Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Selfmoord in die sinne/lyke tussen die lyne

Clinton V du Plessis

So af en toe kom daar snaakse goed in my e-posmandjie aan.

In die meeste gevalle kliek ek net op "Delete" en dit is die einde van die storie. Elke dan en wan duik daar egter ook iets op wat ek vinnig lees, uitdruk, in ’n lêer stop en weer later opsoek en met hernieude aandag lees.

Soos die artikel oor selfmoord onder digters.

"Suicide in the words", lui die opskrif.

Volgens navorsing deur die Universiteite van Texas en Pennsylvania is daar ’n studie gemaak van die werk van agtien digters — nege (waaronder Sylvia Plath) wat selfmoord gepleeg het en die ander nege wat geduldig gewag het dat die natuur sy eie gang moet gaan.

Daar is, met behulp van rekenaartegnologie, gekyk na die frekwensie van die gebruik van sekere woorde in die tekste van die onderskeie digters. Op grond daarvan is bevind dat digters wat selfmoord gepleeg het, meer woorde soos I, me en my gebruik het.

Die navorsers kom ook tot die slotsom dat selfmoordsyfers hoër onder digters as onder ander literêre skrywers is — dat dié groep ook geneig is om manies-depressief te raak.

Dink dus weer voordat jy jou spruit aanmoedig om gedigte te skryf!

Dit is maar ’n sad, sad spesie. Maar hoekom is dit so?

Die meeste digters (nie die skrywers van gedigte nie) begin skryf uit ’n gevoel van onvrede met die self, die wêreld, ’n geliefde — dit word ’n bestaan dig teen die dood. Die stuk wit papier of die skerm van die rekenaar word dan die enigste geduldige skouer om jou hartsmart in ’n donker kamer op uit te stort. Skrywers is essensieel eenkantmense, alleenlopers of soos Gerrit Olivier lank terug in ’n rubriek in De Kat geskryf het, alleenstaandes.

Miskien is skrywers (en dan veral digters) in hulle diepste wese mense wat naïef glo in ’n wereld van harmonie, vrede, broederskap, gelykheid en opregtheid, maar deur die werklikheid gedryf word tot ’n siek sinisme. Gebore rebelle, alles een groot vraagteken — hoekom? Of in baie gevalle, hoekom nie? Iemand het iewers geskyf: "Some people see things and ask why, I dream of things that never were and ask why not?"

Ten spyte van die keuse van afsondering is daar tog ’n diepe hunkering (soos in die woorde van Bruce Springsteen) na "someone to talk to and share a little of that human touch". Uiteindelik vind die meeste van hulle niks hiervan nie en kry net momentele ontvlugting in dwelms of seks of knoop "vriendskappe" aan met prostitute. Die ontwykende geliefde wat die inspirasie was agter elke sielvolle sonnet en folterende vers word nou die hoer en die pyn word net tydelik gedeelde pyn, die verwerping ook net tydelik gedeelde verwerping, die gebrokenheid ook net ’n tydelike heelword — teen ’n prys.

Die Boomtown Rats sing dan juis: "And I wonder do you wonder, when you sleeping with your whore, you’re sharing beds with history."

Ek het pas weer na Wopko Jensma se I must show you my clippings gekyk.

En … al die tekens was daar.

Ook by Ingrid Jonker en Eugène N Marais.

Ook by die dosyn of meer wat met hul rugkante na my op die boekrak staan.

Ek wou ook deur ’n digbundel met ’n rooi omslag blaai, maar snaaks hoe ek skielik bang is om dit te doen … is die kluisenaar se grafskrif nie miskien ook alreeds in sy geloofsbelydenis neergeskryf nie?

Elkeen van daardie nege digters van die navorsing en die ander genoemdes het miskien net op ’n dag, soos Charles Bukowski, besef:

As the poems go into the thousands you
realize that you’ve created very
little

it comes down to the rain, the sunlight,
the traffic, the nights and the days of the
years, the faces.

leaving this will be easier than living
it, typing one more line now as
a man plays a piano through the radio,
the best writers have said very
little
and the worst,
far too much

Dit is moontlik in ’n toestand soos dié toe besluit is om die kop in die oond te steek, die see in te stap, die geweer van die haak af te haal, die pildosie in die hand leeg te maak — net eenvoudig oë toe te maak en te swyg … vir altyd.

Die lyk word dan die vraagteken aan die einde van die laaste gedig.

Dit moet die hartverskeurendste oomblik in enige mens se bestaan wees … om op só manier en só alleen te moet sterwe.

Verwysings
Boomtown Rats uit hul liedjie "Banana Republic".
Bruce Springsteen uit sy liedjie "Human Touch".
Charles Bukowski se gedig "as the poems go" uit Onthebus, 1992.
Die artikel oor selfmoord onder digters kan gelees word by
http://abcnews.go.com/sections/living/DailyNews/poets010724.html

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.