die enigste skynbare oortreding wat ongestraf deurgelaat is nie. Die WP-voorspelers het myns insiens versuim om tydens die losskrums op hulle voete te bly. Indien daar wel ’n skeidsregterskomitee is wat erns het met die beoordeling van skeidsregters, behoort die video van die laaste paar minute se spel vir hulle ontstellende kykstof te wees. Dis opmerklik dat dit altyd dieselfde bonde is wat begunstig/benadeel word.

Jonathan Kaplan het ook nie ’n gelukkige wedstryd gehad nie. Behalwe dat die Griekwas hom wou kruisig oor ’n flank wat iewers in die doodsnikke ongestraf van ’n skrum af weggebreek het, wonder ek nou nog hoekom die laaste strafskop nie ’n strafdrie was nie. Hy het tog die Griekwas-speler vir ’n professionele oortreding gestraf. Waar was die gepaardgaande rooi kaart en strafdrie?

Tappe had ook maar plek-plek gegly, hoewel hy minder kontroversie ontlok het. Die sagmoedige André Vos het nie aldag geweet waar hy met Henning staan nie. Die ooglopende obstruksie op jong Jaques Fourie net voor Friedrich Lombard se drie het ook ongestraf deurgegaan. Die blitsige Henning was by die spel. Tog is die oortreding nie deur hom of sy grensregter opgemerk nie. Gelukkig vir Henning het Vrystaat se Kennedy weer oorgevat en die Leeus met behulp van sewe kookwatervoorspelers en ’n gewillige Os kafgedraf. Dit sou vermetel van Vos gewees het om oor die skeidsregter te kla nadat die Vrystaters sy span so oortuigend uitoorlê het.

Van uitoorlê gepraat: dis seker nie toevallig dat ’n speler wat in die skaduwee van Buurman van Zyl geleer het, nou die mees gevreesde afrigter in die Curriebeker is nie. Mooi so, Peet Kleynhans. Almal wat jou van jou Pretoria Bobbies-dae af ken, is trots op jou. Ek inkluis.

Soos sake nou staan, verdien Mark Lawrence en Henning om volgende jaar by die Wêreldbeker te gaan fluitjie blaas. Veral Lawrence verbeter elke wedstryd, en sy bedaarde veldkommunikasie is ’n voorbeeld vir die klomp sammajore wat tydig en ontydig bevele op die veld staan en uitskree.

Die Blou Bulle se amperse ondergang kan egter nie voor Kaplan se deur gevee word nie. Weer eens het die Bulle doelloos voortgeploeter teen ’n span wat hulle met 30 punte moes gelooi het. As die Bulle nie hulle taktiek drasties in oënskou neem nie, gaan die Valke hulle Vrydagaand ’n dekselse pak slae gee. Die Valke speel juis dieselfde verbeeldinglose rugby as die Bulle, met een verskil: hulle senters kan die gapings vind. Ek hoop van harte Heynecke Meyer sien die lig en besluit op ’n meer mobiele aanvalsplan teen die Oos-Randers. Hou hulle by hulle “donder voort”-taktiek, kan hulle dalk net teen die afgrond afvoeter.

My simpatie lê by die WP wat hulle hele arsenaal sterre op die krukkelys het. My vraag is: waar is al die talent wat jaarliks na Maties toe stroom? Dit is sekerlik nie moontlik dat hulle almal besig is om te studeer nie. Aan die ander kant is die Engelse boeke wat deesdae voorgeskryf word, nie speletjies nie.

Aan die ou wat talent soos Brent Russell en Derek Hougaardt misgekyk het en toe maar ’n mindere belegging op Swys Swart gewaag het: moenie sleg voel nie — vier platemaatskappye het die Beatles weggewys!

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.