SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Die naweek weg

Theo Kemp

Die storie het heel onskuldig begin. Die meisie wat weier om te erken dat sy lesbies is en die vrou in wie se baarmoeder geen saad kan groei nie, het met die naweek weg-ding begin. “Ons kan almal in my 4x4 gaan,” het Thomas oorgretig voorgestel toe hulle hom bel en verduidelik dat die berghut redelik diep op in die nou klowe van die Cederberge is. Die pad was stil en die gesprek wou maar net nie op dreef kom nie. Ek het skaars duskant Malmesbury reeds die eerste bier geknak. Thomas wou nie drink nie, en nie omdat hy bestuur nie, het hy my duidelik laat verstaan. Hy het al menige toere met die manne in Afrika gedoen en ken van drink en bestuur. Rowwe pad ry. Uit empatie vir sy swanger Dalene het hy egter die bier van die hand gewys.

Ek moes al van die begin af onraad vermoed het. Wat is die kans dat Madeleine, wat met haar werk getroud is en alle moontlike vrye tyd met my vermy vandat dit duidelik is dat ons nie kan kinders hê nie, uit haar eie uit 'n naweek sal reël? Dit terwyl sy by die huis kan bly om te werk en my te ignoreer. Madeleine het my begin haat toe die laaste hoop op 'n toekoms ook in die toilet afgespoel is. Ek het altyd geweet sy is redelik obsessief oor dinge, maar nie geweet dit kan so erg raak nie. Maar vandat ek werk aan die tema van ontkenning, is asof ek soms self dinge nie wil of kan sien nie.

Dalene sit in die middel van Madeleine en Anne, met haar bene wydsbeen om plek te maak vir haar maag waarop sy ongemaklik haar geswelde hande rus. “Hoekom moet ons so ver ry?” het Dalene vroeër vanmiddag saggies vir my gevra toe ons die bagasie agter in die 4x4 gooi. Thomas was besig om aan Madeleine en Anne te verduidelik dat sy 4x4 gemaak is om heelwat meer kamptoerusting en bagasie te kan vat.
“Ag sus, jy gaan dit geniet...” het ek Dalene probeer moed inpraat.
“Kyk hoe lyk ek, Dieter. Daar is tog heelwat plekke nader aan...” het Dalene (pleitend?) gesê en haar sin in die lug laat hang toe Madeleine by ons kom staan. Sy het met haar een hand om Dalene se skouers gevat en met haar ander hand oor Dalene se groteske maag gevryf. Vir my geglimlag, toe na die maag gekyk en vir die ongeborene gesê: “Jou oom gaan jou eendag ook leer om so mooi te skryf soos hy.” Madeleine het nog nooit enige erg aan my stories gehad nie. Sy voel altyd dat die temas saai en triviaal is. Veral vir die land en tye waarin ons bly. Ek weier om 'n politiek-korrekte skrywer te wees, Madeleine, is my verweer altyd.

Madeleine se selfoon het op pad onophoudelik gelui. Vandat sy redakteur van die sakeblad is, het haar werk net meer geword. Ek en Anne het woordeloos die een bier na die ander gedrink en later het sy 'n bottel port uitgeruk. Ek het nie nee gesê nie, want die pad was nog lank en die stilte het my ongemaklik gemaak. Thomas glo klaarblyklik nie aan radio's in voertuie nie. Ek het Anne ontmoet in my finale jaar by 'n huisparty. Ek, toe nog besig met Honneurs in joernalistiek en Anne, 'n sukkelende Ingenieurstudent. Ons kon vir ure lank kak praat oor boeke en skrywers, die lewe, en alles waaroor 'n mens dronk en pretensieus oor kan filosofeer. Nie dat Anne deurgaan vir pretensieus nie. Daarvoor is sy te butch, en gee sy te min om wat mense dink. Behalwe as dit kom by seksualiteit. Lank nadat ek deur haar Madeleine ontmoet en getroud is, het ek eendag vir haar gesê dat dit OKs om gay te wees. Van toe af het sy besluit dat ek die vark in die verhaal is. Maar sy sal dit nooit sê nie. Nee, sy sal eerder Madeleine teen my opsteek. Ek is gatvol van hulle alewige geheime gesprekke.

Die bier ken net een pad en dit is uit. Oral moes Thomas stop. Anne loop nie soos ek in die bosse in nie. Sy sit sommer langs die agterwiel. Sonder dat ek wil, kyk ek elke keer na haar kaal boude. Daar was 'n tyd toe ek gedink het...

“Pis klaar!” skreeu Madeleine, “die pad is nog lank.”
Intussen het Thomas uitgeskuif agter die stuurwiel en Madeleine sit gevaarlik opgewonde en lag agter die stuur.

“Ek wil voor sit. Fok dit, die mans kan nou bietjie agter by haar sit,” sê Anne. Thomas klim uit en gaan sit langs Dalene. “Langs haar.” Asof sy nie 'n naam het nie. Dit bly my suster. Ek voel die woede in my opstoot, maar klim agterin en druk my hand voor my mond. Ek het tog nie krag vir nog meer onaangenaamheid nie. Die twee susters sal my in elk geval net uitlag. Of my laat glo ek oorreageer. Dit is al diep skemer toe ons op die grondpad kom. Deur die venster kan jy nog net die buitelyne van die berge sien staan met hulle koppe in die laaste oranje aftreksel van die ondergaande son.

“So hoe vinnig kan die wonderwerk ry, Thomas?” vra Anne sonder om om te kyk.
“Jy sal verbaas wees,” antwoord Thomas. En ek wonder of hy verkies om haar sarkasme te ignoreer.
“Wel, ons het 'n oop stuk pad om dit uit te toets!” lag Madeleine. Haar stem klink histeries. Onbeheerd. Ek probeer onthou wanneer haar stem laas so geklink het, maar kan nie onthou nie. Vanwaar ek sit kan ek net die silhoeët van haar gesig sien. Sterk wangbene. Krul-blonde hare wat tot laag in haar lang nek hang. Presies die beeld wat ek as karakter in my stories sal wil gebruik, maar nooit kan nie. Daar is altyd iets aan my eie vrou wat ek nie kan vasvang nie. Dit het my aanvanklik tot haar aangetrek. Maar as 'n mens nie iets kan uitpluis nie, word misterie frustrasie, en hang jy etikette daaraan. Word dit agterbaks en selfs gemeenheid. Miskien is Madeleine reg, miskien is ek 'n slegte skrywer as ek nie in die siel van my karakters kan inklim nie. As ek haar nie kan begryp nie, sal ek nooit...
“Befok!” skree Anne toe ons deur die onverwagse poel jaag en die water donker strepe oor die ruite spoel. Dalene druk met haar hand op my been.
“Stadiger,” mompel Thomas asof hy bang is Madeleine hoor hom.
Dalene sug diep.
Madeleine verwissel na 'n laer rat en ons ry rukkend tot by die volgende diep konka.
“Jy moet maar wydsbeen probeer ry oor die gate,” sê Thomas nou hoorbaarder.

Ons tel vinnig spoed op. Ek draai die ruit af. Die berge kruip weg in die nag. Die 4x4 se ligte moet die enigste teken van mense wees in die verlate pad. Weer jaag ons deur 'n poel. Hierdie keer voel ek die modderwater oor my gesig.
“Kyk waar jy donnerswil ry!” skree ek voor ek myself kon keer. Ek weet ek moes nie.
“Vir wat is jou ruit anyway oop?” antwoord Anne voordat Madeleine kon reageer. Sy draai om en kyk my stip in die oë asof sy verwag dat ek moet jammer sê. Haar olierige hare plak aan haar onversorgde gesig vas. Vandat ek Anne ken, is haar hare versnipperd gesny soos 'n skoolseun s'n. Dink sy doen dit self. As student was dit cool, want dit was so vry. So anders as die ander meisies. Nou irriteer dit my.

“Ek voel nie lekker nie,” sê Dalene in my oor. Dit is die eerste woorde wat sy die aand praat. Sy druk met haar hand op my bobeen. Thomas kyk stip voor hom. Dit lyk asof hy probeer kyk na die spoedmeter.
Madeleine ry al vinniger. Anne steek 'n sigaret aan.
“Wat makeer?”
“Ek voel naar.” Dalene lê met haar kop op my skouer. “My maag.”
“Ry om godsnaam stadiger, Madeleine!”
“Ag jisses, Dieter, jy kan so 'n asshole wees. Die idee van 'n naweek weg is om pret te hê.Vir jou is dit duidelik net om te ...”
Ons het die afdraai gemis. Madeleine slaan brieke aan. Ons gly oor die pad. Ek voel my knie teen Dalene se maag druk voor ons tot stilstand kom en vinnig agteruit ry.
“Is jy orraait?”
“Moet net nou by die einde kom,” het Dalene gesê toe ons voor die hut stop. Sy het eerste uitgeklim en die badkamer gaan soek. Al die klere en kos was al ingedra en byna uitgepak, toe Dalene die badkamerdeur oopmaak.

“Ons moes nooit gekom het nie. Ek moes nooit ingegee het op Madeleine se gekerm om weg te breek nie,” het ek besef toe Dalene swak en oormoeg vir almal nagsê en 'n kamer kies. Thomas het nie lank gesit voordat hy ook kamer toe is nie. Anne het haar port klaar gemaak. Ek was nie meer in die bui om te drink nie. Madeleine het haar skootrekenaar uitgehaal en by die enigste tafel in die leefvertrek gaan sit en begin werk. Nie so lank terug nie, sou ek en Madeleine nagte deur op die internet swerf opsoek na inligting oor vrugbaarheidstoetse, en die nuutste spesialisasies op die gebied navolg. Hoeveel inplantings en toetse is ons nie al deur nie? Hoeveel geld het dit nie gekos nie? Tot op 'n dag wat sy vir my 'n e-pos werk toe gestuur het dat sy nie meer wil swanger word nie en dat ek haar in elk geval nie ondersteun nie. Net daarna het Dalene en Thomas ons een Vrydagaand in 'n restaurant vertel dat hulle 'n kind gaan hê. Madeleine het hulle te hartlik gelukgewens. Ek moes weet dat dit alles voorgee was. Op pad terug het sy gesê dat Dalene verdien om 'n ma te wees, omdat sy in elk geval niks anders het om te doen as om te soog nie. Ek het geweet sy is jaloers – godweet, ek ook - maar hoe moes ek weet dit is so erg?

“Ek weier om te glo dat my lewe op 30 verby is,” het Anne gesê. Dit moes toe al baie laat wees. Ek moes ingesluimer het. Ek wou nog aantekeninge maak oor 'n moontlike storie. Madeleine moes ook intussen gaan slaap het.

Die volgende oggend toe ek die leë portbottel en die vol asbak sien, het die gesprek in vae fragmente na my teruggekom. Ek kan Anne se gesig onthou en die manier wat sy op die bank gesit-lê het. Alles soos in 'n stil movie.
“Is kinders dan al wat mense 'n toekoms gee? Hoekom hang ons nog saam met familie? Waar de fok is ons vriende?” Ek onthou nog hoe sy dit sleeptong gevra het. Sou ek haar ooit geantwoord het? Dit lyk nie asof sy enigsins die gesprek met my gehad het nie.Anne sit buite op die stoep en lees 'n Tom Robbins-boek. Haar gunstelingskrywer. Sy het nog nooit enigiets gesê oor my boeke nie. Ek wou nog elke liewe boek aan haar opdra, en weet nie regtig hoekom nie. Dit was die eerste gesprek in jare wat ons gehad het, en sy maak asof niks gebeur het nie? Het dit? Dalk was dit 'n droom?

“Hoe voel Dalene vanoggend?” het ek Thomas gevra terwyl ons op die stoep staan en kyk vir die berg wat haarself nou heeltemal vir ons wys. Anne het nie opgekyk van haar boek nie. Nog 'n sigaret opgesteek. Madeleine was binne besig met ontbyt.
“Sy slaap nog. Sy het iewers deur die nag wakker geword van 'n nagmerrie.”

Anne kyk op. Frons.
Ek wil gaan stap. Soms help dit om 'n storie uit my gestel te loop. Miskien sou dit beter wees as ek alleen gekom het. Is dit die einde van my en Madeleine? Eers was sy deel van my skryfproses, al wou sy nog nooit wees nie. “Dit is heeltemal te dramaties vir my,” het sy lank terug gesê toe ek nog geglo het sy kan 'n soort muse wees. Dit was 'n manier om Anne uit my kop te kry wat ek nog van my swotjare as 'n soort eerste leser voorstel.

“Wag tot ons klaar geeët het. Dan loop ons almal. Ek en Anne het nie verniet die hele roete uitgedink nie,” het Madeleine geantwoord toe ek aankondig dat ek wil gaan vars lug soek.

“Gaan maak eerder vir Dalene wakker. Sy kan nie die hele dag omslaap nie,” was Anne se kommentaar. Thomas het by sy 4x4 gestaan en die modder met die tuinslang afgespuit. Ek kon nog nooit werklik tot hom deurdring nie. Ek is nie een van die manne nie, en ek is seker daarvan hy sien my as 'n vervelige intellektueel. Maar Dalene is gelukkig, en dit is al wat saak maak. Ek het die kamerdeur oopgestoot. Sy was reeds wakker.

