Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Dik Dolf en die Flying Start

Blou Bul Braampie

Daar’s darem goeie nuus vir die land se rugbyfans nadat die plaaslike spanne bedroë moes toekyk hoe die Crusaders ’n voorspelbare oorwinning in die Supertwaalf-finaal behaal. Die goeie nuus? Wel, Dik Dolf stuur af op ’n flying start. Dit lyk glad nie of hy aan Supertwaalf-depressie ly nie en dit lyk ook glad nie of die reusetaak op sy skouers hom uit die slaap uit hou nie.

Oorle dr Andries Treurnicht het gesê ’n arend vang nie vlieë nie. Dis die attitude wat ek by Dolfie bespeur het. Hy het rustig vir Uli as spandokter en vertroueling nader getrek. Tim Lane bly die hulpafrigter en Keo die mediaskakel. Dolfie het hom nie by kontraktuele dispute laat insleep nie. Dit was duidelik dat hy sy eie praatwerk gaan doen, waar en wanneer hy wil. En ’n reminder wat selfs die grootste voorspeler se broek laat bewe het: “Ek praat nie met agente nie.” Hoe’s daai vir ’n stywe arm!

Die Sabbatsproewe wat Dolfie vir Bloubulland beding het, het meer beteken as enige van die Bulls se amper-oorwinnings of die klein Bulletjies se Vodacom-oorwinninkies. Die belangrikste impak van die proewe was egter die entoesiasme van die ouer garde. Ou toppies wat Springbokrugby saam met Bloubulrugby in ’n massagraf wou inspit, het skielik soos Lasarusse opgestaan en in ou Mercedesse Loftus toe gery. Klipdrift-asems het weer op die pawiljoene oor spanne begin stry en biltongverkope het skielik verdubbel.

Toe die proewe nog boonop die talente van Brent Russell ontgin (nadat hy die hele seisoen deur ene Heynecke Meyer misgekyk is), was die vet in die vuur. Dolfie is die nuwe Buurman van Zyl en basta!

Vir al die waarskuwings oor beserings het Dolfie ook nie geskrik nie. Kom hulle om, so kom hulle om. En behalwe vir De Wet Barry se eina het die meeste van die manne darem die bietjie kontakrugby oorleef.

Dolfie het, waarskynlik op aanbeveling van sy wyse ou vader, oom Hans, intussen aangekondig dat die span in die minder weelderige kwartiere by die Polisiekollege (in Pretoria, let wel) sal voorberei vir die toets in Bloemfontein. Wat goed genoeg is vir die Skerpioene is goed genoeg vir die Bokke … en die kakkerlakke. Verby is die dae toe die span in luuksueuse Kaapse hotelle saamtrek en hulle agterlynbewegings op waterponies oefen. Verby is die dae van Speedo-spanfoto’s en skrums wat per e-pos geoefen word. (Ek wonder wat het Harry se Bokke met al daardie skootrekenaars gedoen.)

Die Bokke is nie fiks genoeg nie, het Dolfie finaal uitspraak gegee oor ’n aspek wat ons almal al ’n hele paar jaar hinder. Bulte hardloop en regte skrums is hulle voorland. Ook om regte spelers te tackle en nie net om touch-rugby teen duiksakke te speel nie. (Sorry Harry.)

So wat is die bottom line? Wel, die bottom line is seker slegte nuus vir die Suide, maar kom ek is wreed eerlik met die Kapenaars. Suid-Afrikaanse rugby word weer deur die Noorde beheer. Nie deur Haailand nie. Dolfie het eintlik net vir Piesangland as ’n Trojaanse Haai gebruik. Van nou af is ons in beheer. Ou tradisionele boererugby tot die bloed uitkom.

Met Corné as kaptein (die troosprys wat ons vir die Suide aanbied), kan die spelstyl onmiddellik gunstige resultate oplewer. En met Beautiful Bobby op die bankie as impakspeler (dis presies wat hy is), kan Dolfie die Noorde en die Suide onder een kombers verenig.

Wat die primadonnaspelertjies daarvan gaan sê? Wel, as hulle in die Wêreldbekertoernooi wil speel, sal hulle maar soos die Romeine (ek bedoel Pretorianers) moet maak.

Hoe lyk die toekoms? In die taal van die legendariese oom Boy Louw: Daai Walsmanne gaan swaarkry in Bloemfontein. Ek glo ons sal al die klein vissies braai wat voor die Drienasies in ons pan beland. Of Adolf, ek bedoel Rudolph, se “back to the basics”-benadering genoeg gaan wees om die omgesukkelde All Blacks en die flairvolle Wallabies te stop, sal nog gesien moet word. Ek dink ons het ’n buitekans.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.