|
|
‘n Lekker lykstasie (met apologie aan Peter Snyders)Clinton V du PlessisJy voel werklik ongemaklik as jy die dag in ‘n ou vriend en kliënt in die hardeware-afdeling van ‘n supermark vasloop en jy so in die verbygaan vra hoe dit nou met sy vrou gaan wie hy die vorige week vir ‘n roetine-hartondersoek na ‘n hospitaal in Port Elizabeth sou neem en hy dan die wind uit jou seile haal met die nuus dat sy op die operasietafel gesterf het. Woorde kom dan moeilik – jy gee maar ‘n handdruk van bemoediging en verneem wanneer die begrafnis is. Sewe-uur by die huis en nege by die kerk, deel hy my mee. Die Saterdag is ek al van halfnege buite die kerk in Lingelihle, die swart woonbuurt “buite Cradock”. Altyd vir my snaaks hoe daar, ‘n dekade na die “groot andersmaak” steeds in berigte en nuusbulletins verwys word na die bruin en swart buurte as synde “buite” die (wit) dorp te wees. (Ek sien juis in die uitgawe van 12 Augustus 2005 van Cradock se plaaslike weekblad, Die Midland News, dat die Inxuba Yethemba Munisipaliteit voornemens is om Stockenstroomstraat, ‘n gedeelte van die hoofdeurpad, te vernoem na ‘n eertydse ANC-strydros, die sekretaris-generaal van die organisasie tussen 1936 en 1949, en ‘n man van wie daar nog steeds met ontsag gepraat word, wyle Rev JA Calata – sy kleinseun, Fort Calata, was een van die Cradock-vier wat “permanent uit die samelewing verwyder” is. Soos gewoonlik verwag ek in die komende weke ‘n stortvloed beswaarde (wit) wroegbriewe aan die blad – dit terwyl die swartes maar verlief moes neem met die feit dat een van hul strate na Breyten se slagter, BJ Vorster, vernoem is … Snaaks genoeg is Calata in 1943 benoem vir die pos as biskop van die Anglikaanse Kerk in Transkei, maar druk deur wit kollegas het verhoed dat hy verkies is!) Maar ek wil eintlik oor die begrafnis skryf en oor die blik op die ander bestaan. Die “village idiot” staan moeisaam met mankbeen en swart manel by die kerk se ingang en beduie my onsamehangend na die pastorie se stoep toe ek vra of ons al mag ingaan. Ek, ‘n kleinnefie en ‘n Italiaanse sakekennis wag dus maar saam met die vinnig groeiende menigte. Blykbaar moet die lyk eerste die kerk in. Ons beter sitplek kry, deel die Italiaanse sakeman my mee, want hierdie gaan ‘n lang diens wees. Self is hy maar net paar weke terug in Cradock nadat hy sy skoonpa se oorskot moes terugvlieg na sy geboortedorp in Italië. Daar is ook baie rituele, byna dieselfde soos hier, merk hy op. Die lyk kom net na nege aan en ons wurm en druk en stoot ongoddelik ‘n gangetjie oop tot binne en neem heel agter plek in, met die idee dat ons dan weer voor sal wees met die uitkomslag. Die kerk het ‘n outydse dennehoutvloer en kraak vreeslik, selfs al probeer die gemeente eerbiedig die gewig van voet tot voet versit. Ons kry sit. Een van die kerkamptenare herken die Italiaanse sakeman en kommandeer hom op om saam met die ander hooggeplaastes voor op die flank links van die predikant te kom sit. Intussen loop die kerk vol en as ek later tydens gebed omkyk deur se kant toe, besef ek dat daar intussen soveel ekstra stoele ingedra is en agter en langs my gepak is dat ek nou nie meer, soos ek voorheen gedink het, ‘n agterbanker is nie en dat die uitkomslag gewis nie meer vinnig sal wees nie. Ek en my kleinneef het in elk geval beplan om net na tien die verrigtinge te verlaat. Steeds loop die kerk voller en ek dink onwillekeurig aan beriggewing die afgelope tyd oor die NG Kerk se dilemma van kwynende gemeentes en die jonger mense wat afvallig geword het. Hier blyk dit net mooi die teenoorgestelde te wees, want hierdie Kerk het siel. Die diens begin, in Xhosa, en ek luister end-uit, net af en toe ‘n knipsel Engels, en alhoewel ek nie die taal magtig is nie, kan ek tog hier en daar die idioom en die boodskap snap. Die kerk is vol bekendes – die ANC se huidige hoofsweep, wat blykbaar in die kerk lekeprediker was/is en ‘n prof van Grahamstad. Ene Chief Goniwe, familie van die hoofsweep en van die ander lid van die Cradock-vier, is ‘n gemoedelike, meelewende ou omie en laat die roubeklaers uitbundig skater van die lag. Alhoewel dit begrafnis is, is ek deurgaans onder die besef dat hier heelhartig gevier word oor ‘n lewe, eerder as dat daar droefgeestig getreur word oor ‘n dood. Ek volg sy storie en hy vertel hoedat die gestorwene in lewe ‘n ander tipe Christen was, een wat vol entoesiasme was, en hy gebruik die beeld van ‘n rugbybal – jy kon haar rondskop en elke keer sou sy net weer terugwip en in ‘n ander rigting koers kies – dit in teenstelling met sommige Christene, wat hy vergelyk het met ‘n kruiwa: dié stoot jy tot in ‘n hoek en daar bly hulle dan totdat jy hul weer in ‘n ander posisie moet stoot. Dooie gewig, by wyse van spreke. Wat opval, is hoeveel keer tydens die diens die gemeente sing, en elke keer is almal op die voete en besef jy saam met Paul Simon: “These are the roots of the rhythm and the rhythm remains.” Agter my kan ‘n erg meelewende broer hom net nie meer beteuel nie en met ‘n oorverdowende “Hayi bo!” systap hy uit sy bank en trap ‘n paar passies verby my die nou gangetjie uit en noot- en versvas loof hy die Here, nie ‘n voet uit wysie nie. Byna dieselfde toneel wat beskryf word in ‘n artikel oor die Harlem-buurt in New York en die meevoering van die gemeentes aldaar: Music is still central to Harlem. At Canaan Baptist, the first hymn ended in a spectacular crescendo, and we retook our seats breathlessly. The sermon maintained the tempo. There was none of that cheesy evangelical sentimentality, so common on American television. The sermon as sophisticated and enlightened and sincere. But like the rest of the service, it was also emotional, visceral and overwhelming. Van ons voorneme om na tien te verkas kom niks – ons bly sit. Ek wens skielik dat ek Xhosa kon verstaan, want dit voel vir my asof ‘n leeftyd se wyshede my verbygaan. Die hoofsweep kan die versoeking nie weerstaan om in sy huldeblyk – elke huldeblyk word eintlik ‘n minipreekbeurt – voorbrand te maak vir die komende munisipale verkiesing en vir die gelykberegtiging van vroue nie, totdat die gemoedelike prof van Grahamstad hom daarop wys dat al hierdie dinge wat nou voorgehou word as beloftes van die regerende party, maar eintlik net regte is wat toentertyd in die Vryheidsmanifes gewaarborg is. Die hoofsweep voel effe afgeransel. Nog huldeblyke volg, ‘n videokamera neem al die verrigtinge op, die kaartjies wat ontvang is, word een vir een voorgelees, die man lees ‘n roerende gedig vir sy vrou voor. Daar word in Engels ‘n bedanking uitgespreek teenoor dié wat gekom het en bly sit het ten spyte daarvan dat hulle sekerlik bykans niks van die taal kon verstaan nie – dit is die teenwoordigheid wat waardeer word. Dit word elf-, twaalfuur, en uiteindelik hier iewers rondom eenuur neem die predikant die podium en begin sy formele preek lewer! Hy leef hom in, sakdoek die sweet met reëlmaat van die voorkop en elke nou en dan los hy sy teksvers sekuur soos ‘n bom – met al die klem en knal – op die regte plekke en die gemeente beaam eenparig saam. Weer en weer is die gemeente op hulle voete, bewe die kerk van die lofliedere. Hierdie mense doen alles met oorgawe – die Kerk is ‘n bruisende stroom water wat met alle mag deur die splete wil bars en borrel. Tien oor twee beweeg ek na buite en sit en wag in my motor vir ‘n geleentheid om koers te vat huis toe. Dit was ‘n anderste begrafnis dié. Reeds vanaf voor sewe het van die roubeklaers by die huis byeengekom, moontlik selfs al die vorige aand, en eers later die middag sou hulle van die graf terugkeer. Met tyd en respek is daar tradisioneel afskeid geneem – so anders as in die ander dele van hierdie samelewing, waar ‘n begrafnis inderhaas tussen besige skedules ingedruk en testament gelees word nog voordat die graf ordentlik toegegooi is. Daar is so baie wat ons van mekaar kan leer: hierdie land is ryk juis as gevolg van sy verskeidenheid. Dink maar net hoeveel woema ‘n paar begeesterde swart gemeentelede in ‘n verstokte wetties-serebrale NG Kerk sou kon blaas! Dominee, are you listening to the drums? is die titel van een van die boekies op my rak. In die Harlem-artikel verskyn ook die volgende brokkie: There are 400 churches in Harlem, and none of them are troubled with declining numbers. While the English turn deconsecrated churches into apartments and art galleries, in Harlem they turn everything they can lay their hand on – from boarded up stores to abandoned tents – into churches. Intussen gaan ek ‘n poging aanwend om Xhosa te leer – Jeremy Cronin het in een van sy bundels gedig: “We must learn to speak with the many tongues of this country.” En so dan word ‘n begrafnis toe vir my nie net die vergestalting van die einde nie, maar hopelik die begin van baie nuwe dinge. Verwysings |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |