|
Te veel simpatie met hierdie sterwende dierWillem Anker
André Brink se nuwe roman, Voor ek vergeet, handel oor vroue. Baie van hulle. Chris Minnaar is 'n bekende Suid-Afrikaanse skrywer. Hy is 78 jaar oud, sy ma is 103 en dié lê op sterwe. Die mees onlangse groot liefde van sy lewe, Rachelle, is so pas dood. Nou skryf hy angstig terug oor al die vroue in sy lewe wat hom - in sy woorde - gemaak het wie hy is, voor hy vergeet. Soos gewoonlik skryf Brink onweerstaanbaar vlot. Behalwe die oorvloed vroue uit Minnaar se verlede, is die roman ook vol Brinkiaanse idees. Minnaar en sy vriende voer deurnaggesprekke oor wyn, opera, kuns en politiek. Minnaar op sy eie, in sy notaboeke, mediteer oor die liefde, in hoe mate iemand anders besit kan word, oorlog, geweld, getrouheid, die dood. Alles binne die raamwerk van die eksistensialisme, spesifiek soos gevind in Brink se geliefde Camus. Verskeie motiewe en inhoude in Voor ek vergeet herinner aan vorige Brink-romans, sommiges, soos later aangetoon sal word, bewustelik deel van 'n metafiksionele spel, ander miskien 'n blote voortsetting van sy bepaalde skryfwyse en struktureringswyse. So byvoorbeeld is daar Aia die Xhosa nanny, duidelik weer eens 'n aardmoeder- en storievertellerfiguur, asook die welbekende Sjeherazade. Soos in Donkermaan is daar ook die vae spore van Leroux se 18-44 waar, in die psige van die verteller, verskillende vroue in verband gebring word met keerpunte in die geskiedenis. Die feit dat Minnaar sê dat hierdie vroue hom "gemaak" het, stel hulle duidelik as anima-figure op. Suid-Afrika word beliggaam in verskillende vroue; Minnaar se intense betrokkenheid by die struggle spruit uit sy intieme verhouding met sy geboorteland. Belangrike gebeurtenisse in die politieke geskiedenis word direk in verband gebring met sy liefdesverhoudings - hy vra byvoorbeeld sy vrou om te trou wanneer hy die nuus van die moord op Verwoerd hoor; die land neem as 't ware 'n menslike, vroulike, gesig aan. Aan Francois Smith sê Brink in Die Burger (6 November 2004) dat die roman 'n spel met die skrywerspersona is, 'n inskryf teen sy reputasie en die kenmerke van sy oeuvre in. Hy beskryf die roman as 'n satire, 'n glimlag. In 'n ander onderhoud, met Maureen Isaacson in The Sunday Independent (31 Oktober 2004), beskryf Brink sy hoofkarakter as egosentries en selfbehep, selfs narsissisties. Die roman is klaarblyklik dus 'n ondergrawing van hierdie selfbehepte skrywer-karakter. Tog het die roman ook sy donker kant: behalwe die satire spreek die roman ook die ernstige onderwerpe van die dood, herinneringe en die vervlietenheid van die liefde, ook die herinneringe daarvan, aan. Wat dus hier aangetref word, is 'n karakter wat aan die een kant ondermyn word, en aan die ander kant 'n spreekbuis word vir eksistensiële kwessies wat in die teks uiters ernstig opgeneem en aangebied word. Hierin lê die probleem met die roman. Hier lê twee romans in een teks sonder dat enige een tot sy volle reg kom. In wese 'n siamese tweeling waar die een brein die ander nie kan verdra nie. Minnaar beskryf "sy" vroue deur van wyn-metafore gebruik te maak: die een 'n "swaar, eksotiese dessertwyn", die ander byvoorbeeld 'n Sauvignon Blanc, iets om te drink, te verorber; hulle voed hom, maak hom (verdwyn in hom?). Die roman is deurspek met soortgelyke uitlatings deur onse Minnaar, wat duidelik ten doel het om die karakter te ondermyn: "Daarom is daar niks wonderliker as hierdie geleendheid om in haar in te dring nie, nie net haar vagina nie, maar in haar self" (73). Ook waar hy wens dat hy 'n priester was, om al die belydenisse aan te hoor en sodoende op 'n afstand bevredig te kan word (184). Hierteenoor weer is daar die gedeeltes waar Minnaar voor die TV sit en die oorlog in Irak dophou. In hierdie gedeeltes kom weer sterk (pseudo-) feministiese tendense deur, dat die hele oorlog 'n blote chauvinistiese magspel is tot verowering van die Ander, 'n desperate bewys van Amerika (en die amusante klein George W) se betwyfelbare manlikheid: Die hele affêre herinner mens eintlik teen wil en dank aan 'n gewetenlose man wat hom voorgeneem het om, kom wat wil, 'n bepaalde vrou te "kry". Wanneer hy haar uiteindelik oorweldig en besig is om met verbete woede sy sin te kry, kom hy skielik agter dat dit al die tyd die verkeerde vrou is. Nou het hy die keuse om maar voort te gaan en klaar te maak, of uit te trek. 