Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Xmas just ain’t what it used to be

Ek onthou ’n Kersfees wat anders was, ’n Kersfees wat eenvoudig was.

Lank gelede, voor die koms van die “shopping mall extravaganza” middel November, en ’n Kersfees ontwerp deur ad agencies, was daar iets magies rondom Kersfees.

Vroeg reeds het ons as kinders die regte leidrade op die regte plekke laat val oor wat ons graag sou wou hê. Niks buitengewoon uitspattig nie — ’n driewiel, battery-aangedrewe treintjie op spore, of ’n cowboy-holster en rewolwer. Dit was die dae voordat die heup die selfoon begin holster het. Later, toe die hormone die loop begin neem, gewens en gehoop Kersvader reël ’n vrytjie met die sproetgesig.

In die meeste gevalle het ons nooit dit gekry waarvoor ons gehoop het nie, maar die kinderlike geloof het bygedra tot die hele atmosfeer van afwagting wat die tydperk voorafgegaan het. Ons het geleer om — al was dit met teleurstelling — tevrede te wees met dit wat wel die oggend in die kous oor die bed se voetenent gehang het. Miskien sou ons volgende jaar gelukkiger wees.

In ’n huis sonder elektrisiteit met slegs een slaapkamer wat ons as ’n gesin van vyf moes deel, was daar nie plek vir die luukse van ’n Kersboom nie. Dié het vir my net in prentjies bestaan. Kersvader was toe — wat hy vir elke kind behoort te wees — ’n onbereikbare karakter, onaantasbaar ver soos die man op die maan. Ons ouers is die wroeging gespaar van vele hedendaagse ouers wat eers moet wik en weeg voordat hulle ’n kind op Kersvader se skoot sit, omdat die duiwel in hulle oor fluister dat die sneeubaard moontlik ’n dirty old man met ‘n pedofiel-streep mag wees.

Maak nie saak hoe arm ’n gesin was nie, Kersfees was die tyd vir skoonmaak en opruim. Vir sommige het dit net ’n emmer goedkoop helderkleurige kalk teen die mure beteken; ons weer het met groot moeite gekleurde papier aangekoop, geknip en gevou en van die een hoek na die ander teen die dak gehang — ook ballonne en ander kleurryke behangsels en tooisels. Daar was ook dosyne kerskaarte — trots geparadeer op ’n stuk tou, ’n manier om te spog met die baie familie en vriende wat jou onthou het. Nou stuur byna niemand meer Kerskaarte nie ...

Dié was ook die enigste tyd van die jaar dat ons elkeen ’n klein glasbottel koeldrank — bruisswart Coke, guitige-oranje Fanta of windgat-groen Cream Soda — kon kry. As jy min het, leer jy om die bietjie oorvloed wat elke dan en wan na jou kant toe spoel, soveel meer te waardeer. Soms het ons die oggendkerkdiens bygewoon (my ouers was nooit oordrewe godsdienstig nie — dit was hoofsaaklik ’n geleentheid vir die jongklomp om hul nuwe klere en die ander luukse, naamlik skoene ten toon te stel). Ek was nooit lief vir skoene nie; in my matriekjaar het ek kaalvoet en kortbroek my laaste vraestel gaan skryf. Nietemin, skoene was daar, winkelnuut, blink gepoleer, Vaseline-gladde elmboë en Pep Store-bont hemde.

Die prys vir die effe oorboordgaan in Desember het ons gewoonlik aan eie bas gevoel in die — met apologie aan Peter Snyders — “tighten your belt”-bestaan in die daaropvolgende Januarie.

Die hoogtepunt van die dag was natuurlik die maaltyd.

Destyds was hoendervleis ’n skaars dis, kalkoen absoluut slegs vir die uitverkorenes beskore. Maande voor die tyd moes jy uitry plaas toe, en met ’n ruiltransaksie (klere) jou stukkie hoender vooraf vir Kersfees opkommandeer.

Onlangs lees ek die 1981-Nobelpryswenner vir Literatuur, Elias Canetti, se Crowds and Power. Op bladsy 221 maak hy die volgende stelling:


In a family the husband contributes food and the wife pepares it for him. The fact that he habitually eats what she has prepared constitutes the strongest link between them. Family life is closest where its members frequently eat together. When one thinks of it, the picture one forms is that of parents and children sitting around a table. Everything else seems to be preparation for this moment. The more often and the more regularly it recurs, the more those who thus eat together feel themselves to be family. To be accepted at the family table amounts almost to be accepted into the family.

Ons het nooit uitgeëet nie — goddank kon ons dit nie bekostig nie — maar juis as gevolg daarvan het ons altyd saam geëet, altyd, of in die meeste gevalle, eers gewag tot my pa tuiskom voordat my ma enige dis sou opskep.

Kersfees het ons dus almal saam voete onder die tafel ingeskuif, nie net elkeen koers gekry met sy bord en teen ’n radio met oorfone of voor die televisie die maal sonder waardering gaan verorber nie. Dit was soos in Canetti se boek — ’n ritueel: die gebed om dankie te sê, die terloopse opmerking oor die pikante smaak, die behaaglike gevoel van waardering vir alles wat in die maal ingegaan het om dit ’n smaakvolle sukses te kon maak.

Wanneer die gety van brassery — nog ’n bottel Old Spice-naskeermiddel in geskenkpapier, oorverdowende re-mixed Boney M-Kersliedere in die supermark, vals vriendskaplike kusse op die wang, slap handrukke uit gewoonte, eternal love die American Swiss-manier, wegggooihonde by die SPCA, één warm bord kos vir die hawe- en doelloses en ’n skerp opwaartste grafiek met padsterftes — oor ’n week of twee aanbreek, sal ek bly wees dat daar ’n tyd was toe ook ek in Kersvader geglo het, toe Kersfees ’n tyd was van stilte, ook ’n tyd toe jy, as jy na ete vir ’n wyle op die bed gaan lê, dankbaar kon wees vir die eenvoudige dinge in die lewe, soos om iemand lief te kon hê of nie dié dag alleen hoef te moes wees nie.

Hierdie jaar dus, vreugde, en as u kan, geniet ’n maal saam met die gesin, of daardie spesiale persoon, verkieslik rondom ’n tafel.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.