|
|
Zen and the art of qeueingClinton V du PlessisPadwoede se dinges. Hier steek n nuwe sweer sy kop uit. Ek praat van rywoede … Nee, nie ry soos in n kar bestuur nie, maar ry soos in toustaan. Wanneer laas was jy in n supermark of bank? Ek sweer nog een van die dae strip iemand se moer, word n pistool uitgepluk en die klein rooi mannetjie wat jou kordaat op n skerm na n teller laat marsjeer, word sonder seremonie ook in sy jollie spore gestuit. Of is dit nou mode vir besturende direkteure van hierdie instansies om by die skemeronthale te spog: Myne was weer dié maand langer as joune! Bedoelende nou natuurlik die rye, en dan veral op maandeinde. Of is dit n sinistere komplot om klante te trek? Jy word gekonfronteer deur eindelose rye en nog meer eindelose leë sitplekke waar daar veronderstel is om óf n teller óf n kassier te sit. Waar is al die mense? wonder jy terwyl jy jou minute omtou. Oral word die toue langer en die diens slegter en stadiger. Beman (of bevrou) die leë sitplekke en ons doen werklikwaar iets om die probleem van werkloosheid aan te spreek! Rye dateer ook natuurlik uit n ander politieke era - uit die dae van die Koue Oorlog. Op televisie het ons gereeld dié rye gesien. Nie hier nie, maar daar ver … Die lang rye mense in koue Kommunistiese Rusland - besig om te tou vir brood, olie en wat nog. Sulke vreeslik onaansienlike dik tannies - gemus, gejas, vaal - saam met hulle mans met dae-oud baard, swaarkryspore van n harde lewe diep gelyn in die gesig, met wasem-asems. En hulle staan net daar en wag. Geen teken van opstand nie, maar n beeld van stille berusting. Hoe begin jy die revolusie op n leë maag? Nader aan die tuisfront onthou ons almal seker die beelde van kronkelende kilometers mense in 1994. En dit alles om n kruis te maak! Vir die meeste was dit egter meer as nét kruis maak. Dit was n amptelike erkenning van jou bestaan, van jou menswees. Skielik het die werklose plakkerskampinwoner se keuse net soveel gewig gedra (en as gevolg van hulle oorwig, soveel meer) as die keuse van die sakeman wat meer geld aan sy hond se maandelikse besoek aan die salon bestee as wat menige maar net kan hoop om in n maand of twee te verdien. Ek het altyd gewroeg as ek moet tou, totdat ek besluit het dat ek hierdie tyd tog sekerlik meer positief kan benut. Vandaar my Zen-benadering tot rye. Ek put nou oneindige genot uit die verposing tussenin die malle gejaag en geniet dit selfs om bank of supermark toe te gaan. John Lennon het iewers (moontlik na sy Oosterse onderdompeling) gesing: I'm just sitting here, watching the wheels go round and round. Wel, ek staan net en word een met my belewenis. Staan in n ry en aanskou die mensdom - met puisies en al. Hier is n paar van die nuutgevonde gewaarwordinge: Die dame voor my in die ry, met die vreemde aksent, en haar vriendin met die laaggesnyde jeans (amper soos die meisie in een van Johan van Wyk se gedigte wat wys tot wáár sy skeer), plat magie en bolangs ruimskoots bedeeld, staan met n depositostrokie en twee bondels note (bykans R5 000, skat ek), die meeste kreukelvry uit outomatiese tellermasjiene getrek. Jy't nie veel verstand nodig om uit te werk hoe hulle hul daaglikse brood verdien nie. In die sweet van jou aangesig? Aikona, liewer op die naat van jou rug … Onlangs vlieg ek na Kaapstad met die redery sonder fieterjasies. Met die terugvliegslag beland ek weer in n ry met geen skynbare einde nie. Ek gaan toe oor in my Zen-queue-mode. Sit my handbagasie neer, haal rustig asem en bekyk die ry. Soos my oog die ry af drentel, sien ek haar by die tafel van die koffiekroeg sit. Sy dra n bonterige, parmantige, moulose somerrokkie en sy sit op n stoeltjie effe te hoog met die soom erg te kort. Voor haar staan n koppie koffie op die tafel en sy lees een van die lughawe-romans - n slapband van so 400 plus bladsye. Sy is intens bewus van al die blikke in haar rigting, maar hou die pose voor van iemand wat volslae verdiep is in die boek. Ek wonder die heeltyd net hoe sy dit gaan regkry om soos n dame van die stoeltjie afgeklim te kom. Net toe ek dink sy gaan opstaan, maak die instaphekke oop en die ry begin beweeg. Wel, ek sal nou nooit weet hoe sy afgeklim het nie, maar die staan en wonder (en bewonder) was die moeite werd. Daar is twee tipes kasregisterpunte hier - vir dié wat n trollievol koop (die Harksen-opsie), na links; vir dié wat mandjies het (dié wat Tony Leon se R110-oorlewingspakket wil beproef), almal na regs, soos skape ter slagting. By die rye aan jou regterkant moet jy jou pad in n nou drukgang tussen rye en rye tydskrifte en sjokolade wurm. Ek merk op dat bittermin van die vroue in die ry ooit soos die prettige poppies op die voorblaaie van tydskrifte sal lyk. Hulle heup byna die soetighede van die rakke af, want alles raak kant en wal, maar gryp tog n tjoklit hier en n pakkie marshmallows daar. n Witkop-tannie dartel en beur bedremmeld in en uit rye (amper soos n kwotaspeler wat homself ten alle koste moet bewys en agter elke losbal aan skarrel), net om telkens weer tot groot ergernis van die ander haar plek te wil kom opeis. Uiteindelik sug sy hardop en poot maar geduldig vorentoe. Rye is die groot sosialistiese gelykmaker. Geduld is seker een van die beste deugde waarmee jy gebore kan word. Om te leer om jou beurt af te wag, bring n gevoel van beheer. As jy nie daarmee gebore is nie, kan jy dit gelukkig aanleer. Jy hoef nie een van daardie programme te koop wat deur n string kenners (gewoonlik in daardie dooie-oggend-gleuf-televisie-reklame-programme, tussenin dié vir messe, fiksheidsmasjiene of olie vir enjins) in jou keel afgedruk word nie; ook hoef jy nie duur seminare by te woon deur een of ander gerehabiliteerde prozac- of coke-ghoeroe nie; nog minder hoef jy na Oprah te kyk. Die oplossing is heel eenvoudig: staan in n ry en verryk jou lewe. Soos Confucius sou sê: Life is a slow or fast-moving queue. Make the most of the minutes and moments while pausing … |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |