Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor boeke, brood (vir my broer), fiksie en feite


Clinton V du Plessis

Ek het onlangs boeke gekoop.

Bykans 4 400 bladsye teen R1 850.

’n Lekker baksel brood vir die siel in hierdie weerbarstige winter wat homself ongenooid bibberend en bytend in elke hoekie van my woonstel kom skuilmaak.

Ek het vir myself die taak gestel om ten minste een boek elke maand aan te koop. In die meeste gevalle bly dit egter nie by een nie, dus moet ek maar wye draaie om die boekwinkels loop.

’n Bottel, ’n boek of ’n vrou teen die koue? Boeke vir my, dankie! Wie het geskryf: “Boeke hou veel langer, en boeke raak nooit swanger.”? Moontlik Hennie Aucamp?

Mens koop nie boeke met ’n inkopielys nie. Nee, jy loop net van rak tot rak, haal hier een af, blaai, betas, hou of stoot dit weer netjies terug. Jy koop op gevoel. Die kleur van die omslag, tekstuur van die bladsye, dikte as die prys te buitensporig lyk.

(So van dikte gepraat: sit ’n paar maande gelede agter twee buitelandse toeriste in die vliegtuig. Jeugdig, manlik, hier vir die son en see en om die hormone vrye teuels te gee. Deur die gleuf tussen die sitplekke kan ek sien hulle blaai deur ’n girlie-magazine. Langsaan ’n kalerige foto van ’n model wat vreeslik onkuis sit, staan daar in ’n pront-front: “Whoever said that size does not matter, was a small dicked liar.”)

Met boeke tel dikte werklik nie altyd nie. Die kassier is lekker verbaas oor die groot stapel boeke wat ek voor haar kom neerplak:

  1. The Penguin Book of Twentieth-Century Speeches, Brian MacArthur
  2. Kleur kom nooit alleen nie, Antjie Krog
  3. Against the American Dream — Essays on Charles Bukowski, Russel Harrison
  4. The dark stream — The story of Eugene Marais, Leon Rousseau
  5. It ain’t no sin to be glad you’re alive — Eric Alterman se biografie oor Bruce Springsteen
  6. Lyfsange, Marlise Joubert
  7. Ons is nie almal so nie, Jeanne Goosen
  8. Killing Pablo, Mark Bowden
  9. Die swye van Mario Salviati, Etienne van Heerden
  10. Tight Lines, Robin Auld
  11. A new century of South African Poetry, Michael Chapman
  12. Tot sterwens toe … Allan Boesak (my eerste een is gesteel!)
  13. An open heart, The Dalai Lama
  14. The Bhagavat Gita, vertaal deur Stephan Mitchell
  15. Intellectuals, Paul Johnson.

Tuis pak ek die dosyn en ’n kwart op die sitkamertafel uit. Die koue mis buite teen die vensters op. Die takke langs die strate het net nog hier en daar ’n paar blare. Ek maak ’n stomende koppie groentesop, skakel die verwarmer aan en begin lees.

Mense wat nie lees nie, weet nie wat hulle mis nie. Maar om jou lees werklik te geniet het jy jou eie spasie nodig. Lees en skryf is antisosiale aktiwiteite: jy doen albei die beste as jy alleen is. Het jy al ooit probeer lees terwyl iemand met jou ’n gesprek voer oor iets waarin jy glad nie belangstel nie? Dit gaan later soos in André le Roux se storie oor Sol en sy dol (Anneline) in sy Sleep vir jou ’n stoel nader.

Sommige boeke bly jou ’n leeftyd by. Op laerskool het ek die boekie gelees oor ’n Nederlandse gesin wat vasgevang word in ’n vloed. Jare later sou ons self die slagoffers word van ’n vloed en dele van die boek het homself onnatuurlik realisties voor my afgespeel. Ek het die karakters se vrees en verlies aan my eie bas gevoel. Fiksie vergestalt as waarheid.

Ek begin met Mark Bowden se weergawe van die lewe en uiteindelike dood van die Colombiaanse dwelmbaas Pablo Escobar. ’n Meesleurende verhaal oor mag en korrupsie, oor ’n man wat vingeralleen ’n hele nasie gyselaar gehou het, maar uiteindelik soos ’n wilde dier gejag en doodgeskiet is. Tydens ’n polisieklopjag op een van sy vele wonings is daar op stapels literatuur afgekom — onder andere ook boeke deur Nadine Gordimer! Pablo se verweer was ook dat hy teen die stelsel baklei het …

Later blaai ek vinnig deur die res, verpoos effe by Antjie Krog se k*k-gedig (het sy ’n fetisj oor k*k? vra ek myself af ). O, waar is die tannies van Aksie Morele Standaarde? Hulle sou sweerlik die k*k-woord een vir een getel, onderstreep en beswaar aangeteken het! Die gehoor by die onlangse Woordfees op Stellenbosch het maar vir my damn ongemaklik stilgesit tydens haar voorlesing van dié gedig. So half asof hulle ook in die hond getrap het, maar ewe beskaafd wou voorgee hulle ruik niks nie.

In Michael Chapman se bloemlesing kom ek af op ene Syd Kitchen se werk, Amakoologik. Ek het hom in 1999 in Durban sien optree, ’n musikant met ’n kruiskulturele aanslag, lekker rocker, moontlik een van Durban se laaste hippies. Ook weeg ek onwillekeurig die ander twee digbundels teen mekaar op. En … ek swyg maar liewer oor die vergelyking …

Ek werk nou stadig deur die res. Die Bhagavat Gita kan jy kwalik vinnig lees. Hierdie is ’n steil opdraand wat jy bietjies-bietjies met ’n kierie uitklim — asem skep en dan weer verder klim. ’n Tog vir meer as een winter.

Ek het ook onlangs koerant gekoop.

Weggesteek op bladsy twee word berig oor ’n hofsaak. ’n Pa word aangekla van die mesmoord op sy twee minderjarige kinders. ’n Seuntjie en dogtertjie, onderskeidelik drie en vier jaar oud. Sy verweer — dat die kinders gekla het dat hulle honger is en vir twee dae nie kos gehad het nie. Uit desperaatheid het hy besluit om ’n einde te maak aan hulle lyding. Nadat hy hulle om die lewe gebring het, het hy ook, onsuksesvol, probeer om sy eie lewe te neem.*

Stof vir ’n storie of gedig? fluister die duiwel in my oor. Die skrywer is immers ’n patetiese parasiet, sonder moraliteit, soos blyk uit Paul Johnson se knap dissektering van die denkers en kunstenaars in sy Intellectuals.

Die storie verteer stadig en bly ongemaklik op die krop van my maag sit. Vir R1 850 kon iemand baie, baie brood gekoop het.

Net daar besluit ek.

Ek sal vir ’n lang tyd, vir ’n baie lang tyd, nie weer boeke koop nie.

* The Star, bladsy 2, Woensdag 29 Mei 2002.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.