Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die sleutel lê daar buite

Clinton V du Plessis


Vat ek soms die lang pad per motor terug huis toe, ry ek my vas in strategies geplaaste reusagtige reklamerame in die oop, vaal, op die oog af troostelose Vrystaatse vlaktes.

In ’n brandewynadvertensie sit ’n man in ’n wit langbroek en ontspan op die strand. Die see blakend blou voor hom. Onder in die hoek van die raam staan daar kort en kragtig:

Dis anders buite.

Verderaan op my tog draai ek af met die pad wat links vurk na Lesotho. Bespreek ’n kamer by ’n hotel, oornag en op die Saterdagoggend ry ek tussen die modderhutte deur wat langs die hoofpad uit Maseru die berge in lei. Die kar se enjin brul as ek vetgee aan die onderkant van die lang, kronkelende pas.

Molimo Nthuse noem die inwoners dit — God help me Pass. On a wing and a prayer, dink ek.

Die pad slenter lui en geleidelik al hoër en hoër op. Klein seuntjies huiwer doodsveragtend kaalvoet met flenter komberse en gebreekte knopkieries op vreesaanjaende afgronde agter bokke aan.

Af en toe versnel ’n motor verby en verdwyn om die hoek voor my, asof die niet in. Steeds klim die pas al steiler, raak dit meer kortasem, maar die motor se outomatiese ratkas versit homself met min moeite. Ek besef later dat jy hier moet bid om verby te kom. Ek ry ongemaklik naby die skouer van die pad en hoogtevreesbedwelmd weier ek om oor die afgrond links van my te kyk.

Na omtrent ’n uur of twee — jy verloor totaal voeling met tyd hier — kom ek by die bestemming aan.

Ponieritte die berge in.

Alles is groen — so ver en wyd as wat die oog kan sien. Hoog op teen die berge loop water drinkskoon uit skeure en kronkel ver onder silwer verder weg. Dit herinner my aan die sprokieswereld van Heidi en Peter in Switserland. Hier is niemand haastig nie — die toergids gaan die stange van die ponies na en verseker my dat hulle die makheid self is. Ek het nog nooit gery nie, deel ek hom mee. No problem, sê hy. Just get on.

Ons is vier of vyf of ses in die geselskap. Af sak ons teen die skuinstes, maar die ponie trap rats vas asof met ABS-remme. Ons ry en elkeen kyk vol bewondering rond. Verby hutte, wat sommige van die inwoners ook uitverhuur aan toeriste. Meestal vroue met klein kindertjies — die mans trekarbeiders in die sprokiestad van goud.

Heel onder in die vallei trippel ons deur ’n rivier; die water is so skoon dat jy elke klippie daaronder kan raaksien. Ons klim af en die ponies drink gulsig. Ek trek skoene uit en voel die lewe koud deur my tone my liggaam binnebyt.

Die stilte tref my — geen motors, geen selfone, geen faksmasjiene, geen singende modems — net die kabbelende water en die ponies wat suip.

Niemand praat nie — dis ’n plek om stil te wees.

Nadat almal gerus het, begin ons die tog terug. Weer stap die ponies sonder moeite die kronkelpaadjies op. Later eet ek rojale vet Vrystaatse lamtjops en roomys en aarbeie in ’n restaurant met ’n waterval wat links langs die venster die dieptes af pletter.

Ek kyk vir ’n laaste keer buite rond en klim terug in die motor.

Die veewagters waai sonder om vir geld te vra. Af teen die hoogtes rem ek, verby die bakens van vroeër, verder af tot onder in die lies van die berg, totdat die omgewing weer skielik onnatuurlik mens word en ek uiteindelik die modderhutte van die oggend verbyry. Die inwoners is in ’n jolige naweekstemming en dans buite onder die geblêr van ’n radio.

Hulle is duidelik moeg en suf van die stilte.

Ek kom nie meer baie buite nie, besef ek opeens. Kantore, winkelsentrums, internetkafees, die woonstel, afsprake, lugverkoeling en die onnatuurlike lig van buisligte. Ek kan nie onthou wanneer ek laas kon opkyk na ’n groot, guitige geel maan en ’n nagswart sterbesaaide hemel nie.

Daar is iets saligs sielvol aan ruimtes, vlaktes, berge. Dit is asof die beklemmende bestaan tussen beton my afstomp. Al meer kry ek hierdie brandende begeerte om uit te kom — met my vingers in die grond te delf, tuin te maak, iets aan die groei te help kom.

Die sleutel lê daar buite, weet ek.

Daar buite waar dit stil en oop is — stil en oop soos dit net hier kan wees, hier in Afrika.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.