|
|
Die hof, die hospitaal, die hoer*… en die huis se kruisClinton V du Plessis
Een van die vele informele bewakers van metaal en staal bied sy dienste handewringend by die venster aan - sal ook as n toegif die parkeermeter voer indien nodig. Sharp - deal, bevestig ek in die lingo van die landskap. Ek sluit die motor se ratslot, aktiveer die alarm, skakel my selfoon se luitoon af en die vibreeraksie aan en kruis vol verwagting, met al die nodige dokumente, die besige eenrigtingstraat. Op die hoek van die gebou loop ek dwarsdeur n smous wat my probeer betrek met pornografiese DVDs. Ek haas my na die ingang, maar as ek dit in sig kry, onderdruk ek met moeite n gedempte vloek. Dit is net na 08h30 en reeds groei die stert van die tou by die deur uit. Dit is my tweede besoek aan die kantore van die Johannesburgse Munisipaliteit (of wat hulle ook al hulleself noem) te Braamfontein en ek val wroegend agter in die ry in. Ek kan nie weer omdraai soos die vorige dag nie. Die tou skuifel slordig die deur binne, waar elkeen, afhangende van sy of haar probleem, genommer en gekleurkaart sitgemaak word. In die portaal is daar n televisiestel met n tamaai plasmaskerm, en die stoele is sag … en ek besef die plek is ontwerp vir wag. Almal wat hier (vir die eerste keer) kom, sit met hoop en verwagting, want hier bestaan daar ten minste die moontlikheid dat jy van aangesig tot aangesig kan kom met die gesiglose burokrasie wat jy onverrigter sake probeer raakskakel op 011-375 5555. Ek vroetel tussen my notas en probeer my afsluit van die geweeklaag rondom my. Sommige is al vir die hoeveelste keer hier, moes tyd afneem by die werk, ens. Die probleem met die reuse tv-skerm is dat jy nie eintlik te lank daarop kan konsentreer nie, want twee rye rooi syfers flits weerskante bokant die skerm en kondig jou nommer aan. Teen 11h00 sit ek nog en kan nie besluit of ek die kans moet waag om gou n koeldrank by die kiosk kan gaan koop nie … Ek besluit daarteen. n Amptenaar verskyn kort daarna - seker terug van n tee-tussenpose - en kommandeer almal met rooikaartnommers 42 tot 64 op om haar na binne te volg. Ek volg haar saam met die res van ons afvaardiging deur die eerste deur. Binne is die gort gaar - ontstoke kliënte/pasiënte stamp met gebalde vuiste op lessenaars en redekawel in rye, terwyl die amptenare veilig vanagter glas onentoesiasties na die tirades luister en blasé op sleutelborde tik. Ons groep word weer na n ry stoele verwys, maar dié keer is daar nie genoeg sitplek vir almal nie. Ek en die stertkant van die tou staan dus teen die muur. Die stoele raak egter, tot my verbasing, vinnig leeg. Lyk my iemand hier ken sy of haar storie, dink ek. Toe ek uiteindelik ook voor die owerste oor menige my sit kry en papiere ter ondersteuning van my betoog wil voorlê, vind ek uit hoekom die stoele so vinnig leeg geraak het. Al wat hy doen, is om nors en kortaf almal verder af die gang te verwys. Ek fok maar gedienstig die gang af en loop my vas in nommers 42 tot 64 wat in n ander portaal die lang wag wag. Die stoele staan ses breed en vyf rye diep. Soos die voorste gestoeltes geholpe raak, so skuif die hele tou elke keer een sitplek vorentoe. Teen 13h00 sit ek so tien sitplekke van voor, toe die een klerk besluit dat hy nou sy etensuur gaan neem en los ons almal oor aan die genade van n Afrikaanse dame wat bedrewe maar met erg Boksburgse Engels almal bedien. Ek slaan net die oë na bo en suffer in silence. Waar ek sit, is ek naby genoeg aan die toonbank om na elkeen se probleem te kan luister. Verder agtertoe sit mense met prokureursbriewe, vuil- en varkoorgevat, wat in dreigende Engels met dagvaardings aandring op jare se opgeloopte water- en ligtebetalings en eiendomsbelasting. Die free rides is oor - die burokrasie en string konsultante het behoefte en moet gevoed word. n Ou tannnie met kierie verduidelik haar predikament tydsaam en in afgemete Engels - sy is die enigste broodwinner (ouderdomstoelae), skuld digby ses duisend rand; wat kan sy doen? Die klerk is hulpvaardig, maar nie tegemoetkomend nie. Gee 25 persent deposito en betaal die res af oor 24 maande, tesame met die gelewerde rekening vir maandelikse verbruik. Maar sy kan nie, stribbel sy teë. Nee, dan kan hulle nie help nie - maak n plan en bring die 25 persent, dan kan ons weer praat. Werk dit uit en skryf vir my op n stukkie papier neer, vra sy. Dit word gedoen en sy staan swaar op. Haar oë soek teen die muur af en kry haar kleinseun. Next please, roep sy. Nog n man, ver gereis vanuit Eldoradopark, kom probeer beding met n astronomiese agterstallige rekening van R26 000 - hy blaas ook skaam die aftog. Uiteindelik vorder ek tot by haar teen die glas. Verduidelik sommer uit die staanspoor in Afrikaans en sy voel duidelik meer ontspanne as sy die korrekte prosedure om vertoë te lewer aan my verduidelik. Ek kan sommer met haar hoof in die kantoor hier agter praat. So gemaak. Hy kyk sonder skynbare belangstelling na my skrywe en sê dit sal nie werk nie. Maar dit is die situasie! Moet ek lieg? vra ek, nou al taamlik moerig. Hy grynslag. Nee, stel die saak net sterker, gebruik jou inisiatief; as dit goed lyk op papier, sal die komitee wat tweeweekliks sit, my goedgunstig wees, verseker hy. Kan ek die skrywe faks? Sal miskien beter wees as ek dit self bring, breek hy my moed. As ek uiteindelik teen 15h30 weer buitekant kom, voel ek asof niks my groter genoegdoening sal verskaf as om n klip deur die naaste kantoor se ruit te kan bliksem nie - ek verstaan ook hoekom die skare in n oomblik van blinde waansin die stasie te Pretoria kon afbrand. Op die hoek waar die pornopendelaar vroegoggend was, staan die ou tannie - sy met die onoorkomelike berg van 25 persent - met kierie en kleinseun krom en woordeloos op n taxi en wag. Om die draai staan my kar nog veilig, danksy die bewaker. Ek vergoed hom en ry met toe vensters en n lugreëlaar op maksimum gestel terug. Ek bly dink aan die ouvrou se kleinseun - die desperate gatvol blik op sy gesig. En skielik raak motorkapers en transitorowers mense wat net eenvoudig geen opsies meer oor gehad het nie. Die huis word n kruis. * Met apologie aan DJO LitNet: 17 Maart 2004 Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |