SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Die naweek weg

Theo Kemp

Die meisie wat weier om aan haarself te erken sy is lesbies en die vrou in wie se baarmoeder geen saad kan groei nie, is susters en het ingestem om saam te gaan op die staptoer. Die vrou, Madeleine, is die redakteur van 'n bekende dagblad en ek, Dieter, 'n relatief bekende Afrikaanse skrywer. Madeleine se suster, Anne, probeer haar M in Ingineurswese voltooi.

Toe ek voorstel dat ons die naweek moet gaan stilte soek ver uit anderkant die stad se gewoel, kon ek sien Madeleine kon haar al die hele naweek voorstel. Sy sal haar skootrekenaar saamneem om te probeer inhaal met e-posse en dinge waarvoor sy gewoonlik nie tyd kry nie en Dieter Die Skrywer sal vir lang ente aaneen gaan stap om nog een of ander irrelevante storie uit te dink waaroor hy 'n boekie kan skryf en hulle albei verveeld kan rondstaan by die bekendstellingsfunksie.

Maar nee, Dieter Die Skrywer wou stilte soek nie om stories uit te stap nie. Ek het twee van my vriende Dirk en Matthys saamgenooi en my swanger suster Dalene en haar man Thomas.

"We could all go with me, you know," het Thomas onmiddellik voorgestel toe ek hom bel en verduidelik dat die naweekhuis redelik diep op in die Cederberge is. Thomas is 'n intekenaar van alle beskikbare naweekwegtydskrifte en sy 4X4 weet al presies hoe om enige ongerepte pad aan te durf.

Die pad is baie goed aangedurf en skaars buitekant Malmesbury het ek vir elkeen 'n bier aangebied. Net Thomas wou nie drink nie, uit empatie vir Dalene. Teen donker was ons reeds naby aan die plek waar ons moes wees. Ek het stilgehou om water af te slaan.

"Fok, kan ons nie maar net aanry nie," wou skoonsus weet. Toe het ek vermoed hier kom moeilikheid.

Vroeër het ek gesien sy en Dirk het gepraat oor haar gunsteling skrywer, Tim Robbins. Matthys, het ek uit die hoek van my oog gevang, het so nou en dan met sy hand aan Dirk se binnebeen gestreel. Anne sou dan frons en 'n ruk neem voordat sy verder vertel. Moontlik het dit haar geïrriteer. Dalk ook nie. Vandat sy besluit het dat ek die kak in die verhaal is, is dinge nie meer wat dit was nie. Eers kon ons, toe ek finale jaar in joernalistiek was en sy 'n sukkelende derdejaarstudent, Vrydaemiddae 'n cort bier gaan koop en vir ure lê en stront praat het in die park. Daar was nooit iets nie, maar tóg. Dit is ook deur haar wat ek Madeleine ontmoet het.

Die eerste aand het almal vroeg gaan slaap. Thomas het die vuur gemaak. "You know you boertjies darem," het hy gespot, "always first to tell that you know how to party. Now…"

Almal het moeg rond gesit en nie veel gesê nie. Dalene het gaan slaap, Madeleine het 'n werksoproep gehad en dit het gevoel soos ure wat sy in die karige kombuis staan en praat. Toe ek opstaan om nog wyn in te skink, was net Matthys in die kombuis, besig om CD's om te ruil.

"Waar is Madeleine?" het ek gevra, waarop hy net sy skouers gelig het sonder om op te kyk van die CD's.

"So jy sê dit gaan goed met die werk?" het ek geselskap gesoek.

"Ja, kak en hare eintlik, maar ons cope," of so iets, het hy gesê voordat hy die Café del Mar-CD opgesit het en voor my kom staan het. (Het ek my verbeel, of was dit nader as wat ek gedink het nodig was?)

"So sê jy eerder vir my, wat is aan die gang."

"Met wat?"

"My fok Dieter…"

Met dié kom Anne ingestap.

"Shit, wat is daai kakkerige boek van daai Afrikaanse skrywer wat die eerste keer oor seks basically geskryf het."

Anne het nooit iets goeds te sê oor Afrikaanse skrywers nie. Nog elke boek wat ek geskryf het, wou ek aan haar opdra.

"Watter een? Daar is deesdae baie van hulle?" het ek flouerig probeer. Matthys het 'n sigaret opgesteek en uitgeloop.

"Man ag fok, ek het vergeet, maar anyway jy moet hoor die kak wat die mense buite praat. Ons is nes daai boek oor die vriende wat weggaan vir 'n naweek en dan mekaar soortvan leer ken."

"Then again," het sy vroeg die volgende oggend die gesprek voortgesit, "ons is ook nie heeltemal so nie. Ek dink ons is pretty much bland sonder genuine vriende." Hoekom het ons nie vriende nie? het ek al dikwels vir Madeleine beskuldig. En haar antwoord sal wees dat waar moet ons die tyd kry om werklik vriende te maak. En dat dit vir jong getroudes in die stad moeilik is om vriende te maak.

"Hoekom de fok het ons nie vriende nie, Dieter? Ek weier om te glo dat op 34 my enigste vriende my familie is. Ek weier om te glo dat my lewe verby voel vlak in die dertigs ,"

"Oe girl," kom Dirk al hoesend op die stoep opgestap, "jy is so beautifully melodramatic. Jisses kykie view mense. Jy moenie kak praat nie, jy is bevoorreg. Jy het 'n stunning personality, jy …"

"Fokkof Dirk."

