Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
isiXhosa
isiZulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Kos en Wyn /
Food and Wine
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Huldeblyke /
Tributes
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Michelangelo, angels of the night en Nietzsche se duiwels ...


Ek en my Engelse uitgewer gaan die proewe na van ’n nuwe versamelbundel gedigte.

Ons sit op die plein agter die Michelangelo Hotel in Sandton. Die tariewe per kamer wissel hier tussen R1 550 per persoon tot die presidensiële suite vir R6 300. Natuurlik spotgoedkoop in dollar- of pondterme. Die beste van hierdie land word al meer ’n luukse gereserveeer vir slegs die toeris of die politikus.

Bestel tramezini’s. Na ses weke hier is enige iets beter as ’n dis waarin spinasie, pampoen, tjips of gebakte aartappels figureer. Ons entoesiastiese besluit om buite te sit om asem te skep na twaalf lange ure in ’n beknopte lugverkoelde kantoortjie, blyk ’n onwyse keuse te wees as ons besef dat dié ruimte nou vir rokers beskore is. (Rokers — dié nuwe “non-people” van die nuwe regime. Voorheen was die “non-europeans” en die “non-whites” dié “non-people”. Nou is die “non” gestroop van sy eens pejoratiewe konnotasies, want die “non-smokers” is dié mense.) Sit bly ons egter sit — ons is immers skrywers en skrywers diskrimineer mos nie, altans nou nie so dat jy sal agterkom nie …

5” is die titel van die versamelbundel wat deur Botsotso uitgegee word. Saam met nog vier ander digters be-woord ek die net meer as 120 bladsye, met ook grafiese werk deur die bydraers. Soos altyd is my inset “hardcore” (Henry Adams, neem kennis!) en verskyn voor in die bundel. (“To kick them right in the balls,” merk my uitgewer op.)

Ons stamp vir ’n wyle koppe oor sy Engelse voorstel vir my Afrikaanse “misbruik” van die woord (uit)vers as ’n werkwoord (ek vers my woorde uit), en besluit uiteindelik dat sy poeticise die naaste daaraan kom.

Die gesprek dwaal af na Sandton.

Dié plek is vir baie wittes (ook vir al meer Super 12-swartes)* en ’n magdom Chinese ’n ontvlugting aan die werklikheid van ’n bestaan in Afrika. Hier, in ’n verbeelde mediterreense milieu van restaurante met skilderye van halfnaakte Griekse godinne met rojale borste en olyfdonker tepels, sambrele op die plein, vreemde aksente, Gucci, Armani, Christian Dior, Patek Philippe Geneve en Italiaanse volstruisleerskoene teen R5 999, kan jy maklik jou greep op die realiteit daar buite verloor. Elizabeth Hurley bied aan die uitverkorenes ’n kiek-kans (“photo opportunity”) tydens ’n dinee ten bate van The National Horse Trust en Cape Cart Horse Protection Association. Die gedagte dat Hugh Grant in ’n oomblik van oordrewe jeukerigheid Divine Brown bo haar verkies het, laat my opnuut besef dat die weë van die vlees inderdaad duister is.

Alles kan jy hier koop; alles het ’n prys as jy bereid is om hoog genoeg te bie — lojaliteit, integriteit, vriendskap, ontsag, opwinding, noem maar op. Alles is beskikbaar in die hipermark van homo sapiens. Dit is hoekom my uitgewer verkies om in Yeoville te woon — gevaarliker, maar dan ten minste met jou hand (al is dit bewend) op die hart van die hoer.

Ek kry die idee dat Afrika tog besig is om Sandton binne te slaksluip. In Rivoniaweg staan ’n skorro-skorro-karavaan soos ’n etterende seer uit op hierdie Esteé Lauder-mooi wit vel. Die swart werkers tou daar vir brood, pap en ander versnaperinge, ook by die een of twee straatverkopers met mandjies op van die ander hoeke.

Wie weet, oor tien jaar lyk dit miskien hier soos dit tans in die middestad lyk, is die Michelangelo se lot dieselfde as dié van die Carlton van ouds. Miskien is dit net ’n slenter van die groot geldmagte, ’n manier om alewig hierdie Groot Trek lewend te hou, die vlug weg van Afrika in ons eie klein eksklusiewe hoekie Europa — almal welkom, solank jy net kan betaal. Miskien staan almal se kop alreeds weer Midrand se kant toe. Die rusplek is, helaas, elders …

Jy hoor druppelmin Afrikaans hier; tog merk ek op dat die groot Afrikaanse dagblad elke dag vroeg by die boekwinkel uitverkoop is.

“Be very afraid of the devils of your enemies, for they will come to haunt you,” haal my uitgewer vir Nietzsche aan (miskien nie presies so nie — ek was moeg en kan nie onthou nie, maar iets baie na hieraan).

Gepas, dink ek. Veral as jy daaraan dink dat ’n hele wit generasie hul rug gekeer het op die duiwels waarmee die swart gemeenskap moes worstel. Hoe hulle eenvoudig ’n hele stuk bestaan daar anderkant kon ignoreer — om later skouerophalend te kon sê: “Maar ons het nie geweet nie.” Ek dink dit was meer ’n geval van ons wou nie weet nie.

Jare voordat Faith Popcorn die konsep van “cocooning” vervolmaak het, het ene Hendrik Verwoerd dit in ’n vreeslik ongesofistikeerde formaat hier as apartheid ingevoer. Nou is dieselfde duiwels terug om ’n pond vleis te kom eis in die gedaantes van regstellende aksie, plaasmoorde en ’n nikswerd geldeenheid. Anton Rupert en Desmond Tutu (of was dit nou Pik Botha?) het iets in dieselfde trant as Nietzsche gesê: dat jy nie rustig sal kan slaap as jou buurman honger is nie — hulle het toe ooglopend nog nie van Prozac gehoor nie! Met ’n wyer lens: ook Osama bin Laden se duiwels is besig om Amerika koevertsku en briefbang tot verantwoording te roep.

Dit is skuins voor elf toe ons ophou werk en terugry na die hotel. Die ontvangsklerk se bloedbelope oë en snuifneus verraai sy stryd met sy duiwels. Dit gaan vir hom ’n lang en uitmergelende nag wees.

Ek onthou die donker figure van die hoere langs die bome voor die multi-miljoenrand Nedcor-sentrum; ook die snotbesmeerde gesig van die bakhandkleuter met die hongerdooie staar by die verkeerslig.

Die slaap bly my lank en hardnekkig ontglip.

Uiteindelik sluk ek twee slaappille en dobber weg …


*Super 12-swartes — gemene delers

1. BMW M3
2. Land Rover Freelander
3. Nokia-selfoon, met vibrasieopsie
4. Adres in Sandton
5. Aandeelhouer in bemagtigingsmaatskappy
6. Ontbyt in Hilton
7. Ontstres by Stellenbosch Hydro
8. Wit (blonde) skelmpie
9. Ken vir Thabo, Tito en Tshwete persoonlik
10. Lid van sigaarklub
11. Engels
12. Closet DA-ondersteuner.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.