“Hoe voel my favourite sus vanoggend?”
“Wat gaan aan, Dieter?”
Sy het my hand in hare gevat. Dalene is 'n sagte vrou. Min woorde en verwag nie veel nie. Sy sal altyd die stil huisvrou bly. Soveel so dat Madeleine al telke kere gesê het sy vat eerder tien arrogante Thomas'e voordat sy kan cope met een sagmoedige Dalene.
“Wat is fout tussen jou en Madeleine?”
“Daar is niks fout nie.”
“Ek het 'n droom gehad. Ons stap in hierdie kloof en...”
“Die breakfast is reg. Jy moet seker doodgaan van die honger. Jy eet mos vir twee”. Madeleine het intussen ingekom.

Dalene wou nie gaan stap nie. Sy voel te ongemaklik en seer.
“Dit gaan nie ver wees nie en jy moet darem iets sien van die naweek”, het Madeleine eers begin.
“Ja, lief, dit sal jou goed doen om bietjie vars lug te kry”, het Thomas bygevoeg en in die deur kom staan. Die 4x4 skoon vir die uittog terug môre.
“Wat meng jy in, jy en Dieter is nie genooi nie,” laat hoor Anne van haarself op die stoep.
“Ek het gedog jy sê ons gaan almal?”
“Wel, ek het so gedink, maar Anne het 'n great plan. Julle kan mos op julle eie gaan stap,” het Madeleine geantwoord, opgestaan en Dalene aan die arm getrek.
“Kom nou, Sus, dat ons gaan! Trek net skoene aan.”
Dit is die eerste keer dat ek haar hoor “Sus” sê vir Dalene. (“Wat kan ek doen dat jou vrou my ooit as jou suster sal aanvaar?” het Dalene al 'n paar keer gevra.)

Ek het op die stoep gesit en lees, sonder om agter te kom hoe lank hulle weg is. Eers toe Thomas van die sy stoel opspring (hy was ook op die stoep besig om met sy leatherman te speel), het ek gesien hoe die donker wolke oor die naaste bergkop trek. Die kloof was diggetrek van die mis.
“Wat gaan aan?!” Thomas hardloop na die drie vroue wat al amper by die 4x4 is. Dalene loop kromgetrek met haar hande klemmend om haar maag.
Ek hoor haar stem, maar dit gaan weg in die reën wat al harder op die sinkdak val. Dit klink amper of dit hael.

“Sy het geval. Ag jirre, nee. Dit was, dit is, ons enigste kans. Kyk hoe lyk... Hoekom het julle haar laat val?!” Thomas is histeries.
Dalene se rug is bruin van die modder. Sy loop verby my op die stoep sonder om oogkontak te maak. Asof sy nie wil hê ek moet die waarheid lees nie.

“Ons kon haar nie keer nie. Sy het gegly,” sê Anne met 'n sigaret in haar mond. Sy kyk vir Madeleine om dit te beaam. Het ek my verbeel dat Madelein geglimlag het vir Anne?

Die middag het stadig verloop. Ek kon nie my boek verder lees nie. Die reën het plek gemaak vir fyn haelkorrels op die dak. Thomas was in die kamer met Dalene. Soms het dit kompleet geklink of ek snikke bo die haelkorrels hoor. Madeleine was vir 'n ruk lank op die rekenaar voordat sy ook kamer toe is. Ek kon haar en Anne die hele middag hoor gesels. As ek net kon hoor waaroor. Dit is ook nie eers nodig nie. Ek weet tog dit is oor my, oor my familie, oor Dalene, die val. Soms het ek hulle hoor giggel soos twee tienermeisies. Dit op só 'n middag, het ek verergd gedink.

Dit was al skemer gewees toe Dalene uit die toilet kom en wasbleek voor die deur gaan staan.. Dit is toe dat ek die bloedkol deur haar pajamabroek sien lek. Ek weet nie hoe lank ons opgepak het nie. Nog minder weet ek hoe lank dit gevat het om deur die rasende rivier te kom. Ons het tot by Ceres se hospitaal gejaag om te probeer red wat reeds nie meer kon nie.

*
Vir weke lank kon ek nie skryf nie. Tot Maandag toe ek die bottel rooiwyn oopmaak wat Madeleine se pa op een van sy oorsese trips vir my gebring het. Toe begin ek:

Die vrou in wie se baarmoeder geen saad kon groei nie en die meisie wat weier om te erken sy is lesbies het die hele Saterdagmiddag in die kamer deurgebring en bespiegel of hulle plan om die Skrywer se suster se swangerskap te beëindig, suksesvol was.


LitNet: 29 Junie 2006

  • Gaan na die eerste weergawe van hierdie verhaal
  • Terug na SkryfNet IX

    Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.