|
|
Die koudsit van Oom FransClinton V du PlessisOp die meeste kleinerige dorpies is die geestelike welsyn van die kudde oorgelaat in die (soms nou nie te bekwame nie) hande van diakens. So een keer per maand het die eerwaarde vanaf die naburige dorp oorgery om te kom doop, aan te neem en in te trek, synde nou die terugverwelkom van die wat effe afgedwaal het en onder sensuur geplaas moes word. Destyds was die meeste van die afgedwaaldes maar meisies wat geval het (bedoelende nou n buite-egtelike kind gehad het). So af en toe is n man en vrou wat met iemand anders in die heilige eg verbind was ook weer ingetrek, maar daaroor wou die grootmense nooit met ons praat nie … Een van die diakens wat moes instaan vir die eerwaarde was ene oom Frans (ook nou al jare saliger). Oom Frans was dan ook soos baie van sy tydgenote ongeletterd, maar dit het hom nie daarvan weerhou om homself diensbaar te stel nie. Die oom het daarop geroem dat hy al n draai in Egipte gaan maak het tydens die oorlog. Die jaarlikse basaar en die skyfskiet met die windbuks het ons egter gou laat agterkom dat oom Frans beslis nie in die voorste linie was nie. Korrel en fokus was nie sy sterkpunt nie! Maar terug by die geestelike sake. Die diens het gewoonlik min of meer as volg verloop. Oom Frans roep een van die laerskoolleerlinge om vir hom iets, sommer daar uit die Ou Testament, te kom voorlees. Die bloedjie blaai dan tot sy ongerief by een van die passasies met van die vele tongknoper-oud-testamentiese name en wroeg en spoeg na die beste van ook sy beskeie vermoë. Dit terwyl oom Frans ewe plegtig en gewyd daar voor sit, oë toe, die ene konsentrasie. Na die skriflesing verwelkom die oom een en almal en dit was sy gevleuelde woorde wat vandag sy huis verag het, en tyd gemaak het vir die Here. Die oom gaan dan oor in gebed. Hy bid vir almal, vir die in die kerk, en die by die huis, die wat siek is, en die wat nou ook weer gesond is; hy bid vir elkeen wat n dak oor sy kop het en ook vir die vele, die by die uitspannings en die op die wapaaie. Die gebed het altyd byna by vyf minute gaan draai en teen dié tyd het die oom ook al half sy beplande preek ingesny by die gebed. Nadat die oom amen gesê het, is die susters eers n geleentheid gegun om n gesang te sing. Al vyf verse! Juis op dié môre het n effe aangeklamde suster kordaat die gesang ingesit, en in haar ywer die eerste letter oorgeslaan en laat hoor: Trek jou uit en raak … in plaas van Strek jou uit en raak ... Ag, maar dit was n klein gemeenskap en ons was verdraagsaam. Na vele vermanende blikke in die suster se rigting het sy gaandeweg al sagter en sagter gesing en later net saamgeneurie. Uiteindelik was dit oom Frans se beurt om die teksvers uit te lê. Teen dié tyd kon hy natuurlik glad nie meer lekker onthou waaroor dit alles gegaan het nie; hy het immers nie die voordeel gehad dat hy self die teks kon lees waaroor hy moes preek nie. Maar die oom het dan maar die beste van n slegte saak gemaak. Moses was dan n hakkelaar. En soos voorheen vermeld, korrel en fokus was nie die oom se sterkpunt nie. Met die Woord ook het hy wye draaie geloop. As agtergrond moet ek hier net noem dat die diakens nou ook maar mens was. Heel menslik was dan seker ook die swakheid vir die bottel. Ek dink dis hoekom die oom toe die oggend nie juis lus gehad het om die verborgenhede van die Woord te ontrafel nie. Hy het taamlik bont gepreek en ek het my st 5-brein tot sy uiterste ingespan om tred te hou. Uiteindelik steek die oom vas by een vraag; hoe hy dit by die teksvers uit kon bring, sal net hy kan weet. Die oom vra driftig: Wat is snou? Hy vra natuurlik n retoriese vraag soos dit elke goeie prediker betaam. Toe die oom egter die derde keer die vraag herhaal, begin ek agterkom, maar die man verwag n antwoord. En by die uitbly van enige respons vanuit die gemeente wat net so stomgeslaan is, raak die oom net meer manhaftig. Wat is snou? bulder hy en begin met genoegdoening besef dat hy vanoggend die gemeente vir n nulletjie kan boul. Maar oom Frans het nie rekening gehou met die arrogansie van die jeug nie. Toe hy weer vra:Wat is snou? en selfvoldaan voortploeter omdat hy nou al half verwag het dat niemand n antwoord het nie, staan n mannetjie agter in die kerk op en verklaar helder en saaklik Snou is bevrore water. Oom Frans swyg net daar soos die graf. Frozen in his tracks, soos hulle sê. Dit is toe dat ek besef: die Woord het baie verborgenhede. Moenie te veel vrae vra nie, jy mag net die antwoord kry wat jy nie graag wil hoor nie. En jy sit dalk net met n bek vol tande, soos oom Frans … |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |