|
|
Tussen Beckham en Springsteen: die soeke na iets (iemand) om in te gloClinton V du PlessisEk het, jare gelede, in ’n gemakshuisie van ’n gastehuis op Molteno ’n amusante boekie langs die troon raakgevroetel. Kan nie die titel onthou nie, maar dit was ’n versameling met van die beste en pittigste graffiti. Die een wat my veral bygebly het, was oor Kevin Keegan, die legendariese Liverpoolspeler wat in sy loopbaan meer as 100 doele vir die klub aangeteken het. ’n Vurige ondersteuner het iewers teen ’n stadionmuur gespuitkan:
en reg onder dit het iemand hom getroef met:
Die rede waarom dié stukkie weer by my kom spook, is na aanleiding van berigte ’n hele paar maande gelede waarin verwys is na opmerkings deur een of ander akademikus, naamlik dat David Beckham vir baie van sy aanhangers ’n Christus-figuur is. Die betrokke akademikus weef dan verder voort op sy teorie en haal talle voorbeelde aan om sy argument mee te staaf, byvoorbeeld dat Beckham op ’n tydskrif se voorblad in die gekruisigde posisie afgeneem is. Ek weet nie of ek noodwendig ooghare het vir dié aanname nie, maar in ’n tydperk waar die korporatiewe koninkryk elke haas uit die hoed sal haal om die globale gemeente van ge- en verbruikers te bevredig, kan dit seker sin maak dat Beckham bemark word as die Heiland van Consumptio. Beckham beïndruk my nie juis as persoon (sy lewe blyk net te perfek gechoreografeer te wees – van die hemp wat uithang, tot die spleet in vroulief Victoria se rok) of as sokkerspeler nie. Wyle George Best het dit pragtig saamgevat: “He cannot kick with his left foot, he cannot head a ball, he cannot trackle, and he doesn’t score many goals. Apart from that, he’s all right.” In ’n ander artikel – oor daardie ander handeklappende hosanna van kapitalistiese konsumeristiese kitsch, Oprah Winfrey – in die Lifestyle-bylaag van die Sunday Times vind ek die volgende: “The problem is that when people stop believing in God, they do not stop believing in anything, they start believing in everything.” Hierdie lang aanloop is net ’n broodnodige ompad om uit te kom by iemand wat meer gepas die kleed van “sinner and saint” om sy skouers kan hang – iemand wat oor die jare nie net eenvoudig gekniel en sy siel aan die hoogste bieër uitverkoop het nie. Ek verwys hier na een van Amerika en rockmusiek se grootste eksponente – Bruce Springsteen. Springsteen se verwysingsraamwerk is die - soms sieldodende - bestaan van hoofsaaklik werkersklas-Amerika. In meer as een van sy talle liedjies sing hy oor gewone mense met “debt that no honest man can repay”. Hy sing oor verlore werksgeleenthede, opstand teen oorlog, ’n (aanvanklik) onverkwiklike verhouding met sy vader, rassespanning en die leegheid van die blinde aanbidding van materialisme. Maar op sy beste is hy as hy sing oor hoe verhoudings lostorring en harte en drome flenters val tussen die harde werklikheid en die immer ontwykende American Dream. Nêrens vind ek dit beter verwoord as in die liedjie “The River” nie:
Maar later volg die ontnugtering:
Op sy jongste, hoofsaaklik akoestiese album, Devils and Dust, gee Springsteen weer ’n middelvinger aan die hoofstroom en maak hy rou, onopgesmukte musiek. In ’n onderhoud met die New York Times beken hy dat hy op 55, al is dit half teësinnig, teruggryp na die bekende Katolieke bakens uit sy jeugjare. Moet ek dus kies tussen Beckham en Bruce om kompas te wees in hierdie era sonder helde, kies ek liewer laasgenoemde. Op die liedjie “Reno” bevind hy hom in ’n hotelkamer met ’n “two hundred dollars straight in, two-fifty up the ass” dame van die nag. Teen die einde van die liedjie skink sy vir hom ’n glas whisky en verklaar selfvoldaan: “Here’s to the best you ever had.” Maar Springsteen, deurwinterd hier skuins voor 60, het bykans alles gesien en besef met die wysheid wat Beckham nooit ooit sal hê nie: “It wasn’t the best I ever had, not even close.”
Wil jy reageer op hierdie stuk? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |