SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

’n Kalahari.net resensie

’n Baie dik epos

Helize van Vuuren

Vuur op die horison
Engela van Rooyen
Tafelberg-Uitgewers
730 bladsye
ISBN 0-624-03835-1

Glo die “dikste roman in Afrikaans” volgens ’n onlangse onderhoud (net ’n kort kop voor André P Brink se Die kreef raak gewoond daaraan,1991, in terme van lengte), verskyn Engela van Rooyen se nuutste roman ook midde-in die publikasie-koors rondom die herdenking van die Anglo-Boereoorlog. Slegs in 1998 het daar verskyn Dolf van Niekerk se Brandoffer: Vertellings uit die Tweede Vryheidsoorlog, samesteller Jeanette Ferreira se Boereoorlogstories: 34 verhale oor die oorlog van 1899-1902, Karel Schoeman se Witnesses to war, Groot duiwels dood van Eleanor Baker, Kus van die winterskerpioen deur Johnita le Roux, sowel as Afdraai van AHM Scholtz. Die lys groei steeds …

Vuur op die horison is’n omvattende epiese roman wat oor genres heen sny: dis tegelyk plaasroman (die industrialisering van Kimberley, Bloemfontein en Johannesburg word uitgebeeld), jagavontuurverhaal (olifantjagtery en ’n wildplaas in die destydse Rhodesië), oorlogsroman, gevul met talle liefdes- en familiesages, en moordverhaal. Dit bied ’n kaleidoskopiese blik oor kontinente en oor suidelike Afrika. Daar is ook ’n chronologiese voëlvlug oor die tyd, met die proloog in 1846 (Kaapstad), hierna 1889 (’n plaas in die ou Transvaal) en ’n landgoed in Engeland, 1899 (Wellington en Engeland), 1900 (visie op die oorlog vanuit beide Engelse en Boere-geledere), 1901 (blikke op beurtelings ’n krysgevangene-kamp, ’n konsentrasiekamp, die verwoeste plaas, die lewe in die stede, en die Engelse landgoed), 1903 (uitgeweke boere in Patagonië), en ten slotte terug op die deels-heropgeboude Transvaalse plaas, Grootverlangen, in 1903.

Hoewel Van Rooyen hier kennelik ’n outydse soort realistiese historiese roman geskryf het (anders as die polemiese Op soek na Generaal Mannetjies Mentz) wat val onder die noemer van populêre middelmoot-leesstof, het tegnieke tiperend van die postmodernistiese stroom in die letterkunde nie geheel aan haar verbygegaan nie. So is daar ’n metatekstuele element in die roman waarin voortdurend kommentaar gelewer word oor die aard van die skryf-aksie: “Taal is ’n glibberige instrument” (p 185), “ag waar is tog beter en sterker woorde?” (p 227), ’n tipering van die eie skryfhandeling in “Soos ’n Rider Haggard-verhaal” (p 257), verwysing na die joernalis-karakter, Cockburn, wat ’n “boek oor die oorlog probeer skryf” (p 715), en verwysing na die oorlog as “’n bitter sprokie wat roep om oorvertel te word” (p 575).

Twee sentrale verhaaldrade kan onderskei word: die boere-verhaal waarin Frans Viljoen die macho-hoofkarakter is (geskoei op Deneys Reitz se outobiografiese self in Kommando) en sy geliefde Memorie (sic! watter naam!), en daarteenoor die Engelse verhaal van Michael Dalmain, erfgenaam van ’n ryk Britse landgoed en offisier in die oorlog, en sy uiteindelike bruid Gertruida Viljoen (wie se erfplaas hy kort tevore afgebrand het, sic!). Klaarblyklik vorm die karakters, hul optrede en liefdesintriges parallelle met mekaar. Dis egter by die liefdesintriges wat die knoop lê. Begryplikerwys is dit moeilik om so ’n wye greep aan historiese materiaal tot lewe te roep. Die prosateur het hiervoor, en ter wille van ’n sterk spanningslyn, liefdesintriges ingespan. Dié aspek van die roman is egter totaal onoortuigend en die swakste element daarvan. Dat ’n Boere-held soos Frans Viljoen so verknog deur alles heen sou bly aan so ’n swak, verraderlike, geld-behepte sosiale vlinder soos Memorie, oortuig geensins. Daarteenoor is dit eweneens buite alle begripsvermoë dat die Britse offisier, Michael Dalmain, wat gehelp het om die Grootverlangen-opstal aan die brand te steek en te vernietig, twee dae voor die einde van die oorlog bedank as offisier, sy landgoed en erfenis met ’n kort telegram na Engeland van die hand wys, en dan verder “lank en gelukkig vir ewig daarna” op die einste plaas in die einste huis met die dogter van die plaas (wat soos ’n ware cowgirl in die oorlog met die “Boere in die veld” geveg het) gaan saamwoon! Saamslaap op ’n sinkplaat-bed in die ruïne van die eens trotse opstal, en oa met hoendertjies boer? Aanvaar word deur die grootste gedeelte van die Boere-gemeenskap? Haitata! Te dik vir ’n daalder!

