SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Skokfoto-debat opper vrae oor die soort samelewing waarin ons wil woon

Herman Wasserman

Die debat oor die media se verantwoordelikheid is weer in die soeklig. Die oorsaak van die huidige debat is die publikasie, onder meer prominent op die voorblad van Die Burger, van die naakte liggame van die moordslagoffers Brett Goldin en Richard Bloom. Die reaksie van lesers in die briewerubrieke van dié koerant herinner aan die verontwaardiging wat ‘n paar jaar gelede uitgespreek is toe dieselfde koerant ‘n voorbladfoto geplaas het van liggame wat uitgespoel op ‘n strand lê ná die tsunami-ramp in Suidoos-Asië. Die koerant se verduideliking vir sy besluit – dat die plasing in die “openbare belang” was, dat dit ‘n spieël op ‘n gruwelike werklikheid bied, en dat dit mense tot optrede sal aanspoor, is ook ‘n bekende een.

In ‘n inbelprogram vandeesweek op RSG het verskeie inbellers egter hul steun toegesê aan die publikasie van die foto’s. Hoe grusamer, hoe beter was min of meer die algemene sentiment – dit sal die wetmakers en -toepassers laat regopsit.

Wie het reg in dié debat en wie verkeerd? Is daar ‘n reg en verkeerd?

Etiese kwessies soos hierdie is nie op te los met ‘n eenvoudige “ja” of “nee” nie. Allermins kan ‘n mens by ‘n absolute antwoord uitkom wat in alle omstandighede sal geld. In elke situasie moet daar opnuut teruggekeer word na die kernwaardes en etiese aannames waarby die media sigself wil hou, en dié waardes moet eerstens heroorweeg word en dan binne die konteks toegepas word.

Volgens Die Burger se hoofartikel was die waardes en aannames in dié geval die volgende:

