Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Huis is ’n vierletterwoord

Clinton du Plessis


Snaaks hoeveel liedjies daaroor geskryf is.

Miskien omdat sangers op soveel vreemde plekke die kop moet neerlê. Dit is dán dat jy nostalgies raak en begin soek na ’n baken van standvastigheid. Bob Seger skets dié prentjie gepas in sy “Against the wind”:

I found myself further and further from my home
and I guess I lost my way
there were oh so many roads
I was living to run and running to live
moving eight miles a minute for months at a time
breaking all the rules that would bend
I began to find myself searching
searching for shelter again and again
.

In die stormagtige tagtigerjare toe almal wou pak, het David Kramer roerend in “Going Away” bevestig:

I belong here, I’ll be staying where I was born
these people are my people, these places
are my places
it’s not easy to mend a heart once it’s been torn
.

Die Engelse woord home het soveel meer inhoud as die Afrikaanse huis. Home het ’n warmte, ’n knusheid, ’n gemoedelikheid, ’n siel, terwyl huis ’n kliniese beeld oproep van ’n struktuur met vier mure en ’n dak. Woning kon miskien deurglip as ’n alternatief, maar klink dan tog te argaïes, Bybels, effe hoogdrawend. Hoe dit ook al sy, ons elkeen het ’n plekkie wat ons daardie ruimte gee om skoene uit te skop, bene te rek, of — soos hulle in die televisie-advertensie wys — ’n plek waar jy met ’n wit frokkie en bier voor die kassie in die rusbank kan neerplons (of as jy vroulik is, met krullers en pantoffels kan rondslof).

Sedert my verhuising na Gauteng voel ek vir die eerste keer hoe dit miskien moet wees as jy ’n banneling is. Ek beweeg in ’n oorwegend Engelse omgewing en brand soms om net ’n lekker vetderm-en-moerkoffie-Afrikaans te praat. Ek kry darem nog elke dag ’n Afrikaanse koerant en daar is saans ’n knertsie afskeep-Afrikaans op nasionale televisie; maar hoe gemaak as jy noodgedwonge moes uitwyk na die buiteland? Loutere hel, sê ek, al sê al die klomp daar anderkant wat. As hulle nie so trots was nie, was die meeste seker al lankal terug hier.

Hoeveel van hulle het nie met die rebelse bravade, soos ’n jeugdige Bruce Springsteen in sy “When you’re alone”, die huis (land) verlaat nie —

With just a shirt on my back
I left and swore I’d never look back
and then I was gone gone
but there’s things that will knock you down you never even see coming
and send you crawling like a baby back home
.

Ek vlieg so dan en wan in Port Elizabeth toe om dan later na Cradock te reis. Gewoonlik kies ek die vlug wat net voor vyf in die middag in die stad land.

Dit moet een van die mooiste gesigte wees.

Vanaf ’n anderhalfuur vantevore se gestoei en gesweet in die verkeer na die Johannesburg-lughawe, tot die beeld wat jou begroet as die vliegtuig oor die see inswaai om gereed te maak vir sy landing, reis jy letterlik uit die hel in die paradys.

Die oordaad geil groen wat skielik oorloop in ’n strand van skerpwit sand, skuimkopbranders, die deinende en wuiwende blou waters van horison tot horison, en die son se laaste strale gedrapeer agter ’n wolk. Dit is asof die wiegende oseaan onder jou een word met jou, jy gee mee en dobber saam daarmee weg. Vir ’n paar oomblikke bly die vliegtuig net daar hang asof vir ’n ewigheid. ’n Onaardse kalmte daal oor jou neer.

Skielik maak niks meer saak nie. Nie die lys vol afsprake, die sms’e op die selfoon, of die in-mandjie met die swanger boggel nie. Alles is vir ’n wyle vergete en ek besef, soos vele ander voor my besef het: God, maar hierdie land is mooi.

As ek op die aanloopbaan afklim, is daar geen aankoms soos dié waarvan Tom Jones sing nie, maar ook ek voel:

It’s good to touch the green green grass of home.

En ek dink aan almal wat elders ’n heenkome gaan soek het, of gedwing is om een te gaan soek. Al die trekarbeiders, vreemdelinge in ’n vreemde land. Sommige sou wat wou gee om net één keer weer hier te kon wees, hier te kon sterf — mense soos Nat Nakasa, Paul Kruger en ook, ja óók Saartjie Baartman.

Verder die land in is daar in die 1820-Setlaarsmonument op Grahamstad ’n inskripsie teen een van die mure. Ek kan nie onthou wie dit gesê het nie, maar ek het iewers in ’n album ’n foto daarvan:

We must take root and grow
or die where we stand.

Anders as die groep U2 wat hunker na ’n plek “Where the streets have no name”, voel ek op my gelukkigste in ’n omgewing wat aan my bekend is.

As ons maar net wil ophou soek en aanvaar — die rusplek is hiér, nie elders nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.