Dat dieselfde aristokratiese Brit na gevangeneming deur die Boeremagte in geradbraakte Engels sou vra “Have you got me a cigarette?” (p 581) gaan alle “suspension of disbelief” te bowe. Hier skrei die ontbrekende hand van ’n goeie redakteur wat die taalversorging en styl moes nagegaan het. Daar is nog talle sulke voorbeelde, soos iemand wie se gesig “frank (sic!) en oop”(p 476) is, “misoginiese versmaaiing”(p 640) vir ’n vrouehater, “moonthede” ipv “moondhede” (p 478) en so meer.

Hoewel die roman dus deeglik nagevors is (klassieke Anglo-Boereoorlog intertekste wat duidelik meespreek in die teks is Die Kappie-kommando, Reitz se Kommando, Raal se Met die Boere in die veld, Anna M Louw se Die groot gryse en Die banneling in die beskrywing van Paul Kruger se laaste dae en Emily Hobhouse se The Brunt of War), en die spanningslyn goed volgehou word, is die binding deur onoortuigende liefdesintriges swak en ’n té opsigtelike poging om die massa materiaal en die parallelle verhaaldrade te verbind met mekaar. Daar is ’n hinderlike neiging na ’n sentimenteel-romantiese inslag (so sing Gertruida voor die oorlog vroeg soggens terwyl sy haar oë in die dou baai!, daar word na Suid-Afrika verwys as ’n land van “ou Boere en tydlose swartes”, en Memorie ly aan “stuwende verlange”). Daar is ’n neiging tot stereotipering van vroue — hulle is óf liefies óf heks-stiefma’s, Addie Williams is “uitgesproke vir ’n vrou”…Ook die verhouding tussen swart en wit is problematies uitgebeeld. Karools wat kleintyd vir Betta veldplante aangedra het, en erg geheg is aan haar broer, verkrag haar tydens die oorlog soos ’n dier. Op haar beurt vergiftig sy hom. Al haar ses kinders sterf in die konsentrasiekamp en al wat sy oor het, is hierdie kind van Karools, “Dingetjie” (sic!) genaamd. Hulle wyk uit na Patagonië omdat haar man nie die skande oor die donker kind kan verwerk nie…Ook Ouboet Retief wat in die oorlog via ’n Kakie-lover (!) uitvind dat hy gay is, vra darem erg veel van die leser se naïewiteit…

Die blywende indruk is een van ’n magdom motiewe en materiaal wat aangesny en ingesluit word, maar wat bly steek in ’n ietwat lompe populêre roman wat dikwels nie oortuig nie — nie in woordgebruik nie, en nie in die liefdesintriges wat die “ruggraat” vir die verhaal vorm nie. ’n Mens bly ook wonder wat die implisiete ideologiese faset van hierdie roman inhou vir ’n siening van Suid-Afrika en sy verhoudinge ’n eeu later. Karools se ma praat met hom oor die verhouding tussen swart en wit as sou die wittes altyd gee (“die hand wat die kos gee”, p 106). Vuur op die horison faal deurdat dit bly steek in ’n onoortuigend-romantiserende en plek-plek stereotiperende beeld van ’n afgeslote tydperk, sonder skynbare bewussyn van die breër implikasies wat etniese en rasseverhoudinge vir die hede het.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.