SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Sambreelboek

Louise Viljoen

Uit die kontreie vandaan
Abraham H de Vries (samesteller)
Uit die kontreie vandaan
Human & Rousseau
2000

Die titel van hierdie versameling verhale, byeengebring deur die baasverteller en kortverhaalskrywer Abraham de Vries, sê dat dit verhale is wat kom uit die kontreie. Hierby word ook gevoeg vandaan, asof om te sê dat hierdie verhale ver en wyd en orals gaan haal is. Dit is inderdaad wat ’n mens in hierdie bundel aantref. ’n Ruim verskeidenheid verhale waarin verskillende kontreie, vertellers, temas, tale en vertelregisters bymekaargebring word om die leser te vermaak en te stig. In sy woord vooraf vertel De Vries dat die kontreiverhaal ’n sambreelterm is vir ’n verskeidenheid ander verhaalbenoemings, soos “streekverhale”, “boerestories”, “heimatkuns”, “herinneringsverhale” en “regionale verhale”, waarvan elke soort klein onderlinge verskille vertoon. Hy sê ook dat daar gewoonlik aanvaar word dat “’n gesellige, gemoedelike verteltoon” en “spesifiek landelike ruimtes” onderskeidende kenmerke van hierdie vorm is. Dit is tot sy krediet en die voordeel van hierdie versameling dat hy die woord “kontrei” in die breedste moontlike sin interpreteer om ook ruimtes soos stadsbuurte in te sluit. Wat hierdie versameling verhale verder pit gee, is dat De Vries hom kategories distansieer van die opvatting dat kontreiverhale “verledeverliefdheid” en “verhaallose nostalgie” impliseer. Alhoewel die versameling wel enkele verhale bevat wat wil-wil vasval in ’n vlak nostalgie oor die verlede en lyk na die aanmekaarryg van ’n aantal anekdotes, voel ’n mens na die lees van die versameling dat die meeste van die skrywers daarin geslaag het om van hulle kontreiverbondenheid ’n boeiende storie te maak. Omdat die verhale alfabeties volgens outeursnaam gerangskik is, kan die leser sy of haar eie speletjies speel met die uitwys van patrone en die saamgroepeer van verhale wat bepaalde temas hanteer, van soortgelyke vertelstrategieë gebruik maak, sekere historiese tydperke of geografiese ruimtes oproep en bepaalde soorte Afrikaans gebruik.

Sommige verhale in die bundel stel ’n mens bekend aan die kontreiverhaal as liegstorie (De Vries wys hulle trouens in sy inleiding uit). Aucamp se verhaal “Die huisgerief” laat die leser weifel tussen geloof in ’n oortuigende storie en ongeloof in die nogal vergesogte gegewe. Aan die een kant word hierdie verhaal oor die gebruik om hubare jong mans te laat inwy in die geheime van die huwelikslewe deur ’n gerespekteerde ouer vrou uit die gemeenskap (geen “vryhotel” of “los vrou” nie, sê die verteller) aangebied as ’n lewensgetroue optekening van ’n volksgebruik. Die “huisgerief” in hierdie geval is Tant Grietjie wat die jong man in hierdie verhaal bedien van nuttige raad soos die volgende: “Was hom voor en na gebruik, en sommer nog drie maal die dag, vir die wis en onwis. En as daar die geringste teken van smerterigheid is, moet jy wondwater gebruik, en samboksalf daarna”. Aan die ander kant kry ’n mens die gevoel dat Aucamp met hierdie verhaal op speelse en tergende wyse toon dat nostalgie pure versinsel kan wees en dat ’n mens die verteller van die kontreiverhaal nie altyd op sy woord kan neem nie. Weideman se vermaaklike verhaal “Van wind gepraat” is veel meer opsigtelik ’n liegstorie as Aucamp s’n en lê as vertelling êrens tussen die liegstorie, jagverhaal en groot-spog-verhaal.

Iets wat grootliks bydra tot die bekoring van hierdie versameling is die feit dat De Vries naas die verhale wat spesifiek vir die versamelbundel geskryf is, ook ’n aantal ouer verhale opneem soos dié van Alba Bouwer, C G S de Villiers, I D du Plessis, Eitemal, Audrey Blignault, M E R , Elise Muller en Jan Rabie. M E R se verhaal wat handel oor die dorp Hanover wys hoedat geografiese ruimte in die kontreiverhaal ook ’n historiese ruimte is met haar interessante verwysings na Olive Schreiner en Thomas Francois Burgers. In hierdie ouer Afrikaanse verhale skemer iets deur van wat C G S de Villiers in sy verhaal omskryf as “vanmelewe se mense” en “vanmelewe se lewensgebod”. Die leser word by wyse van spreke op ’n reis deur die kontrei van die Afrikaanse letterkunde geneem en geniet die feit dat verhale soos dié van C G S de Villiers en Eitemal rustiger en langsamer verloop as die meer resente verhale. Jan Rabie se verhaal “Rivier van my jeug” is een van hierdie ouer verhale wat onsentimenteel en byna onbewoë terugkyk na die jeug: “Wanneer wat hoe gebeur het, maak later nie saak nie. ’n Totaalbeeld ontstaan in die geheue, ryk en diep. Eintlik sonder nostalgie, want as jou jeug vol en warm geleef is, word jy vry om grootmens te wees”, sê hy. Volgens die getuienis van die versameling is daar ’n paar dinge wat verhinder dat die kontreiverhaal verval in sentimentaliteit en ’n oppervlakkige vergoeliking van die verlede: ’n goeie storie, ’n stewige dosis humor, ’n bietjie gesonde sinisme, konkrete taalgebruik en die versoberende uitwerking van die weemoed.

Wanneer die nostalgie om ’n vergange verlede weemoed word, kry die leser die gevoel dat ’n mens hier te doen het met ’n “memorie” (soos wat Petra Müller dit in die verhaal “Op die Ghaap se berge” noem) wat ’n suiwering deur droefheid en lyding ondergaan het. In hierdie gevalle is die terugkyk na die verlede allesbehalwe ’n “verledeverliefdheid” waarin alles wat onaangenaam was, weggevee is sodat slegs ’n versuikerde beeld daarvan oorbly; daar is eerder sprake van ’n realistiese taksering van die verlede en die letsels wat dit kan laat. Die twee verhale wat vir my uitstaan wat dit betref, is Abraham de Vries se “Winkelplaas — ’n verhaal” en Danie Botha se “Iemand by die deur”, elk gekenmerk deur ’n pragtige, weemoedige slot. Wanneer die kontreiverhaal — soos in hierdie twee gevalle — ’n elegie of treursang oor die dooies word, kry die leser die gevoel dat dié verhaalvorm ’n manier kan word om insae te gee in die grondeloosheid van die menslike bestaan. Veral E Kotzé is ’n skrywer wat uitmunt in haar sober siening van die kontrei wat dikwels ’n harde omgewing is wat hoë eise stel aan die mens. Haar verhaal “Mantel” vertel ’n roerende verhaal oor swaarkry in ’n kontrei soos die Weskus wat soms deur oppervlakkige waarnemings geïdealiseer en geromantiseer word. Dieselfde onromantiese siening van die kontrei kom voor in Elias P Nel se verhaal, “Die kerrieafval”, wat naas die genotvolle herinneringe aan die jeugkontrei ook ’n oog het vir die armoede en swaarkry van die mense wat daar ’n bestaan moet maak. Philander se verhaal “Triton” en Dirk Richard se “Die jetty master van Kassiesbaai” gee op dieselfde wyse insig in die sukkelbestaan van sommige mense wat woon in dié dele van die land wat deur ander geromantiseer word. In beide hierdie vertellings is interessante vertellers aan die woord, komplekse en selfs immorele karakters wat ander se swakhede en onkunde uitbuit. Adam Small se verhaal “Kanna hy kô hystoe” gee by uitstek inhoud aan die gedagte dat sommige mense se “kontrei” bestaan uit swaarkry en ellende. In hierdie verhaal word die tema van die jeugkontrei wat in talle verhale besing word deur dié wat dit agtergelaat het op besonder navrante wyse uitgewerk deur die vertelling van die moeder van ’n armoedige bruin gesin wat agterbly wanneer haar talentvolle seun sy heil gaan soek in die buiteland.

