Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor die jong Skinstad, Jo’burg se nagklubs en die Titanic

Blou Bul Braampie

Ek het geweet Samoa gaan op sy mua kry toe ek in Beeld lees van die Bokke se geheime oefeninge. Wie se breinkind dit was, weet ek nie, maar die meesterplan om die Bokke in ’n paar van Jo’burg se berugste nagklubs vir die Drie Nasies-toernooi te laat voorberei, was ’n wenner.

Die toestande in die nagklubs stem feitlik volmaak ooreen met dit wat die Bokke in Australasië gaan teëkom — onverskrokke opponente (byvoorbeeld 49-jarige gewese kragbootjaers), vyandige toeskouers (uitsmyters wat nie WP-rugby goedgesind is nie), klam toestande (veral naby die kroegtoonbank) en smeulende lede van die vrouegeslag.

Die intense broederliefde wat tussen die Skinstad-broers opgemerk is, is laas geëwenaar toe die Broederbond nog bestaan het. Gelukkig was die Bokke se kaptein (Corné Krige) ook teenwoordig by die geheime oefening in die nagklub. Hy kon betyds vir Skinstad van sy bejaarde opponent aftrek; nie dat dit nodig was nie. Geel kaarte en rooi kaarte is lankal by die nagklubs in die Goudstad verbied.

Die gewese kragbootjaer het glo iets oor Bob se haarstyl te sê gehad en dit was een te veel vir die Skinstad-broederskap. Volgens ’n ooggetuie het Skinnas sy opponent pap geslaan. Aangesien die Bokke maar min slaankrag voorlangs het, was dit vir my ’n goeie teken. As ek in Dolfman se skoene was, sou ek definitief vir Dan Skinstad en Steve Hofmeyr as lede van my ondersteuningspersoneel saamgevat het. Die jonger Skinstad kan die tartwerk doen en Steve kan help slaan.

Die toets teen die Samoane het weer bewys dat die Bokke se verdediging nog nie heeltemal na wense is nie. Skinstad het ’n verspotmaklike doodvat gemis toe die Samoane hulle eerste drie aangeteken het terwyl die skakelpaar opsigtelik broos op die verdediging was. Teen die wêreld se beste aanvallende span, die Wallabies, kan dinge lelik skeefloop as daardie gate in die verdediging nie betyds toegestop word nie.

Matfield het weer bewys dat hy die voorste slot in die land is. Sy vermoë om die afskoppe en inskoppe te beheer, is onontbeerlik vir die strawwe Drie Nasies-toernooi. Hierdie aspek van die spel benodig tans Rudolf se onverdeelde persoonlike aandag. Hottie Louw is so gereeld in die agterlyn dat hy nie werklik as ’n slot geklassifiseer kan word nie. Ek is bevrees hy sal in Jan Tuisbly se karretjie moet ry wanneer die Bokke na Australasië vertrek. (Dit blyk toe profetiese woorde te wees.) Die giftige Bok-agterlyn wat deesdae op die veld draf, moet toegelaat word om hulle bewegings voluit uit te voer.

Werner Greeff lyk na die oplossing op heelagter. Hy is ’n uitmuntende footballer met die regte temperament. Brent Russell kan die laaste twintig minute van die wedstryd speelkans gegee word. Dit is dan wanneer sy kaperjolle die opponente onkant kan vang, maar beslis nie van die eerste afskop af nie. Begin Dolfman met Russell in die agterste vesting, hou hy dalk ook binnekort permanent op Hermanus vakansie.

Die spankeuse vir die Drie Nasies bly altyd ’n riller. Hierdie keer was geen uitsondering nie. Nadat Dolfman vir veertig dae en veertig nagte proewe gehou het, kies hy toe die spreekwoordelike “wild card” op flank. Hendro Scholtz is ’n lekker speler. Of hy genoeg spoed het om die terroriste van Doer Onder van die doellyn af weg te hou, sal nog gesien moet word. Scholtz lyk vir my té stadig vir die spelpatrone wat deesdae op internasionale vlak gehandhaaf word.

Noudat die Bokke hulle kontaksessies in die nagklubs afgesluit het, sal hulle baie aandag aan die reëlboek moet gee. Op die oomblik speel die voorspelers teen twee strafskoppe per man. Handhaaf hulle hierdie oortredingskoers, is ons bronsmedalje vir die toernooi gewaarborg.

’n Slotwoord: die meeste kommentators het soos die legendariese Ian McIntosh aangedui dat daar nuwe lewe in Suid-Afrikaanse rugby is. Hy spekuleer selfs dat die Bokke dalk moontlik die Drie Nasies-toernooi kan wen, hoewel hy dit nie uitdruklik sê nie. Na ons spanne se beroerde vertoning in die Supertwaalf is die uitspraak dalk ’n bietjie prematuur. Voorts lyk Brent Russell vir my alte veel na Leonardo di Caprio waar hy voor op die Titanic staan. Laat ons hoop dat die Bokke aan die einde van Julie soos die SA Agulhas triomfantelik na Suid-Afrika terugkeer.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.