Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die huishulp, die strykyster en bemagtiging

Clinton V du Plessis

Ek haat dit om op Sondae inkopies te moet doen.

Sondae is my laat-opstaan-en-lui-met-pajama-ronddrentel-dag. Die Groot Boek sê mos immers dit is 'n dag van/vir rus, maar dié keer het ek nie 'n keuse nie. Dinsdag kom die huishulp en sy soek 'n nuwe strykyster - die sesde een sedert sy twaalf maande gelede by my begin werk het! Die een voor haar het ook die gees uit 'n hele paar strykysters ge-elmboog.

Aanvanklik het ek kans gesien om self my klere deur die wasmasjien te sit, maar ek het nog die geduld of die takt om te moet sukkel met 'n strykyster - die kuns om broeke netjies te naat of krae kreukelvry te kry sit nie in my twee hande nie (diensplig was nie verpligtend nie en ek het skoolhostelle vermy.)

Nou moet ek ook verduidelik - ek sien bykans nooit die huishulp nie - sy kom in as ek al weg is werk toe, en ons kommunikeer deur middel van nota's (hoofsaaklik vanaf haar kant) wat ek Dinsdae-aande op my kombuistafel kry of as daar nou werklik 'n dringende behoefte of nood is, wend sy haar tot daardie ander euwel van moderne tegnologie, die "please call me." Vir die wat nou nog nie weet nie ( en onthou daar was mense wat skynbaar nooit voorheen van apartheid geweet het nie, so my aanname is miskien nie so vergesog nie!), 'n "please call me" is 'n oproep vanaf 'n selfoon met geen lugtyd nie. En aan die einde van die maand los ek 'n koevert met haar vergoeding op die tafel.

Omtrent so vier weke gelede nota sy weer - die byderwetse stoomyster wat maar drie maande oud is "werk nie." Ek druk die strykyster se koord by die sok in die muur - dit raak warm en skakel na 'n rukkie self af, soos dit seker veronderstel is om te maak.

Benewens die misterie van die heelal, die lewe en die dood staan ek ook stom-onnosel as dit by enigiets tegnies kom - ek sukkel my malle verstand af met die dekodeerder, DVD-masjien of selfoon se magdom ekstras - dus besluit ek maar dat die strykyster toe seker wel die gees gegee het en koop 'n ander een.

Ek breek in elk geval nie my kop op weeksdae hier rondom 18h30 oor enige kwessies nie, want dan kyk ek 7de Laan. (terloops die plot raak nou bietjie kon(t)serterig met die tweelingtruuk, maar dit daar gelaat.)

Wel, na die eerste strykslag met die nuwe yster, lê my nota daar. Sy is nie "te gelukkig" met die yster nie. Ek moet 'n - en sy noem die bekende handelsnaam - aanskaf. Nou, die mense wat my ken weet dat ek meestal die wêreld se geduld kan hê, maar net daar maak ek rug styf en besluit - tot so ver en nie verder nie.

Die volgende drie weke is daar elke aand 'n nota met dieselfde klagte oor die yster - dit neem te lank om warm te word, ensovoorts en so meer - maar ek skeur dit net fyn op.

Tot die afgelope week - toe kom die "please call me" en ek besef nou is ek in die spervuur. Ek jaag die spanning so effe op en eers nadat die tweede "please call me" my foon laat vibreer, bel ek terug. Sy moet nou 'n ander strykyster kry - die stuk "cheap junk" wat ek gekoop het mors net haar tyd. "Sal sien wat ek kan doen," belowe ek.

Die keer voel ek al half soos wyle Minister Hendrik Schoeman moes gevoel het toe hy die joernalis die swye opgelê het met sy berugte "wil-jy-vlieg-of-wil-jy-vreet-vraag." In my geval, "wil jy stryk of wil jy in style stryk," maar ek swyg.

By die huis aangekom, kan ek sien sy is omgeskommel, geen nota wat wag - net die wasgoedmandjie met die helfte van die wasgoed ongestryk!

Skaakmat…voorlopig.

Dis die dat ek die afgelope Sondag maar vroeg -met seker nog so twee ure se slaappil in my gestel- en gekreukeld moes gaan inkopies doen. Gelukkig kyk niemand jou in die winkelsentrum snaaks aan as jy ongestyk ronddwaal nie - tien teen een dink 'n paar mense jy is straks "cool."

'n Uur later is ek terug. Die nuwe strykyster - 'n meneer van 'n masjien - die bekende handelsnaam wat sy voor gevra het - staan op die tafel en wag om sy eerste plooi te laat sneuwel.

Die keer het ek egter 'n nota gelos. Die saak staan nou so. Voortaan behoort die strykyster aan haar en ek huur dit maandeliks - breek dit egter of is sy nie tevrede met die vertoning daarvan nie, was ek my hande in onskuld. Ek dink daar is 'n mooi ekononiese term hiervoor - uitkontraktering. Ook 'n stukkie bemagtiging - sy verkry 'n bate sonder 'n teenprestasie.

Werk dit nie, bly daar nog die ander opsie oor.

Dié een het ek afgeluister (wel, ek kon nie anders as om, onwillekeurig, by die gesprek betrek te word nie) by twee afgetrede wewenaars. Dié het vroegoggend in 'n hotel se ontvangsportaal oor dieselfde saak hul skynbaar gedeelde lot beklae. "Wel," het die korterige een opgemerk, "Ek, het uiteindelik 'n oplossing vir my strykysterprobleme." "En, wat is dit?" wou die ander een nuuskierig weet. Hy het so 'n genoeglike onnutsige kleutergrynslag op sy gesig gekry : "Onthou jy nog daai ou strykysters wat jy op 'n stoofplaat moes warm maak?" Hulle het saam uitgebars van die lag...skaakmat.

Ek wag angstig op die volgende nota of die "please call me." Intussen wonder ek waar kry mens nog van die ysters wat die omie in die hotel van gepraat het?

Net vir ingeval, mens weet nooit…


LitNet: 9 Desember 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.