  • Die feit dat die moord op ‘n bekende was, maak dit “die fokuspunt van die samelewing se soeke na wraak”.
Die steun wat implisiet aan die samelewing se soeke na wraak gebied word, is ‘n bedenklike motief. Hier is eerder ‘n “nuus”-waarde as ‘n etiese waarde ter sprake – lesers sal belangstel in die dood van ‘n bekende (en – wees maar gerus ‘n slag eerlik daaroor – meer koerante sal verkoop word). Daarom dat die nabyskoot van die liggame van twee van die vier moordslagoffers in Nyanga die volgende dag slegs ‘n binneblad haal – “nuuswaardes” bepaal dat onbekende mans wat in ‘n veld in ‘n township sterf, nie so “nuuswaardig” is as die dood van ‘n selebriteit nie.
  • Die foto illustreer dat die slagoffers se “naakte lyke langs ‘n besige snelweg gelaat is waar hulle koelbloedig tereggestel is” en “toon weer watter onheil in die skynbaar rustige voorstede skuil”.
Sou ‘n foto wat meer respek aan die slagoffer betoon (wat wel die voorstedelike moordtoneel toon, maar nie sy naakte liggaam nie), nie dieselfde inligting oorgedra het nie? Hier is dit van belang dat elke situasie opnuut heroorweeg word – foto’s van mense wat uit die brandende World Trade Center spring op 11 September, dra wel by tot die skep van ‘n voller konteks van die gebeure. Maar selfs in daardie omstandighede sou etiese grense bepaal dat byvoorbeeld liggaamsdele van slagoffers nie getoon word nie. Het die foto van die “Crazy-moord” wel in dieselfde mate noodsaaklike inligting en konteks verskaf?
  • Die foto word gebruik om “die uitsonderlike te beklemtoon”, “om die tragiese in te span om mense tot optrede aan te spoor”.
Die vraag wat ontstaan, is hoe lank foto’s van naakte lyke op die voorblad wel uitsonderlik sal bly. Erodeer sulke foto’s nie mense se sensitiwiteit nie? Die blote aanname dat dit nodig is vir gru-foto’s om mense onder die indruk van die tragiese te bring, en dat ‘n beskrywing of ‘n meer gematigde foto nie ook hierdie tragiek kan oordra nie, is moontlik ‘n bewys van hoe afgestomp mediagehore reeds geword het. Die aanname dat sulke foto’s mense tot optrede sal aanspoor, word dikwels deur die media as verweer gebruik. Op watter empiriese bewyse is hierdie stelling gegrond? Navorsing oor sg “media-effekte” het die aanname dat daar ‘n direkte, kousale verband tussen ‘n mediastimulus en ‘n gedragsrespons by gehore is, al lankal verkeerd bewys. Die invloed van die media op gedrag vind eerder oor ‘n lang tydperk plaas, in samehang met verskeie ander sosiale faktore. Die langtermyn-effek van sulke foto’s is moeilik om te skat, maar die vraag kan gevra word of skokkende foto’s nie van mense passiewe toeskouers en voyeurs van die makabare maak, eerder as dat dit hulle tot optrede aanspoor nie. Wanneer daar wel optrede deur mediagehore volg, is dit moeilik, indien nie onmoontlik nie, om te bewys dat dit wel die gevolg was van ‘n skokkende foto, eerder as die samevloei van ‘n reeks samelewingsfaktore (waaronder skok-foto’s wel kan tel in sommige gevalle – dink maar aan Hirosjima of Hector Petersen). Maar sulke voorspellings kan nie sonder meer gemaak word as etiese regverdiging nie.
  • Die “openbare belang” moet “swaarder weeg as die individuele” (byvoorbeeld die gevoelens van naasbestaandes).
Die begrip openbare belang is ‘n omstrede en moeilike een. Wie word ingesluit daarby, en wie besluit daaroor? Kan ‘n koerant of ander media-instansie op paternalistiese wyse namens die publiek besluit wat in hul belang is? Moet daar nie baie meer dialoog plaasvind met lede van die publiek (en, let wel, die “publiek” is ‘n baie breër begrip as “ons lesers” of “ons kopers”) oor hoe hulle die openbare belang sien nie? Wanneer dien ‘n skokfoto werklik die openbare belang (“public interest”), en wanneer dien dit eerder openbare nuuskierigheid (“public curiosity”) van die soort wat mense laat stadiger ry by ‘n ongelukstoneel? Wat anders as ‘n aanspraak op die voyeurisme van lesers is die motief agter die prikkelkassie op die voorblad wat beloof: “nog foto’s van die moordtoneel – bl 4”? Waarom is ‘n foto wat skok, eerder in die openbare belang as ‘n foto wat dieselfde inligting op minder skokkende wyse oordra? Is dit nie ook in die openbare belang om ‘n kultuur te skep waar daar meer deernis is vir naasbestaandes en waar daar meer respek is vir die dood nie? Dus, waar ‘n etiek van sorg (geassosieer met empatie) gevolg word nie?
  • Dat dit die koerant se plig is om “die gemeenskap te wys waartoe ons medemens in staat is” en “ons kollektief tot stilstand (te) skok”.
Weer eens: in sommige gevalle sou dit wel ‘n skokfoto benodig om die volle omvang van ‘n tragiese gebeurtenis te toon. Maar dis nie in alle gevalle waar nie. Was dit in hierdie geval nodig? Die media kan ook nie skuil agter die simplistiese en naïewe aanname dat hy slegs ‘n spieël vir die werklikheid ophou nie. Eerder as ‘n “spieël” dien die media as ‘n “projektor” wat ‘n werklikheidsbeeld by lesers skep. En hierdie projeksie kan ook ’n tipe pornografie van geweld wees, en onderworpe aan dieselfde tipe kritiek wat al dikwels gerig is teen stereotipiese nuusfoto’s van honger kinders in Afrika wat veronderstel was om die realiteit van armoede en hongersnood uit te beeld.

Media-etiek is nie ‘n rigiede wetenskap met klinkklare antwoorde van reg en verkeerd nie. Daarom moet daar fyn opgelet word na nuanses, en moet aannames soos dié hier bo elke keer opnuut aan kritiek onderwerp word. Aannames oor die media se invloed op gedrag, en konsepte soos die openbare belang moet ook nie na willekeur gebruik word of op grond van anekdotiese getuienis nie. Daar word baie navorsing oor dié kwessies gedoen, en joernaliste behoort daarvan kennis te neem. Dis ook nie ‘n óf … óf-debat waarin gekies moet word vir die publikasie van álle skokfoto’s of vir die publikasie van géén skokfoto’s nie. Die konteks van elke besluit moet dit bepaal. Die debat is belangrik, nie om redes van preutsheid nie, maar omdat dit vrae opper oor die soort samelewing waarin ons wil woon. Die antwoorde is dalk ontwykend, maar die heel belangrikste is dat die vrae wel gevra word.

Dr Herman Wasserman doseer media-etiek in die Departement Joernalistiek, Universiteit van Stellenbosch.


LitNet: 25 April 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.