SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Wie is waardig om as ’n voorbeeld te dien vir die mensdom?

Vasti Roodt

is ’n lektor aan die Universiteit van Stellenbosch in Politieke Filosofie, Filosofie en Kuns, Klassieke en Moderne Politieke Denke en Sosiale Geregtigheid.

Hands that Shape Humanity
Iziko Slave Lodge, Adderleystraat 49, Kaapstad
Maandag tot Sondag, 10 vm tot 4 nm
Uitstalling duur tot Oktober 2005

Wie is waardig om as ’n voorbeeld te dien vir die mensdom? Watter woorde en dade het so ’n impak op die wêreld dat hulle ons verstaan van ons eie menslikheid vorm en slyp? Hierdie is die vrae wat opgeroep word deur die uitstalling Hands that Shape Humanity wat tans in die Iziko Slawehuis in Kaapstad besigtig kan word.

Volgens die reklame is die uitstalling “the world’s largest humanitarian art exhibition”. In sy huidige gedaante bestaan die uitstalling uit ’n multimedia-installasie gefokus op 35 individue wat elkeen, volgens die kurators, ’n eiesoortige bydrae lewer of gelewer het tot die vorming van die mensdom. Daar word beplan om die uitstalling oor die volgende twaalf jaar uit te brei tot 400 deelnemers. In die onmiddellike toekoms sal die uitstalling die wêreld deurkruis totdat dit ’n permanente tuiste vind in die beoogde Desmond Tutu Peace Centre. Die uitstalling as geheel word dan ook aangebied onder die vaandel van die Desmond Tutu Peace Foundation.

Die doel van die projek is om boodskappe van wysheid aan die mensdom voor te hou soos uitgedruk deur “ordinary people who have done something extraordinary with their lives”. Elkeen van hierdie “ongewone gewone” mense word gehuldig in ’n installasie bestaande uit ’n sentrale videoskerm of foto wat ’n meer-as-lewensgrootte beeld van die persoon vertoon, omraam deur panele waarop die betrokkene se woorde van wysheid verskyn.

Selfs so ’n kort opsomming behoort al reeds aan te dui dat hierdie ’n uiters ambisieuse projek is. Waar begin ’n mens met die bymekaarmaak van voorbeelde? Wie is in en wie is uit?

Politici, lyk dit my, het meestal nie die paal gehaal nie, behalwe vir Shimon Peres, wat tans in koalisie met Sharon in die Israeliese parlement sit, en FW de Klerk. Musici word verteenwoordig deur Cesaria Evoria en Carlos Santanyana. Skrywers is daar wel (Douglas Coupland, Isabel Allende, Paul Theroux, Paulo Coelho, Chinua Achebe, Tom Robbins, Georgia Byng en Nadine Gordimer). Daar is een digter: Keri Hulme. Sportsterre kry ’n redelik groot plek in die son (Ian Botham, Marion Jones, Wayne Gretzky, Lennox Lewis, Jona Lomu); so ook filmsterre (Gillian Anderson van X-files en Natascha McElhone, wat beskryf word as “mother, actress, English rose”). Jane Campion is daar as filmmaker. Daar is een wetenskaplike (Craig Venter, een van die hoofspelers in die ontknoping van die menslike genoom). Die argitektuur word verteenwoordig deur Richard Rogers van Millennium Dome-faam, en die skone kunste deur Marc Quinn, bekend vir die borsbeeld wat hy uit sy eie bloed geskep het. Phillipe Starck staan in vir die wêreld van ontwerp. Filosowe en denkers word verteenwoordig deur twee rabbi’s (Adin Steinsaltz en Norman Lamm) en Edward de Bono. Gary Kasparov word waardeer as “chess champion, educator, activist”. Die wysheid van die sakewêreld word verteenwoordig deur Anita Roddick van The Body Shop en Tom Peters (skrywer van In Search of Excellence). Laastens is daar die vredesaktiviste en politieke dissidente. Onder eersgenoemde val Desmond Tutu, Noor-al-Hussein van Jordanië, en Sam Nunn en Richard Lugar wat hulself toespits op aspekte van wapenproliferasie. Dissidente word verteenwoordig deur Wei Jinsheng, wat dekades lank deur die Chinese regering opgesluit en later verban is, en Saad Ebin Ibrahim, wat min of meer dieselfde behandeling in Egipte moes deurmaak.

Nou, enige poging om ’n soort kanon van eksemplariese lewens saam te stel moet noodwendig debat en kritiek uitlok. Dit is ondenkbaar dat enigiemand hierdie of ’n soortgelyke uitstalling kan besigtig sonder om te vra: “Waarom so-en-so maar nie so-en-so nie?” “Waarom nie meer van hierdie en minder van daardie nie?”

Ek is deeglik bewus van die feit dat die een se ikoon die ander se hoon oproep, en ek het dus my bes probeer om hierdie vrae op die agtergrond te skuif in die uur of twee wat ek tussen die uitstallings rondgeloop het. Nogtans kon ek met die beste wil ter wêreld myself nie oortuig dat dit ’n geslaagde uitstalling is hierdie, of dat dit ’n waardevolle bydrae lewer tot ons kollektiewe wysheid nie.

Die redes hiervoor is nie bloot dat individue uitgesluit is wat ek ingesluit sou wou sien of andersom nie (alhoewel ek moet erken dat dit my teen die bors stuit dat naas Desmond Tutu, wat ek inderdaad ’n eksemplariese persoon ag, FW de Klerk en Nadine Gordimer onderskeidelik Suid-Afrikaanse politieke aktivisme en letterkunde verteenwoordig). Maar goed, laat ek erken ek is bevooroordeeld in sekere rigtings, en dat geen uitstalling van hierdie aard enigiemand ooit sou kon bevredig nie, behalwe indien hulle toegelaat sou word om self die voorbeelde te kon gekies het. Daar is egter ’n aantal probleme met die konseptualisering en opstelling van hierdie uitstalling wat verder strek as kwessies rondom persoonlike voorkeure en vooroordele.

Die eerste probleem het te doen met die professionaliteit van die uitstalling. Alhoewel dit met eerste oogopslag heel indrukwekkend vertoon, is daar skokkend min aandag gegee aan die versorging van die tekste wat langs die beelde van die onderskeie persone verskyn. Soms is daar gewoon foutiewe spelling, ander kere is letters of selfs hele woorde eenvoudig weg, met ’n gat in die teks om hul misterieuse verdwyning aan te dui. Verder bestaan daar geen katalogus van die uitstalling nie. Daar is slegs ’n “little book of wisdom” in die formaat van die geskenkboekies wat ’n mens by die verkoopstoonbanke in sommige boekwinkels kry, en wat ’n paar reëls van elke persoon se wysheid weergee. Nêrens word egter aangedui wat die kriteria was waarvolgens die betrokke figure gekies is, hoe die hele gedagte tot stand gekom het, wie vir die onderhoude met die persone verantwoordelik was, of wie die kurator(e) van die uitstalling is nie. Ek het die afwesigheid van hierdie inligting baie frustrerend gevind, veral omdat ’n beter begrip van die kriteria vir insluiting dalk sou kon dien as antwoord op van die kritiek wat ek hier onder bespreek. Byvoorbeeld: dalk is al die persone wat hier verteenwoordig word, op een of ander manier persoonlik bevriend met Desmond Tutu, en het hulle op sy versoek aan die projek deelgeneem. In die afwesigheid van sulke inligting kan ek egter nie anders as om krities te wees oor die klaarblyklik arbitrêre wyse waarop besluit is wat geld as ’n bydrae tot die mensdom of wysheid nie.

Die volgende en grootste probleem met die uitstalling is dat dit gewoon nie bied wat dit beloof nie. Ek is nie oortuig dat ons menslikheid geslyp, uitgedaag of verander is deur meer as ’n handvol van die persone wie se wyshede hier aangebied word nie. Daar is maar min sprake van “powerful messages of wisdom that they leave behind for humanity”. Soetsappige en gerusstellende gemeenplase is egter volop. ’n Mens lees byvoorbeeld dat jy óf moet glo in jouself ten einde jou lewensdoel te bereik óf moet twyfel in jouself sodat jy ’n nuwe begin kan maak; dat jy gaaf moet wees met ander; dat liefde die antwoord op alles is; dat vergifnis bevorder moet word; dat die lewe ’n reis is; dat ons deursettingsvermoë moet toon; dat ons ons kreatiwiteit moet ontgin; dat vrede beter is as oorlog, en meer in dieselfde trant.

Hierdie is nie noodwendig onwyshede nie. Ek sal selfs so ver gaan om te sê dat hulle inderdaad waardevolle gedagtes is wat ons menslikheid op verskillende maniere informeer. Maar dit verg tog geen geniale wroeging om tot enige van hierdie insigte te kom nie! Wie sou wou voorgee dat hulle stomgeslaan is deur enige van hierdie sienings oor kreatiwiteit, liefde, vrede, verdraagsaamheid, kreatiwiteit, ens? Dit lyk my asof die uitstalling eerder probeer om die algemene idees wat rééds ons verstaan van ons menslikheid informeer, te verwoord as om ons tot stilstand te ruk deur ons met nuwe insigte te konfronteer of om ons algemeen-aanvaarde oortuigings te bevraagteken of te ondermyn. (Daar is ook uitsonderings: meer hieroor later.)

Goed, het ek dus vir myself gesê soos ek van die een gemeenplaas na die ander gewandel het, dit gaan eintlik nie soseer oor wát hier gesê word nie, dit gaan oor wié dit sê. Met ander woorde, die uitstalling konfronteer ons met individue wat so ’n impak op die wêreld gemaak het dat hulle lewens, en nie (net) hul woorde nie, as voorbeelde dien van hoe ’n menslike lewe geleef kan word. Hulle lewens is dus self die beliggaming van die wyshede wat hulle verwoord. Daarom, wanneer Tutu sê: “People are fundamentally good. We are made for love, for generosity, for sharing, and compassion, for transcendence … We are made to reach for the stars”, gaan dit nie om die woorde alleen nie, maar om die hele, eksemplariese lewe waarin sy woorde geanker is. Dieselfde geld dan vir, sê maar, Saad Edin Embrahim se opmerking dat “Freedom is freedom, everywhere”, of Lennox Lewis wat sê: “If you treat everybody nicely then they’ll mirror you.”

Ek dink dat dit ’n meer betekenisvolle manier is om die uitstalling te benader, en dit help om die irritasie met gemeenplasighede gedeeltelik te oorkom.

Terselfdertyd rig hierdie perspektief weer die aandag op ’n ander, knaende probleem wat die uitstalling ondermyn, naamlik dat daar nie genoeg onderskeid getref word tussen blote bekendheid en grootsheid of merkwaardigheid nie. Wat op aarde is die sin daarvan om van Gillian Anderson/Agent Scully te hoor dat “The fears that live inside us … prevent us from living our highest potential as individuals, as contributors to the human race”? Of van Jane Campion dat “being inside is very simple. It’s very universal. It’s being in my body. Being relaxed. Being sensitive. And feeling divine.” Marion Jones besing op haar beurt “strength of character” terwyl sy midde-in ’n skandaal is oor die gebruik van verbode middele. Ek wil my verstout om te sê dat hierdie mense ingesluit is omdat hulle bekende gesigte is in ’n celebrity-gedrewe kultuur, nie omdat hulle self eksemplariese lewens lei of grensverskuiwende bydraes tot menslike kennis, kuns of literatuur gemaak het nie. (Nog name in die uitstalling wat in hierdie kategorie val, is Anita Roddick, Natascha McElhone en Edward de Bono. Daar ook ’n hele klompie skrywers wat binne hierdie kategorie tuishoort, maar oor hulle sal ek liewer swyg.)

Die gevolg van die verwarring tussen roem en grootsheid soos wat dit in die uitstalling aangebied word, is ’n felle en onvrugbare kontras tussen treffende woorde en eksemplariese lewens aan die een kant en popkultuur-inspirasie vir verstokte, middelklas (wit?) voorstedelikes aan die ander kant.

Terwyl ek nou klaar my nek uitsteek, laat ek dit maar ’n entjie verder rek en sê die uitstalling as geheel - ten minste soos dit tans daar uitsien - verklap ’n Westerse, middelklas wêreldbeeld, waar die oorgrote meerderheid individue gehuldig word omdat hulle ikoonstatus bereik het binne die hoofstroom Westerse kultuur. Ek wil géénsins beweer dat hierdie persone nie as eksemplare kan of mag geld vir die res van ons nie. My suspisie is bloot dat meeste van die figure in hierdie uitstalling in die eerste plek gekies is omdat hulle die tydskrifte, boekrakke en cd-versamelings van die middelklasse gehaal het en nie omdat hulle hierdie selfde gemaklike, middelklas wêreldbeeld uitgedaag het nie.

Soos ek vroeër genoem het, is daar inderdaad ook uitsonderings. Tutu is een, dalk ook Paul Theroux. Ek het gehou van rabbi Adin Steinsaltz se sameflansing van Leibniz (“We live in the best of all possible worlds”) en Voltaire (“We live in the worst of all possible worlds”) tot: “Our world is the worst possible world in which there is still hope.” Craig Venter se werk oor die menslike genoom, alhoewel dit dikwels in kontroversie gehul is vanweë sy konfronterende persoonlike styl, is inderdaad die soort grensverskuiwende wetenskaplike ondersoek wat direk inspeel op die wyse waarop ons ons menslikheid verstaan.

Uiteindelik is ek egter die meeste geraak deur die woorde van Chinua Achebe en Wei Jinsheng, wat albei die teenoorgestelde pool verteenwoordig van die beheptheid met introspeksie, persoonlike groei en selfverwesenliking wat soveel van die ander bydraes kenmerk. Achebe sê dat die wêreld nog jonk is en dat dit beteken dat daar nog baie werk is om te doen. Jinsheng stel dit nog sterker in ’n opmerking wat ongelukkig nie die “little book of wisdom” gehaal het nie: “Lots of people talk in pretty phrases. It is easy to talk but it doesn’t do much good. What counts is to go seriously about one’s work.”

Dit is inderdaad jammer dat diegene wat verantwoordelik is vir hierdie uitstalling, nie hierdie stukkie wysheid sterker ter harte geneem het nie.



LitNet: 27 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.