Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Op soek na Tafelberg (en 'n brokkie son)

Clinton V du Plessis

Dis Vrydag die dertiende.

Die vliegtuig kom vir my (en vir van die medepassasiers) te ongemaklik laag oor die see vanaf Valsbaai se kant in. Dit bly hang vir 'n oomblik - die water senutergend naby. Skielik is die water weg en flits woonstelle en plakkershutte onder my verby voordat ons die aanloopbaan tref.

Die weer in Kaapstad is - om dit nie te kras te stel nie - toeriste-onvriendelik.

Kry 'n minibus na die Waterfront - ek, die bestuurder en 'n Engelsman wat na die kantore van 'n bekende advertensie-agentskap in Groenpunt soek. Langs die pad vanaf die lughawe beset die veles onder plastiek, plank en plaat die beloofde land. (Is dit hulle wat uiteindelik die Wes-Kaap aan die ANC gelewer het? wonder ek.) 'n Stinkryk Amerikaner (ek dink dit was J Paul Getty) het wrang opgemerk: "The meek shall inherit the earth, but not the mineral rights." Verder aan ry ons verby 'n skool met die naam Eros en vurk die laan links in Vanguard Drive.

"Where is Table Mountain?" vra die Engelsman. "The last time I flew in it was dark," maak hy onmiddellik half verskoning vir 'n vraag wat uiteraard dom voorkom.

Die bestuurder beduie - die een voor ons is Duiwelspiek; Tafelberg, toe onder die mis, is in die middel; Leeukop is aan die regterkant en die heuwel hier heel ver regs is Signal Hill.

Ons laai hom af by die agentskap sonder dat hy 'n billike blik kon kry op die berg.

Die bestuurder ry en rem nog 'n entjie aan en kry my by my bestemming. Die aanvanklike "right on the Waterfront, Sir" van die reisagent rek uiteindelik tot by - in die hotel se brosjure - "on the fringe of the Waterfront", so onderskeidelik R20, R23, of R45 ver vanaf die hart van die Waterfront, afhangende van die eerlikheid of uitgeslapenheid van jou taxi-bestuurder.

My naweek in Kaapstad is deel van 'n pakket aangebied deur die reisagentskap - hulle roem hulle daarop dat hulle goedkoper is as die internet en sluit 'n retoervlugkaartjie en drie nagte verblyf by 'n hotel (soos voorheen vermeld) "right on the Waterfront" in. Die hotel vorm deel van die poging om die Groenpunt-area te herontwikkel. Ook hier is daar ooglopend baie plaat (staal), plank (hout), plastiek en glas - maar net meer stylvol en duurder. Hierdie bliksems het ook die "mineral rights" gekry.

Die hele omgewing is ontwerp op die nuwe sogenaamde nywerheidskompleksstyl. Blyplek vir die yuppies naby die werk - soms sommer bo-op die kantoor. Die brosjure spog: "combines New York loft apartment chic with a trendsetting new service ethic to provide a stunning alternative hotel experience", en verder "an adventure in cutting edge design, combining a chic blend of industrial glamour and futuristic high-tech with comfort and sophistication, making it Africa's only designer hotel." En ek probeer vlug van die staal en stres aan die anderkant. Sela.

Hoe dit ook al sy, ek besef dat die reisagentskap tien teen een al die kamers aan my kant van die hotel teen 'n afslag gekry het, want toe ek die gordyne ooptrek, kyk ek reguit vas in 'n korf kantoorblokke met werkers met selfone en rekenaars - agter groot, oop vensters sit hulle daar asof makgemaakte diere in 'n dieretuin. Woonstelle bo-op, stukke asbesdakke met designer-mos en kolle swart gebrand. Groot traliehekke beheer die kom en gaan. Links van my venster steek 'n nek van 'n hyskraan uit in 'n area waar ek aanneem die Waterfront moet wees.