"Anyway, kyk net die mountains. So mystic jy weet."

Dirk is 'n Drama Queen en 'n Stereotipe en trots op dié labels wat hy dra sonder om daaroor om te gee. Dirk het teen die stoepreling gelê sodat jy nie anders kan as om sy gat te sien nie. Nie sleg vir 'n vrou nie.

Madeleine het tot die middag geslaap. Ek wou haar eerder nie wakker maak nie. Dalena het die kaarte uitgehaal toe die wolke later begin saampak het. Sy het dit uitgedeel tussen my en haar, Thomas en Matthys. Dirk wou nie speel nie, want hy hou nie van kaart-games en bordspeletjies nie. "Ek verloor altyd" , was sy skamerige antwoord. Wat nogals 'n vreemde reaksie was. Dit was vervelig sonder Dirk. Dalene het kaart gespeel sonder om werklik op te kyk. So nou en dan leun sy terug in die stoel en sug swaar. Haar maag ongemaklik groot langs haar. Haar oë soortvan hartseer.

"Is jy OK?" het ek die vorige aand gevra toe ons een keer alleen in die gang tussen die kombuis en die badkamer gestaan het.

"Hoe bedoel jy?"

"Ek bedoel net, dit lyk asof jy hartseer is. Is jy?"

Dalene kan soms optree asof dit nie nodig is om vir haar vrae te vra nie. Asof ek 'n oordrewe broederlike verantwoordelikheidsin het.

Thomas het gewen. Elke spel. Thomas was ook die enigste een wat gekonsentreer het. Die wolke begin dik saam getrek oor die berge. Anne het lê en lees. Ek het net die deur sien oopgaan en sy het vinnig ingeglip by ons kamer.

Ek weet hulle praat van dinge wat hulle nie voor my sal sê nie. Ek weet hulle sê goed oor my, my vriende en my familie. Maar dit is Madeleine se gelag wat my laat opstaan het en drie keer laat badkamer toe stap het. Ek kon nie hoor wat hulle sê nie. Met my kop teen die teëls kon ek nog minder hoor.

Die kaartspel het ons gelos nie lank nadat Thomas die soveelste keer gewen het, die reën onbedaard op die huis se sinkdak neergeplons het en Dirk vir Matthys op een of ander manier oorreed het om buite iewers onder 'n afdak te staan en foto's te neem van die reën. Matthys neem soms foto's en probeer dit sy stokperdjie maak maar kom nie daarby uit nie, omdat sy werk hom te veel rondstuur.

Ek kon nie help om befok te raak nie. Meer geïrriteerd. Met Dalene wat sit en staar voor haar met die kaarte. En so nou en dan denkbeeldig dit uitdeel. Maar sy doen dit op so 'n manier dat dit voel asof ek, Dieter die Skrywer, en nie haar broer nie, na haar moet kyk. Van haar 'n fokken storie moet maak, maar tog nie moet uitvra nie, want ek is die skrywer en nie sy nie.

Dirk en Matthys het toe dit al byna pikdonker buite was teruggekom met stokke en klippe wat hulle in die veld opgetel het en is in kamer toe. Ek het my verbeel ek hoor steungeluide toe ek weer toilet toe is om die 300-ste bier uit te pis. Wat kom nou eintlik van 'n naweek soos hierdie waar jy eintlik net stilte gesoek het?

Die aand het rustig gegaan. Té rustig. Madeleine het nog sporadies gelag. En ek het minder sporadies begin drink. Matthys en Dirk het gaan stort en later met Thomas sit en gesels. Dirk het ons almal mushrooms aangebied, maar omdat niemand wou hê nie, het hy ook nie daarvan geëet nie. Ek is nie seker hoekom niemand wou hê nie. Ek was vir seker al te dronk.

Dalene het begin kla van krampe en vir lank in die toilet gebly. Sy het eenkeer Thomas geroep, wat opgestaan het en na 'n paar minute teruggekom het en sonder om 'n woord te sê gaan sit het. Ek het opgespring toe ek haar hoor skree, maar Thomas het my weggedruk.

Dalene het uit die toilet gekom en wasbleek voor die deur gaan staan en vir die reën gekyk. Dit is toe dat ek die bloedkol deur haar pajamabroek sien lek het.

"Wat gaan aan? Dalene?!" Ek het geskree en Dirk het my oë gevolg.

"O My God!"

Ek weet nie hoe lank ons opgepak het nie. Nog minder weet ek hoe lank dit gevat het om deur die rivier wat besig was om af te kom gejaag het nie. Ons het tot by Ceres se hospitaal gejaag om te probeer red wat kon.

Vir weke lank kon ek nie skryf nie. Tot Maandag toe ek die bottel rooiwyn oopmaak wat Madeleine se pa op een van sy oorsese trips vir my gebring het.

Die vrou in wie se baarmoeder geen saad kon groei nie en die meisie wat weier om te erken sy is lesbies het die hele Saterdagmiddag in die kamer deurgebring en bespiegel oor hoe hulle die Skrywer se suster se swangerskap kon beëindig.




LitNet: 16 Mei 2006

  • Terug na SkryfNet IX

    Wil jy reageer op SkryfNet IX? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.