Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Haak Vrystaat! Die skrif is aan die kleinhuisie se deur

Clinton V du Plessis

Dis die graffiti agter op die kleinhuisie se deur wat my aan Henk Wybenga se storie laat dink het.

Vir dié lesers wat vergeet het, of vir die wat te jonk is om te kan onthou: In 1982 is Wybenga se kortverhaalbundel, gepas getiteld Kortsluitings, deur Perskor gepubliseer. Ek dink nog steeds dit is een van die beste kortverhaalbundels wat ek in ’n baie lang tyd in Afrikaans gelees het. Die boekie is hardeband, het ’n ligpersblou omslag en bestaan uit ’n dosyn of meer verhale — gekenmerk deur gestroopte, ekonomiese woordgebruik, maar met meer skop as mampoer en met ’n vlymskerp angel in die stert.

Die geluk was my beskore om Wybenga by een van die Skrywersgildeberade te Broederstroom te ontmoet. Hy’t vir ’n wyle alleen eenkant gesit met sy baard, sy glas en denimbaadjie. Ek dink later het PH Roodt hom by hom aangesluit. Pasop, het iemand my gewaarsku, dit is die Gilde se regtervleuel! So what? was my reaksie.

Ons het nie veel gepraat nie, maar Wybenga se verhale sê vandag nog net soveel soos wat dit destyds gesê het. Sy storie “Haak Vrystaat” gaan dan juis oor daardie aktuele gesprekspunt. Dat ons in hierdie land twee nasies is — ligjare van mekaar verwyder met geen gedeelde etos nie.

Terwyl die ek-verteller in die verhaal saam met sy vriende na ’n Curriebeker-wedstryd op televisie kyk, word die uitsending skielik onderbreek as die Minister van Polisie se gesig op die skerm verskyn. Hy kondig aan dat onluste uitgebreek het: “Die situasie is plofbaar, maar hy het die volste vertroue in die polisie” (p 12).

Een en twintig jaar na die verhaal gepubliseer is, en twee demokratiese verkiesings later, en nog steeds is ons twee nasies.

En nêrens vind ek dit meer gepas verwoord as in die vorm van toiletgraffiti teen die kleinhuisie se deur by die Lughawe in Port Elizabeth nie. Geen vulgêre, groteske uitbeelding van die manlike of vroulike geslagsorgane nie, maar wel die volgende twee menings wat langs mekaar geskryf is. Ek gee dit sonder verandering, kru en met spelfoute, weer. &&&&Aan die linkerkant:

The Boks are Moffies
Racist bastards!
Bad luck 4 the
World cup
U R All shit
Stay at home
Spare yourself
From Ambarisment

Verkrampte rubbishes

Jou masedoos.

En net regs daarvan:

You dump blacks make us racist
Taxi drivers think the rules dont apply to them
You are bone lazy-do a full days work
Want free handouts all the time-work for things
You are “thick” and stupid
Our jails are full of you thieves
Without the whites you would still be in the bush.

Dieselfde handskrif wat die eerste stuk graffiti geskryf het, het by item nommer 6 die woord “whites” doodgekrap en “blacks” daaroor geskryf — hy het ook daar langsaan die volgende neergepen:

U had your days, its our time.The Blacks shall govn.

Jou poes PW.

Uiteraand neem ek aan dat die skrywer van die eerste aanhaling swart en die van die tweede wit is. Nou is dit miskien maklik om te veralgemeen, maar is dit nie juis die gesindheid wat nog op ’n sekere vlak van ons Suid-Afrikaanse samelewing bestaan nie? Vergeet van die handjievol wat oor die kleurgrens spoggerig by die dinees saamkom en glo dat die reënboognasie meer is as net Tutu se droom. Weerspiëel hierdie stukkie toiletgraffiti nie die soort van ingeburgerde rassisme wat daar aan weerskante van die spektrum (en ek voeg dit met ’n rilling by) by die oorgrote meerderheid middelklas swart, bruin en wit mense bestaan nie? Vooroordele, wanopvattings — in daardie stukkie graffiti lê genoeg navorsingsmateriaal vir sosiologiese dermsuitryg.

Dit bring my by my tweede ervaring op dieselfde dag wat ook ’n aanduiding is van net waar ons as ’n nasie staan.

Ek taxi vanaf die stasie na die lughawe in Port Elizabeth. ’n Meter-taxi, bruin bestuurder. Hoeveel gaan dit kos? wil ek weet. Hy gee nie prys nie, maar sê ek moet inklim. Wil weet of dit besigheid of privaat is. As ek vir ’n maatskappy ry, kan hy my die gewone tarief laat betaal, maar aan my ’n kwitansie vir ’n duurder tarief gee, dan kry ek darem iets in my sak.

Hy wys my hoeveel “duurder” kwitansies hy al vir die oggend uitgeskryf het. Sommige van die passasiers het gemiddeld tussen R20 en R60 op dié manier in die sak gesteek — hoofsaaklik mense verbonde aan die privaatsektor.

Nee dankie, wys ek beleefd die aanbod van die hand. Sy bek is lank. Ek maak of ek die pad en stad nie ken nie, en die wetter ry aspris met ’n ompad lughawe toe — kruip van een rooi verkeerslig na die ander — die mees wetsgehoorsame taxi-drywer wat ek in my lewe teëgekom het.

By die lughawe ry hy kamtig ingedagte by die verkeerde ingang in, redekawel met die hekwag en laai my uiteindelik af. Sy meter staan op bykans R20 meer as wat ek normaalweg betaal. Maar dis nie al nie. Hierdie drywer luister nie na die gewone rap-musiek wat gewoonlik in die huurmotors speel nie. Nee, die heer wat my probeer oorreed om by sy konkelskema in te val, luister vandat ek my voet in die kar gesit het, luid na een of ander vurige prediker se dien-die-Here-met-blydskap-boodskap op Radiokansel!

Daar is nog baie werk om te doen voordat gesindhede sal verander, maar is die klein begin nie net so doodeenvoudig as om, as die geleentheid homself weer voordoen, ook net te weier om ’n “gelaaide” kwitansie te aanvaar nie — dan het jy ten minste ’n morele basis vanwaar jy jou verontwaardiging teen die regering se korrupsie kan uitspreek?

En oor die graffiti en die kloof tussen die twee nasies?

Wel, ek het nog altyd geweet die enigste mense met die vingers werklik op ’n land se pols is sy skrywers — nie die politieke kommentators, ekonomiese ontleders of ander kwasigeleerde geveinsdes nie.

As van die lesers nog Wybenga se boekie in die hande kan kry, gaan lees die verhaal waarna ek hier verwys. Laat daardie briljante slotsin van net elf woorde jou tussen die oë bliksem, want slegs dan sal jy besef dat ons sedert 1982 glad nie so ver gereis het as wat ons so graag sal wil glo nie.

Aluta continua ...

Ns. Net vir die rekord: Wybenga het my toe nie juis getref as synde die vergestalting van die “regtervleuel” van die Gilde nie — inteendeel, die meeste vooroordele het gekom van ’n uitgesproke linksgesinde feministiese lid! Soos PG se Mietie in Koöperasiestories sou sê: “Wys jou net!”

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.