Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Bad trip …

Clinton V du Plessis

“Dis lekker by die C” — basuin die selfoonmaatskappy se reklamebord dit in groot rooi letters uit langs die snelweg terug na die lughawe.

Ek beland op ’n klewerige Vrydagaand in ’n goedkoop hotel op die Durbanse strandfront. Geen lugreëlaar! Die kamer is skoon, die kleur verbete uit die handdoeke gewas, die bed klein en die matras hard. Die kamerdeur rattle in die wind wat deur die oop venster rumoer. Daar is nie ’n telefoon nie. Die krane maak ’n onaardse geroggel voordat die water met rukke en stote, soos die woorde van ’n hakkelaar, by die bek uitstotter.

Die televisiekanaal vertoon een van Leon Schuster se haai-kyk-jy’t-in-die-kak-getrap-films.

Moet uit, besluit ek.

Af teen die Golden Mile — op soek na iets te ete. Stap by ’n Indiese eetplek in — ook geen lugreëlaar nie en die waaiers teen die dak is afgeskakel — die diens is swak, maar die ete spotgoedkoop — holbrandsterk gekerriede tjops, tjips en slaai. Dit is byna toemaaktyd en ek is die enigste eter. Die eienaar sit nors by ’n tafel en praat ’n erg gebroke Engels met die kelners — uitlander, van Pakistan, sê die kelner toe ek vis.

Weer terug na die hotel, die wind waai woedend.

Op die stoep van die Beach Hotel staan kelners met bont hemde flink rond tussen baie (hoofsaaklik) wit gaste — die double-brandy-&-coke-generasie wat droom van ’n vakansie op Mauritius, maar moet doen met Durbs. ’n Live band doen cover versions van Elvis en Neil Diamond — “I am I said”.

Twee, drie keer benader die dames van die nag my; ek skud net kop. Ook in die hotel sit hulle die bank in die ingangsportaal vol — hul enigste skynbare deug die dinamika van die dy en die deining van die bors.

Ek lees koerant. Die Engelse dagblad het ’n insiggewende artikel op die middelblad oor Afrikaners wat uit die laer gebreek het — ’n kykie in die psige van ’n volk aan die hand van die lewens van twee van sy briljante seuns — Bram Fischer en Johannes Kerkorrel. Ek skakel die ligte af en staan in die bries by die venster. Van oor die see waai die wind souterig, maar daaragter sweef die veraf walglike reuk van rou riool.

Die dames van die nag loop op en af met die strandfront. Elke dan en wan verminder ’n luukse motor spoed, staan een van hulle nader en klim in. Onwillekeurig dink ek aan Millie Jackson se liedjies waarin sy sing oor die gevare van seks: “There ain’t no such thing as a little aids, unless it’s welfare”, maar verder aan erken sy ook pront: “I’m scared, but I still take a little head”, en nog verder: “if you don’t fuck at least once a year, you are already dead!”

Ek sukkel om te slaap — lank na middernag loop die dames nog steeds. Desperaat, maar niemand wil meer byt nie. Die strate raak stiller, die motors minder, die smouse is almal opgepak en die straatkinders sit in vullissakke toegewikkel op die reling by die hotel se ingang en snuif gom.

Die stad is in slow motion mode.

Volgende oggend eet ek ontbyt. Die hotel is taamlik vol. Dit is duidelik dat die bestuur nou fokus op ’n nuwe mark — swart huisgesinne wat wegbreek vir ’n naweek — die groeiende nuwe middelklas met ’n Sony-videokamera, klein gesinne, ’n verband in die nuwe, voorheen begunstigde woonbuurt en Nike-tekkies op ’n 12 maande rentevrye rekening by Edgars (“we are buying time on credit cards,” het ’n digter iewers geskryf). Al die swart gesinne sit in die groot eetsaal — die wittes ontvlug na die ontbythokkies met ’n skrefie see-uitsig aan die kant. Ek gaan sit in die groot eetsaal.

Later bespreek ek ’n kamer by ’n ander hotel verder af teen die strandfront. Op die elfde verdieping het ek ’n uitsig soos min, ruim dubbelbed en, ja, lugreëling. Ek vaar weer die strate in — soek na bekende bakens.

Al wat oorgebly het van die neon-naambord van die Killarney Hotel, met die bikers en die leerbaadjies en waar meisies met name soos Amber en Glynis en Stacey eens gestrip het, is Larney Hot (vreemde poetic justice!). Waar die groot boekwinkel was en ek my eksemplare van ’n Wêreld sonder grense en Suburbia gekoop het, is daar nou ’n donkerige kroeg waar jy pool kan speel en strip shows kan kyk. Verder af loop ek verby die Lonsdale. Die vensters op die boonste verdieping is stukkend; ’n uitgewaste T-shirt hang vergete en sonverbrand opgekrimp in ’n venster.

Ek onthou hoe ek jare gelede op ’n reënerige agtermiddag by die einste hotel uitgestap het. Langsaan was daar ’n kroeg. “Wanna see ’n strip?” het die Indiër by die deur gevra. Dit was die dae van Scope, met sterretjies, en ek was nuuskierig. Ek het vinnig rondgekyk, asof iemand my sou herken, tien rand in sy hand gestop en ver van die verhogie gaan sit. Sy’t vinnig ingewarrel. Ek het besef dat ek te ver agter sit om iets te kon sien. Sy’t op maat van Janet Jackson se “What have you done for me lately?” begin strip. Sy was lank, blond en mooi. Alles was gou verby, maar sy’t haar nipple caps en G-string aangehou.

In Gillespiestraat is die winkelsentrum verlate (die plek word grootskaals opgeknap en dit lyk of al die ankerhuurders verkas het). By die ingang van die toilet moet ek aan twee dik tannies, op plastiekstoele aan die brei, een rand betaal … die ou wet van Transvaal. Oral teen die deure van die toilette, bokant die spieëls by die wasbakke is kartonkennisgewings aangebring met vet swart kokipenletters:

No loitering, no spitting, no eating, no drinking!

Die blote gedagte dat iemand dit kan oorweeg om hier te eet, maak my naar en ek soek die buitelug op.

Ek kruis die straat en kyk terug. By een van die oop vensters van die Oxford-woonstelblok staan ’n witman en uitkyk — sy vloer is hoog genoeg om die see te kan sien, die skepe wat voor die hawe lê en wag om in te kom, die wat uitvaar. Ek kan sweer dat dit Johan van Wyk is …

Ek pak en staan getas op die hotelstoep.

’n Klein Indiërseuntjie hardloop oor die pad en vra of ek vir die bus na die lughawe wag. Hy’s so agt of nege jaar — ry saam met sy pa. Hy kollekteer my geld, gee ’n kaartjie, maak rats by die motorhawe die bus vol diesel. Terwyl sy pa die bus bestuur, beantwoord hy flink die selfoon en neem besprekings vir die volgende rit. Ons het ’n passasier vergeet. Ons draai om en gaan tel ’n ouerige toeris by ’n vakansiewoonstel op. Hy kollekteer ook by haar, gee die kaartjie en glimlag breed toe sy sê hy moet die kleingeld hou.

“Come again,” groet hy glimlaggend toe ons afklim by die lughawe.

Sy pa is stroef, stuurs en gatvol vir toeriste.

As die vliegtuig traag van die aanloopbaan losskeur, en die liggies al verder en vinniger uitdoof, besef ek ook hierdie stad het niks meer drome oor om aan my te verkoop nie.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.