Die verhale van Leonard Koza en Elsa Joubert gee ook blyke van die wye spektrum van betekenisse en emosies wat aan die kontrei geheg kan word. Koza se verhaal “Juffrou Bester en Boelie, die skoolboikotter” herinner op versoberende wyse daaraan dat sommige se jeugkontrei een van politieke stryd en swaarkry was: “So’t dit gegaan in ons kontrei toe die kinders gestruggle het vir Mandela se freedom. En vir ons s’n”. Die titel van Elsa Joubert se verhaal “Volkstaat” impliseer een van die ander betekenisnuanses wat die woord “kontrei” kan aanneem; hier word dit ’n triestige beeld van die begrafnis van ’n volkstater waarby ’n verarmde en verouderende klein gemeenskappie met “die asmatiese gehyg van oumanstemme” sing van die “vrije volk”. Ina le Roux se vertelling “Jack May Ramarumo” teken weer die beeld van ’n kontrei waar die geloof in heksery en towery nog die botoon voer en lewens kan verwoes. Hiermee kom iets van Afrika as die kontrei van die Afrikaanse skrywer — soos in Riana Scheepers se verhaal “Nagloop” — ook aan bod. By die lees van ’n versameling verhale soos hierdie sou ’n mens jouself ook kon afvra watter geografieë meestal die kontreiverhaal inspireer. Herhaaldelik word ’n mens opgeval deur die vreemde ironie dat dit juis die mees onherbergsame ruimtes is wat hierdie skrywers tot groot liriese bewoënheid en lojaliteit inspireer: dit strek vanaf die barheid van die Noordweste uitgebeeld in Richard van der Westhuizen se verhaal “Tussen klippe en kokerbome” tot by ’n misdaad-geteisterde stad soos in Herman Wasserman se ‘’n Blyplek in die stad”.

Taal en kontrei word dikwels op bekoorlike wyse één in hierdie verhale: die kontrei ís die taal waarin dit beskryf word en die taal ís op sy beurt die kontrei waaroor dit gaan. Die knapste voorbeelde hiervan is te vinde in die verhale van André Boezak (“Die verdwaalde psalm”), Ronnie Belcher (“My kontrei is ’n klomp kontreie”) en Thomas Deacon (“Die bergmannetjie”) waar ’n fyn balans gehandhaaf word tussen die eiesoortigheid van ’n kontrei se taal en die oordra van die verhaal. Theuns Kotzé se verhaal “Die skrywelekker” bevat ’n skat van volkstaal en -uitdrukkings, maar op bepaalde punte lyk dit na ’n te bewustelike poging is om die verhaal ’n volkse karakter te gee sodat die leser uiteindelik voel hier is te veel lokale kleur en te min storie.

’n Versameling kontreiverhale sou ook nie volledig wees sonder vertellings wat inspeel op die aanvoeling vir die magiese wat dikwels deel uitmaak van die kontreibestaan nie. M I Murray se suiwer vertelling “Verleigeeste en die Nuwejaarsbok” vertel byvoorbeeld van sekere bonatuurlike verskynsels wat deel uitmaak van die kontrei. Thomas Deacon se “Bergmannetjie” is weer ’n pragtige spel met kontreitaal en kontreigelowe wat in die slot ’n postmodernistiese kinkel kry wanneer die kind wat so pas die verleikrag van die bergmannetjie ondervind het, haar ma hoor sê: “Die kind sal naderhand alles geloof ... alles wat ons haar vertel ... Oppas ... Netnou gló sy al daai storietjies oor die bergmannetjie”. Pieter W Grobbelaar se “Kinders van die waterslang” stel ’n ek-verteller aan die woord wat in Griekwa-Afrikaans die verhaal van die waterslang se verwoestende uitwerking vertel en Diana Ferrus se “Vrou in die rivier” handel oor ’n Worcesterse Lorelei, wat haarself uit liefdesverdriet verdink het en mans na hulle verdrinking lok. Des Fourie se Gansbaai-verhaal, “Roep van die Narradoe”, handel oor ’n voël wat die dood aankondig en eindig met ’n mooi verwysing na ’n verdrinkte oupa wie se lyk nie gevind kon word nie as ’n soort waterman: “Die ouma op die plaas was nie dieselfde trotse vrou van die see nie. Sy het verlang na haar skraal en netjiese man wat iewers onder die see swem op soek na die pêrels wat hy nog altyd vir haar wou gee”.

Iemand het ’n keer opgemerk dat indien die roman ’n langafstandwedren is, die kortverhaal beskou kan word as ’n naelloop waarin die verhaal gou ontplooi en daar vinnig op ’n opwindende slot afgestuur word. Vir die leser wat hóú van stories en verslaaf is aan versamelings kortverhale waarin die een verhaalontknoping na die ander mekaar opvolg, sal hierdie versameling een groot plesier wees. Boonop het ’n mens hier te doen met ’n sinvolle en inklusiewe samestelling van verhale waarin De Vries met sy keuse ’n gevoeligheid openbaar vir al die verskillende betekenismoontlikhede en nuanses van die woord “kontrei”.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.