Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die pakket en die oorskotmense

Clinton V du Plessis

Onlangs het ’n Engelstalige Sondagblad berig oor die (kortstondige) wel en wee van die land se Lotto-miljoenęrs.

By die lees daarvan het ek besef dat jy, soos met alles in die lewe, slegs die dinge wat jy met bloedsweet bekom het, sal waardeer. Van die stommiteite wat in die berig genoem word, is onder meer die storie van die wenner wat sy nefie iets oor ’n miljoen rand betaal het om hom ongeveer 110 km ver te vervoer na sy naaste betaalpunt om sy prysgeld van bykans elf miljoen te gaan opeis. Die grootste probleem skyn te wees dat die gemiddelde wenner geen benul het van die omvang van sy of haar onverwagse meevallertjie nie.

Hierdie berig het my opnuut laat dink aan ’n tydperk, so tien of twaalf jaar gelede, toe van die staatsdepartemente op groot skaal besig was om te rasionaliseer. Deel van hierdie rasionalisasieproses was die aanbied van skeidingspakkette, wat in die volksmond bekend geword het as “die pakkie vat”. Sommige slimbekke het trots gedeklameer dat hulle nie afgelę is nie, maar “gepakketteer” het. Meer onlangs word staatsamptenare herontplooi na die boendoes en word dus weer die pakket aangebied — die wat effe slinkser is (met unie-inset natuurlik) word as gevolg van stres en allerhande skete en kwale op vervroegde pensioen geplaas.

Wat doen doodgewone, nie te oud nie, kripvreters wat maandeliks van die hand na die mond leef, of tussen oortrokke limiete op tjekrekeninge en nimmer eindigende begrotingsrekeninge op geduldige kredietkaartrekeninge ’n bestaan probeer maak, as hulle voor die keuse gestel word om wat vir hulle na ’n klein fortuin klink, in die sak te steek.

Wel, die resultaat is een enorme tragedie.

Vir eers is dit bykans onmoontlik om die presiese omvang van die toevalling te bepaal. Soos my swaer dit stel, dit is altyd ’n paar duisend en “some odds”. En dan brand die geld ’n gat in die ontvanger se sak. Dit is asof die węreld tot ’n einde gaan kom.

Heel eerste word enige tweedehandse voetstoots kar wat in die “pakketteerder” se pad beland, opgeraap. Omdat die ontvanger dit nooit breed gehad het nie, was daar nooit ’n ryding in die familie nie — dus ook niemand met ’n geldige rybewys nie. Die kar is nou daar en dan moet ’n drywer gehuur word wat die familie rondkarwei.

Die drywer, ook oor die algemeen werkloos, werk heel goedkoop — in die volksmond, net vir ’n “papsak”, die goedkoop konkoksie in sellofaan. Kort voor lank “leen” die bestuurder die kar en ry dit in ’n besope toestand des moers, en dit beland in die eienaar se agterplaas. Te duur om reg te laat maak begin dit dan roes en uitmekaar val. Later staan dit op blokke. Die bande word verkoop, want van die “pakkie” is daar — na die nuwe DVD-masjien, die selfoon, aanbou van ’n slaapkamer, die vele anties-pakket-van-losse-sedes, en dies meer, nie veel oor nie.

So word die pakketmanne dan platsakmanne. As jy gelukkig is, het jy gedurende jou lewe jou longe so opgerook en opgesuip dat jy tering opdoen wat jou, geluk by die ongeluk, in staat stel om jou as ongeskik vir werk te laat verklaar en dan is daar darem weer uitkoms met ’n staatstoelae. So kom ons om, ja so kom ons om.

Die meer geskoolde ontvangers van “lompsomme” (ek verkies die term “enkelbedrae”) — onderwysers, polisiemanne, verpleegsters — vaar nie veel beter nie. ’n Verloopte kleinneef besluit, net na die ’94-verkiesings, die toekoms lyk te donker (no pun intented) in die polisiediens en vra ook pakket aan. Hy kom kuier en wys sy bankstaat — vier honderd en vyftig duisend rand in sy tjekrekening — en daar kom glo nog! Ses maande later is hy op 44 jaar uit huis, vrou, rewolwer en kinders — vier honderd en vyftig duisend rand en “some odds” deur sy gat getrek. Onlangs hoor ek hy werk as sekuriteitswag iewers en het een van die staat se “foeitog-huisies” betrek.

Ander weer begewe hulle in elke obskure besigheid — toerisme, tuishuise, kontantlenings (en die ou favourite, sjebeens, of soos dit nou bekend is, taverns). Maar dit kos nie veel breinkrag om te weet dat dit onmoontlik is om te bly oorleef as jy geen besigheidsagtergrond, of in sommige gevalle nie genoeg gesonde verstand het nie.

Die ergste nog, sien ek, is die “cash loan sharks” wat weet hoe stadig die wiele van die staat draai en aan voornemende ontvangers van pakkette voorskotte aanbied en dan tot dertig persent van die uiteindelike uitbetaling as rente in die sak steek. Capitalism sucks …

En steeds beveel die konsultante rasionalisasie aan en word daar geprivatiseer; en om winsgewender en kompeterend te bly in hierdie nuwe groot węreld sonder grense word die groep werkloses net meer — ’n scenario waarvan Bruce Springsteen sing in “The ghost of Tom Joad”:

Hot soup on a campfire under the bridge
Shelter line stechin’ ’round the corner
Welcome to the new world order
Families sleepin’ in their cars in the Southwest
No home no job no peace no rest.

Ek kyk om my rond na al die eendag-miljoenęrs en oorskotmense en pakketploeteraars en besluit ek wil liewer werk, soos Madonna (op die snit “Easy Ride” op haar album American Life) ook sal tevrede wees, want :

I want the good life
But I don’t want an easy ride
What I want is to work for it
Feel the blood and sweat on my fingertips
That’s what I want for me.

Dit staan mos juis ook iewers anders opgeskrywe: “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien.”

Of iets dergeliks …

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.