Later die aand val daar 'n vaal, mistroostige vlaag voor my venster en ek sien aan die regterkant die neonsein van die Arabella Sheraton. Maar dit waarvoor ek gekom het, is nêrens in sig nie - nie 'n enkelte stukkie see of berg nie.

Die televisie het vyftien kanale (ook een van daardie kanale waarvoor 'n LP, na bewering, by 'n hotel in Pretoria met sy - ja, reg geraai - reiskoepons betaal het!), maar ek voel presies soos Bruce Springsteen moes gevoel het toe hy "57 Channels and nothin' on" gepen het. Daar is niks so boring soos porn nie.

Die slaap bly hardnekkig weg en ek dink aan my besoek baie lank gelede.

Ek sukkel al van kleintyd met reissiekte - kar, boot, trein, enigiets met wiele, en ek skiet 'n kat. Ek was in die destydse standerd vyf toe ons by familie in Elsiesrivier kom kuier het. Die treinrit was 'n nagmerrie, want ek moes kos vermy - net die reuk van hardgekookte eiers of toebroodjies in 'n bedompige blik was genoeg om my te ontstel. In die Kaap aangekom kon ek dus nie saam met ons gasheer, wat 'n gordynmakery besit het, rondry nie. My pa en jonger broer het hom op sy gordyne-hang-en-meet-en-pas-reise vergesel en so al die besienswaardige dele van die stad eeerstehands beleef.

Saans, na hul omswerwinge, het ek gretig geluister en onthou van alles wat hulle waargeneem het, en met ons terugkeer ná die skoolvakansie het ek 'n opstel geskryf wat die prinsipaal teenoor my pa laat opmerk het dat dit die beste beskrywing van 'n besoek aan Kaapstad was. Groot was sy verbasing toe hy hoor dat ek self nog nooit die plekke gesien het nie.

Maar skrywers is immers aasvoëls, teer op tweedehandse belewenisse, wys my jou skete en ek vertel jou storie …

Intussen het ek darem medikasie vir die reissiekte ontdek en dit maak die togte sedertdien draaglik.

Saterdagmiddag kom daar darem 'n skynsel son deur en ek vat die gaping. Die snoek by die Waterfront is halfgebak; 'n duif kak nonchalant twee duim vanaf my bak slaai en onvergenoegd besluit ek om een van die bootvaarte te probeer. So tien minute in die reis in en dit begin weer reën. 'n Koue wind laat die golwe kuithoogte-deinings maak en ek wens die reis wil end kry.

Die Sondag skrik ek laat wakker en sien 'n skrefie son vanuit my venster. Ek sien die filosoof in 'n koffiekroeg. Later worstel ek deur erg verbrande varkrib by die restaurant en ek verwens Vrydag die dertiende.

Maandagoggend is mistig en ek pak. Lughawe toe reën dit nog.

Ek koop 'n blikkie Coke by die winkel in die vertreksaal waar jy van die voortreflikste Kaapse wyn, biltong, gedroogde vrugte en ander snuisterye kan koop. Die koeldrank gebruik ek om die tablet af te sluk wat die vlug glad moet laat verloop.

Terwyl ek in die stoel sit en wag, sien ek vir die eerste keer die stukkie Kaap wat ek so graag vanaf die boonste verdieping van 'n luukse hotelkamer met 'n uitsig sou wou sien. Die see, blou met 'n baardwit brander wat breek, en verder agtertoe Die Berg - prentjiemooi op die A4-grootte poskaarte.

As ek deur die instaptoonbank na die bus loop wat ons na die vliegtuig moet aanry, begin dit weer reën.

Vorentoe op die reis voorspel die loods turbulente weer.

Op 37 000 voet onthou ek skielik: in die dun wit lyne tussen die teëls in een van die toilette by die winkelsentrum aan die Waterfront het iemand in swart ink geskryf: "Ek hou van tik. tik. tik. tik."

Skryf en reis sal ook nooit weer dieselfde wees nie.



LitNet: 26 August 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.