|
Soms is staan te stewigLisbé Smuts*Klik op boekomslag om by kalahari.net te bestel!
Watervlerk van Ilse van Staden is n merkwaardige debuutbundel. Die sekure beheer van Afrikaans is opvallend, veral teen die agtergrond van die hedendaagse tendens in Afrikaanse tekste om Engels te laat saampraat vir genuanseerde segging. Hierdie anderssoortige stemmigheid in Watervlerk is egter nie net kenmerkend van die taalgebruik nie, maar ook van die inhoud van hierdie versameling deurdinkte gedigte. Maar die leser word nie sommer geheg aan die vier en vyftig gedigte in die goedversorgde boek nie. (D)ié wêreld is ons woning nie, n versreël uit Gegrond, eggo die Totius-gedig, maar ook die wêrelduitkyk wat hierdie bundel kenmerk. n Bewussyn van die beperkinge van aardgebondenheid, van gegrond wees, sluit terselfdertyd n wegkeer van en onttrekking aan die alledaagse, gekultiveerde wêreld in. Gegrond Die bostaande gedig kry n teëhanger in Grond met die beskrywing van grond as lêplek, n skoot, n buik wat berge en dale ten spyt / altyd tot rondheid neig. Die mens se aardgebondenheid kry n ander betekenis, n evolusionêre aantrekkingskrag miskien, deur die gewaarwording van n oeroue, veranderlike, onbeskryfbare iets: daars iets waarom die aarde buig So kry die wêreld, nie as woning nie, maar as as natuurskepping betekenis, en word onkonvensionele natuurgedigte by die Afrikaanse versameling bygevoeg. Wêreldvreemdheid behels in Watervlerk n losmaak van n historiese en sosiale omgewing, en sluit verder n vreemdmaking van persoonlike leefruimtes in, soos in Bure en Here be dragons: Hier is inderdaad drake Die draak, simbool van gevaar en n vernietigende mag, verskyn ook in Monstera deliciosa; en n draak ... knip sy oog in Vlam as die drakon (wat etimologies vertaal kan word as die een met die skerp sig/sien). Soos in Vlam se slotreëls (Ek lag en draai my rug. / Toe knip die draak sy oog.) word die rug hierop gedraai, want die gedigte in Watervlerk gee n voorkeur aan gevleueldes. In die bekoorlike Pegasus word die ek-spreker se wiegende skommelperdrit beskryf. (Almal wat gereeld Pegasus se epos-ikon op die rekenaarskerm bekyk, gefassineer deur die beeld se sjarmante maar gevaarlike engel-perdelyf, en aangelok word deur bloots ry, moet hierdie gedig lees.) Pegasus In die speelse Eng(el) word n ellelange engel in die moderne, ingeperkte ruimte van n woonstel ingepas. Dit is n verruiming. Eng(el) Die wêreld en die woning(s) wat nie n tuiskoms skep nie, het plaasvervangers. n Vrugbare, geiler omgewing word in Watervlerk geskep. Dié omgewing word verbeeld as n baarmoederbestaan se wateroorde in die gedig Stil. Dit word beskryf as n waterblyery in die gedig Selakant, wat n onweerstaanbare aantreklikheid vir donkertes en dryf omskryf: Ek dink daar is n ander sy In Dromer I en Dromer II word droomlandskappe onvergeetlik beskryf as n waterwêreld. Hier in die diep seeskap van drome, / daar lê die aarde ver. Drome is n diep, diep drywende wete / wat agter ooglede ontluik / en soos n donkerwatervis / van son en maan en wind / net deur myle weerklinkende / water bewus (Dromer I). Dit is die donkersee van anderland en n perlemoenskemering (Dromer II). Die taal van hierdie betowerende gedigte eggo die (droom)psige se geluide. Vlerke, gevlerktes en vlieg staan sentraal in Watervlerk en simboliseer die kreatiewe beweging deur die denke en verbeelding. n Tussenin wêreld, tussen hemel en grond, en n drumpelbestaan word geskep. Deur hierdie beweging ontstaan prosesse van verinnerliking en vergeesteliking, soos in Ligvaart: Ligvaart Die uitbeweeg uit die konkrete, aktuele omgewing behels bowenal in hierdie digbundel n inkeer in taal. Dit is die kreatiewe (om)skepping deur die skrywende hand die (v)lerkhand. Handvlerkiges kan ... die verskriklike grond vermy beklemtoon Vlerkhand (die inleidende gedig). Die slotgedig, Waterskrif, vorm n sikliese samehang met Vlerkhand, maar lewer ook ironiese kommentaar as die skryfproses se beperkinge beklemtoon word. Waterskrif Ten slotte word beklemtoon dat woorde en gedigte momenteel n uitkoms bied. Die wêreld is ons woning nie, en gedigte is ook nie n woning nie. Máár as staan te stewig word, word omskepping tog weer en weer moontlik deur waterskrif, deur te skryf: ek ruil myself ook om / in ander woorde, en slaan my skoene / skoon / onder my uit, lees n mens in Skonelapper. Lees word hier ook n vorm van omskepping. Skonelapper *Lisbé Smuts is n senior lektor in Afrikaans en Neerlandistiek aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy met ingang 2004 vakgroephoof is.
|
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |