|
|
Oor treine, reis en stukkies nostalgieClinton V du PlessisKleintyd het dit maar broekskeur gegaan, maar ons het gereis, danksy die toentertydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens. As deel van sy karige pakket het my pa die jaarlikse vergunning ontvang om per vrypas na n bestemming van sy keuse te reis (die destydse Suidwes-Afrika inkluis). Jy kon al per motor, vliegtuig of donkiekar gereis het, maar jy het nog nie werklik gereis as jy nie per trein gereis het nie ook nie net enige trein nie, maar stoomtrein. Vir agtien jaar het ons nooit een enkele jaar dié gegewe ysterperd in die bek gekyk nie, maar hom gretig opgesaal en gery. Aanvanklik kon ons net in derde klas (met die harderige banke, of soms in die oop rywa sonder aparte kajuite) ry, maar mettertyd, met meer diensjare en n posbeskrywing n kerf hoër op as arbeider, kon ons promoveer tot tweede klas. Wat ek onthou van derde klas is dat ons soms plek moes deel met swart passasiers hoe geredelik hulle die gevlegte rietmandjie van die heel boonste sitplek afgehaal en gasvry die tuisgebraaide hoender, bakbrood en koffie uit n fles aangebied het. Ek het eers veel later van woorde soos Ubuntu gehoor, maar dié gemaklike mededeelsaamheid het my altyd bygebly. Dit was die jare van baie stasies knus klein plekkies met nostalgiese name soos Poupan, Kraankuil, Beskuitfontein, Bletterman, sommige met kafees, gebakte vis en stomende moerkoffie op koue wintersnagte op groot kruisings soos Noupoort en Touwsrivier, netjiese groen akkers gras by die ingange, bont blombeddings, rooi-gepoleerde stoepe, drywers met blinkgepoetste kostrommels, trotse manne met werk en posbeskrywings soos lampman, wheel tapper, rangeerder en stoker. Elkeen het sy plek geken hulle dáár, ons hier aan die verkeerde kant van die spoor, agter die tien rye diep laning bome wat die dorp in twee verdeel het. Om destyds stasiemeester te kon wees was een van die gesiene nerings, tesame met dié van posmeester, skoolhoof of stasiebevelvoerder. Dié was toe die manne wat elke jaar of twee die nuutste model kar kon ry Opels, Fords, en voor die koms van 4x4s Ranchero-bakkies en El Caminos met die netjies toegeritste leerbedeksel oor die laairuim. Dié werk was alles gereserveer. n Ou skoolvriend, op n aand n paar hotnotjies te veel doodgeslaan, het by die ruskamer ingebreek, n drywer se uniform gesteel en aangetrek, en ewe manhaftig homself op die stasie gaan paradeer. Nodeloos om te sê, die polisie was glad nie deur sy oorlamsheid geïmponeer nie. Daar was ook gerugte van baie katknyp in die donker, omdat die manne wat so lank weg was van die huis en alleen in die ruskamers moes oorbly, ook maar heel menslik toegegee het aan die swakheid van die vlees … maar dit is n ander storie daai! De Aar het gelei na alle plekke. n Polsende aorta van voortsnellende treine, vol troepe om iemand anders se oorlog in n ander land te gaan veg, trollies belaai met springbokkarkasse. Ons moes ure lank daar rondhang om te wag vir n aansluiting na Kimberley. Tóé kon jy nie net sit waar jy wou sit nie; jy moes met bagasie aankarring totdat jy n bank kon kry wat vir jou bestem was, netjies gestempel in wit op die bruin agtergrond: Nie-Blankes. Ook nou bly die gelatenheid waarmee ons dit aanvaar het my by. Eers later sou ek van Small verneem: die Here het gaskommel, en die dice het verkeerd gaval vi ons, daais maar al. Daar is min plekke waar jy so lekker rustig kan slaap as op n trein. Sommer net so in jou gewone klere, met jou arm onder jou kop ingevou as kussing, die ritmiese reëlmatige klik-klak onder jou … om in die middel van die nag wakker te word, die blindings op te trek en te sien hoe n maanverligte landskap by jou verbygly. Sommige ervarings kan jy sonder geld koop. Die skrywery oor treine en reis bring my, met n ompad, by die punt waaroor ek wil skryf, naamlik dat die hele lewe eintlik n reis is soms bestuur jy self en bepaal die roete waarlangs jy wil reis, die snelheid waarteen jy wil beweeg, wanneer en vir hou lank jy langs die pad sal stilhou. Ander tye, weer, klim jy net op die trein en laat jou oor aan die genade van n ander drywer. Jy kom tog nog by jou bestemming uit ietwat stadiger, meer ompaaie, maar beter uitgerus. Daar is ook n ander soort reis, n interne reis, n reis wat veral skrywers baie onderneem. n Beweeg van een opvatting na n ander, jou oopmaak vir nuwe idees, nuwe belewenisse, nuwe betekenisse. Dít is miskien dié belangrikste reis, en binne ons elkeen se bereik, maar die een wat ons soms nooit wil aanpak nie, of meestal vreeslik teësinnig aanpak. Die Prediker was n wyse man. As hy iets oor reis sou skryf, dink ek hy sou geskryf het: Hy wat nooit gereis het nie, is n arm man. |
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |