Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Miskien moet president Thabo Mbeki meer country-musiek luister ...

Clinton V du Plessis


Where do all these highways go, now that we are free?
- Leonard Cohen -


Ek moet bieg.

Dit is moeilik, want bittermin mense weet hiervan, nie eers my naaste familie nie. Ek gaan baie diskreet hiermee om. Ek dink my broer weet. Ek doen dit nou elke Saterdagaand so net na tien, gemaklik op my rug, die ligte af. Dit is een van die beste maniere om te ontspan .

Maar miskien moet ek net eers die aanloop skets voordat ek — hoe sal ek dit nou stel — met die Stetson uit die kas klim.

Dit is alles die kaal vrou se skuld ... my ma én die kaal vrou se skuld ...

Ek was seker so agt of nege.

Die Afrikaanse Sondagkoerant het ’n insetsel gehad met strokiesprente (onder andere Tarzan, Tokkie en Pampoenkop, Hennie en Die Skim) en ook ’n fotoverhaal: Trompie. Ek kon my ore nie glo toe my ma sê dat daar ’n kaal vrou op die voorblad van dié insetsel was nie. Ek het diskreet dié deel van die koerant onder my hemp uit die huis uitgesmokkel en dit uiteindelik in die toilet met sweterige hande oopgevou.

Daar het sy gestaan — in al haar glorie en ... I was hooked.

En káál was sy káál — volgens my ma se definisie van kaal. Linda Ronstadt het ’n eina blou denim-kortbroek aangehad, haar naeltjie was ontbloot en onder die stywe rooi T-hempie was die beloftes van die punte van haar tepels sigbaar.

My nuuskierigheid oor dié mooi stuk vroumens het my rasend gemaak. Wie is Linda Ronstadt?

Ek het na binne geblaai en gelees dat sy ’n sangeres is — nie net enige sangeres nie, maar ’n country-sangeres. Nie so roekeloos wulps soos ’n pop-sangeres nie (Linda het wel in die middel-sewentigerjare ’n rock superster geword), maar smeulend-sensueel, soos net ’n country-sangeres kan wees. Hulle weet hoe om jou tartend-stout te laat huiwer-hap aan die sjokolade sonder om die hele doos in jou gesig te druk!

Ek het begin luister na wat hierdie Linda Ronstadt en haar geesgenote sing. Sulke lekker balladerige sad kitaarliedjies oor gebroke huwelike en skelm verhoudings, een of twee glasies to drown or crown your sorrows, liefde op ’n kombers onder ’n helder sterbelaaide hemel en die saam wakkerword in ’n bed van een of ander motel iewers in Texas. Dit het rebels-dekadent genoeg geklink vir ’n plattelandse would-be poet.

Ek het die agtergrond geskets en kan dus nou maar bieg. Ek weet dit mag vir baie as ’n groot skok kom.

Ek is ’n fan van country-musiek!

Elke Saterdagaand, net na tien, lê ek op my rug, met die ligte af en luister na die country-program op RSG.

Lank terug het ek gedink country-musiek is die witmense se gospelmusiek. Dolly Parton en Shania Twain het onderskeidelik oor- en welbedeeld my laat besef hulle bedien eerder die oog se behoefte aan vlees as die siel se soeke na die redding deur die gees.

Daar was ’n tyd toe country-musiek hier groot was. Televisieprogramme, road shows, boere-cowboys soos Lance James en Bobby Angel op hooibale in skousale,en weemoedige asters soos Barbara Ray wat die groot Amerikaanse hartseer ook ons hartseer kon maak: daar was só min wat ons met Afrika kon of wou deel. Selfs ons smart was cover versions van ingevoerde smart soos verwoord in Nashville. Maar hulle was groot helde in die lekker ou dae van Springbok Radio, CB-radio’s en manne met murg in hulle pype soos Jan Ellis en Frik du Preez … die dae van oënskynlike welvaart en vrede. (Die skyn het toe bedrieg, sou ons later uitvind.)

Een van die grootste lewenswaarhede het ek nie by ’n filosoof, politikus of groot skrywer geleer nie. Snaaks genoeg het hierdie stukkie anargistiese liriek, anders as Pink Floyd se liedjie onder die vorige bestel, nie gesneuwel nie, maar deurgeglip omdat niemand kon vermoed dat country-musiek ook ondermynend kon wees nie. Kris Kristofferson sing in “Me and Bobby McGee” met ’n lekker moererige loser-rasperstem: “Freedom’s just another word for having nothing else to lose.”

Terwyl die politici hier straat- en ander name verander en transformeer, vomeer en ons duurgekoopte vryheid deklameer, wonder ek of jy nouliks ’n bestaan kan maak op ’n ouderdomspensioen van R570 per maand. En vele ander het nie eers dié stukkie reddingsboei om aan te klou nie.

Miskien moet president Thabo Mbeki meer country-musiek luister en minder op die internet rondmuis en afvallige standpunte oor Vigs versamel. Hy sou dan weet die gevaarlikste mense vir enige staat is dié wat vry is, en dié wat werklik vry is, is dié wat niks meer het om te verloor nie. Ek dink Winnie Madikizela-Mandela het dit agtergekom en as dr Penuell Maduna hiervan te hore kom, laat hy sweerlik “Me and Bobby McGee” van die lug haal.

Ek het so snaakse voorgevoel — dat die revolusie sal begin, op maat van country-musiek, deur bakhandmense wat moeg gewag is op uitkoms.

En dié keer sal daar nie ’n priester of ’n gebalde vuis in sig wees nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.