'n Moeilike situasie. En al waarvan mens seker is, is dat iemand besig is om genaai te word" (188). Hierdie beeld word later ondergrawe deur die opstel van die stereotipiese binêre oposisie van die man as aggressor en die vrou as lewegewende wese: Die blywende beeld van manne wat deur alle eeue die wêreld bly opfok - met die vrou wat die lewe aan die gang moet hou en 'n sekere soort heelheid probeer verseker (272). Deur die vrou op te stel tot so 'n bomenslikheid, word sy juis minder gemaak, word sy 'n blote antitese van manlikheid, 'n afwesigheid. Hierdie idee strook heeltemal met die Minnaar karakter en sy siening oor vroue. Die probleem is juis dat hierdie satirisering van hom miskien te subtiel is en nie duidelik genoeg op die voorgrond gebring word nie, dat dit nooit duidelik genoeg gemaak word dat die teks hom wil ondermyn nie. Miskien is die rede hiervoor dat hy die gewigtige idees rondom die dood en die klou aan laaste herinneringe ook moet dra, dat hy 'n spreekbuis vir die eksistensialisme moet wees, en dus nie te wreed deur die teks hanteer mag word nie. Ook die Suid-Afrikaanse politiek kom onder die loep. Die argetipe van die Nasionalistiese pa maak weer eens sy terugkeer. Seks oor die verleidelike kleurgrens, die idiotiese veiligheidspolisie met hulle flenniebroeke, die struggle en die euforie van 1994, die bitterheid oor die Nuwe Suid-Afrika (die reënboog nou net 'n rou kneusplek), dit is alles hier. Die probleem is dat hier niks nuut is nie. Een van die interessante insette in die roman is die terugkeer van vroue uit ander Brink-tekste en ook 'n paar uit die wêreldletterkunde: die reedsgenoemde Sjeherazade van Duisend en een nagte, Nastassja Filippovna uit Dostojewski se Die Idioot, Gunhilde uit Miskien nooit, Andrea uit Die muur van die pes, asook Nicolette uit Die Ambassadeur. Van hierdie metafiksionele gekafoefel met karakters is die Nicolette-episode die interessantste. Die ouderdom, dwelms en seks het Nicolette nie goed hanteer nie. Haar "geskonde" liggaam is gekneus, vol spatare en selluliet. Sy het egter nooit haar ambassadeur vergeet nie. Die jonge Abbie kritiseer Minnaar oor sy stereotipiese nimfagtige karakters met hulle klein borsies en Gunhilde vertel van haar verhouding met André die Suid-Afrikaanse skrywer. In sy beheptheid met seks en met homself verbeel die stomme Minnaar hom dan in alle detail presies wat Gunhilde en hierdie André tussen die lakens aanvang. Hierdie metafiksionele spel word verwikkeld as die reeds geskape karakters vroue word in die skrywer-karakter se lewe, maar nooit hulle bestaansmodus as karakters verloor nie, juis omdat die leser hulle erken uit ander tekste, of aan die einde van die roman Brink se "Erkenning"-nawoord lees. As gevolg van sy aftakeling, geestelik en fisies, klou Minnaar aan elke klein detail, probeer hy elke vrou in sy verlede tot die lewe herroep. Wanneer hy praat oor die aard van herinneringe is die teks duidelik ernstig; ook die tonele by sy ma se sterfbed word met 'n fyn kwas geskilder. Hierdie tonele word afgewissel met talle beskrywings van Minnaar se sekskapades en soms is dit moeilik om te sê waar Brink ernstig is in sy beskrywings van Minnaar se manewales. Miskien net te veel maanbeligte aande op silwer strande, misterieuse danseresse, meisies in granaatbome en Franse nimfe in huisbote. En dit is sekerlik wat Brink wil hê, juis om die leser aan die raai te hou. Juis op hierdie wyse lewer hy kommentaar op en satiriseer hy sy eie skryfwerk en die gepaardgaande kritiek, wat self al in 'n reeks clichés verval het. Die feit bly egter staan dat wanneer Brink afwyk van sy gevestigde strukture, bedoelende ook die strukturering van sy karakters, die afwykings amper te ekstreem en te bewustelik voorkom. In plaas daarvan dat karakters soos Hanna X uit Anderkant die stilte, of die teruggekeerde junkie-koningin Nicolette in Voor ek vergeet, werklik nuwe en unieke skeppings word, bly hierdie karakters steeds 'n funksie van die stereotipering waarvoor hy meermale aangeval word. Is Voor ek vergeet 'n elegie? Is dit 'n meditasie oor verganklikheid en die dood, 'n sinspeling op die absurde held Sisifus van Camus? Of is dit 'n satire, 'n metafiksionele gelag deur Brink vir homself en vir sy kritici? Indien eersgenoemde, sou dit miskien meer sin gemaak het om die seksuele beskrywings in 'n totaal ander, miskien meer opregte en twyfelende, selfondersoekende in plaas van selfbehepte trant aan te bied. Indien laasgenoemde, skort daar die brutale wreedheid van 'n Philip Roth, soos waar hy sy verouderde, jagse karakter professor David Kepesh in The Dying Animal tot die been toe oopsny. Uiteindelik blyk daar slegs een antwoord te wees op hierdie vrae, en dit is dat hierdie vrae juis gevra word, en hierdie onduidelikheid juis bestaan, omdat die karakter van Minnaar nooit veel meer as ink word nie. Roth se karakter is 'n veel meer haatlike persoon as Minnaar, maar juis as gevolg van die amper banale ontbloting van Kepesh se binnegoed kon hierdie leser simpatie met dié ou dier hê. Miskien is daar te veel simpatie in die Brink-teks vir die sterwende dier Minnaar om hom so te ontbloot; miskien juis daarom bly die leser verwyderd van hierdie karakter wat meer idee as rou vleis is.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |