|
Wat kan n digter bydra tot die gesprek om die beeldende kuns?Joan HambidgeTimo Smuts-Gedenklesing
I Wat kan n digter bydra tot die gesprek rondom die beeldende kuns? n Uiters verwikkelde en interessante gesprek waarvan die kontoere voortdurende verander. n Mens kan net aan hierdie gesprek deelneem mits jy jou bona fides duidelik verklaar en weet dat jy van buite na binne kyk. Alle literatuurkenners is per definisie kunsliefhebbers wat verskeie kunsgalerye in verskillende wêrelddele besoek. Die beroemde narratoloog, Mieke Bal, het Rembrandt al geanaliseer, en digters soos Johan van Wyk en Johann de Lange het die belangrikste gedeelte van hul oeuvres gebou op groot skilderye en die interpretasie daarvan. Die inter-art traffic is dus deel van ons wedersydse vakgebiede. Judith Mason, een van ons land se voorste skilders, het n gedig van Wilma Stockenström betowerend geskets en geïnterpreteer. In die tagtigerjare het ek die voorreg gehad om die Dante-sketse te sien wat sy vir die ontslape digter Casper Schmidt gedoen het. Wat het van hierdie lywige boeke geword? Hierdie duur kunswerke het aanvanklik soek geraak, maar is wel later opgespoor. My parodiese roman Swart koring is deur Anton Kannemeyer van Bitterkomix-faam verhelder met n liefdespaar so reg uit n comic strip. Die versugting: Hyg al wat leef. Verlede jaar het ek by die jaarlikse argitektuurkongres te Bloemfontein as skrywer deelgeneem. My lesing was, heel gepas, getiteld Die digter as argitek. Die digter en die argitek is nie ver van mekaar verwyder nie. Trouens, die digter konstrueer n stad in haar gedagtes waarskynlik op dieselfde wyse as wat n argitek of stadsbeplanner beplan, ontwerp. Die stad New York het op verskillende wyses in my digkuns al na vore gekom. Oor hierdie representasie van die stad as n hartlandskap sou n mens lank kon dink en teoretiseer. Maar die digter as beeldhouer? Of skilder? Die digter/kritikus as kunswaardeerder? In n postmoderne tydvak sluit verskillende vakgebiede by mekaar aan. Die een vakgebied leen by die ander en die programmesisteem dui op hierdie interafhanklikheid. Toe ek Timo Smuts in 1992 ontmoet het, was ek besig om n studie oor die postmodernisme te skryf. In sy huis op Wellington het daar n skildery gehang. n Pastiche van n Brueghel-skildery wat ek beslis wou koop. Die skilder was onwillig. Die skildery was deel van n triptiek en waarskynlik het hy nog te na aan die werk gestaan. Dit heet dan ook Parodie sonder humor Met toestemming van die Kontiki steakhouse. Maar die waarneming dit wat ek gesien het kon nooit van my weggeneem word nie. Die oorbekende Brueghel-skildery is ontluister: die twee manne wat dra aan die kos, bevat n skermdruk van werklike vleis.
The real voyage of discovery consists not in seeing new Oor die gaze is daar die afgelope dekades baie geteoretiseer: om te kyk, om gevange te neem. Feminismes kom dan ook in opstand teen die sogenaamde manlike of patriargale gaze wat vroue ver-objektiveer of ver-ding. Jane Gallop se The daughters seduction: From feminism to psychoanalysis karteer onder meer hierdie problematiek. Hoe kan n digter dan iets nuuts bydra tot die problematiek van die gaze in die skilderkuns? Waarop berus die gesag? Op blitsbesoeke aan groot kunsgalerye of n handvol gedigte oor die skilderkuns? Vanaf my debuut skryf ek oor my familieverbintenis, oor die genealogie-van-verdriet, en onder andere skryf ek oor my Dowe Oupa Frank, my Ouma Hannah, en haar suster, die befaamde skilderes, Maggie Laubser. As jong kind het ons dikwels by hierdie vermaarde tante in die Strand gaan besoek aflê. En een van die grootste besittings in my spartaans gemeubileerde argief van n woonstel is n skildery van my ouma Hannah deur haar suster, Maggie. My geliefde ouma, die moeder van my vader wie se name ek dra was nes die uwe verslaaf aan reis. Sy was ook dan n chaperone vir haar suster tydens n Europese verblyf. Ek was hewig ontsteld toe ek ná my Suid-Amerikaanse reis uitgevind het dat my ouma Hannah ook daar was hieroor skryf ek in Interne verhuising en my reisgedigte is dikwels ook antwoorde op die familieverbintenis. En my ontsteltenis had te make met die feit dat ek op haar voetspore wou volg en dit doen ek dan via gedigte. Vele van my gedigte probeer die verband tussen die skilderkuns en digkuns uitpluis en karteer. Die volgende gedig, By n portret van my Ouma is opgeneem in my debuut Hartskrif: By n portret van my Ouma Dit is n gedig oor (self-) identiteit. Die digter teken n portret in woorde van die ouma met wie sy n reisbelangstelling deel. Sy is ook implisiet bewus van die ouma se ongelukkige huwelik, die feit dat sy onvervuld is in haar huwelik en waarskynlik die reis saam met die suster as n proses van ontvlugting uit n barre lewensituasie aangryp. Die begrip familie-ooreenkoms dui ook op die implikasie dat die spreker in die gedig ook op n gender-aspek let. In n gedig My Oupa Frank gepubliseer op LitNet en uit die ongepubliseerde manuskrip En skielik is dit aand, word die oupa soos volg vermitologiseer: My Oupa Frank Regdeur my jeug het my vader met wrewel en verbittering gepraat oor hoe sy pa verneder is deur sy oupa en hoe hulle hul geboortereg moes afteken, die familienaam ontwille. Uit die verskillende mites kan n mens aflei dat die plaas verkoop moes word om die oergrootvader se naam te red en dat my pa as kind geraak is deur hierdie ontheemding. Dat hulle dus van die plaas moes weggaan en die geboortereg moes afteken. Maar, die oupa was n skilder. En ofskoon hy geweldig swaargekry het onder hierdie daad van uitsetting, het hy sy hele lewe lank geskilder. Weliswaar was hy nie n groot skilder nie, maar behendig. En dikwels by Maggie Laubser-uitstallings word sy werk ook uitgestal. En in my ouers se huis hang hierdie klein portret: van daardie mitiese plaashuis. Daardie plaashuis wat vir hom en my vader simbool is van die lewe wat hulle kon gehad het. My oupa Frank het dit probeer regmaak, herstel deur te skilder. Soos wat sy kleinkind n gedig daaroor skryf om die pyn wat die vader deur al die jare gedra het, te probeer begryp en regmaak. Stilportet Die troebel familieverwantskap. Hieroor skryf ek al dekades lank en nou onlangs het ook n lesing gee oor die boek wat my lewe verander het. Dis altyd goed om aan hierdie soort gesprekke deel te neem, want dit dwing jou as skrywer/leser om so n keerpunt te soek. Vir die volledigheid herhaal ek die kort lesing. Daar is so n boek. Dis 1972. Ek is in Standerd 8 aan die Standertonse Hoërskool. Dis pouse. Ek loop alleen rond, want ek is die new kid on the block. My ouers het getrek van Pretoria na hierdie klein agrariese gemeenskappie met sy snobisme: ryk, ryk boere wie se kinders spog dat hulle mielies n hele silo kan volmaak. Kinders wat van Graad Een af al skouers skuur en hier het ek die hele rangorde kom versteur. My ouers is nie welgesteld nie, maar beslis ver van arm. My pa is in versekering. Ons is dus middelklasmense. Jou pa verkoop mos derdeparty, merk een neerhalend op. Ontsteld noem ek dit aan my moeder, wat verduidelik hoe die klassesisteem werk en dat my pa in die administrasie van Ou Mutual is. My kind, troos sy, moenie jou aan hulle steur nie. Ek praat nie hulle taal nie. Ek is n stadskind en hulle is plattelanders wat n kortskrif met mekaar deel. Mekaar ontmoet naweke. En instinkmatig weet ek ek is anders. Ook wat my gender-identiteit betref. Boonop het ek die rangorde versteur, want skielik staan ek eerste in die klas en van die slimmelinge hou nie daarvan dat ek hulle uitstof en honderd persent kry vir Wetenskap en Biologie nie. Tale interesseer my vreemd genoeg nie. Maar ek ontdek in die biblioteek die vreugde van lees. En getrou aan so n ryk gemeenskap word ou boeke uitgegooi. Dit was daardie dae toe wit Afrikaners snoep was en boeke eerder sou weggooi as om dit vir agterstelde gemeenskappe te gee. Die onderwyseres sien dat ek pouse gereeld Nuwe Verse van N P van Wyk Louw lees. Toe sy dit uitgooi, vra ek of ek dit mag kry. Natuurlik. Neem dit. Sy gee ook Elisabeth Eybers se Balans vir my persent. Pouses lees ek aan Louw se kragtige bundel. Nog eenmaal wil ek in die skemeraand Hierdie gedig leer ek van buite ken. Die hele bundel praat met my, hoewel ek as jong kind nie volle betekenis daarvan kan begryp nie. Maar agter die woorde lees ek aan. Veral aan dit wat so goed verwoord word. Die melancholie. Vir my word hierdie openingsgedig n soeke na my dorpsdam wat ek nooit gehad het as vreemde, displaced kind. En jare later eggo hierdie gedig terug by die skryf van my eerste bundel Hartskrif wanneer ek ook begin met n gedig met n inkantiewe aanroep: Nog eenmaal wil ek soos n kind. Hierdie bundel het bykans volledig ontstaan aan die Ooskus van Amerika waar ek op n winterreis deur die VSA en n kort studiebesoek begin gedigte skryf het in die koudste winter in menseheugenis. En daar in die sneeulandskap keer ek terug na Louw. Na my eerste kennismaking met die poësie as n jong volwassene. Nooit weer sal ek so suiwer kan lees of ervaar nie. So presies aanklank vind by n digter as by die digter van hierdie bundel nie. Daarom het die gedig vir my n primordiale betekenis. Daardie klippie wat die digter skiet, het in my donker onbewuste begin rimpel en in my digkuns tot uiting gekom. Natuurlik bly hy die model. Die meester. Die een na wie se gedigte ek altyd bly terugkeer. In daardie moeilike tyd van my lewe toe ek op alle vlakke n buitekind was en boonop in my matriekjaar n gekuiste uitgawe van sy manjifieke Raka moes lees. Wie het nou weer opgemerk dat n moeilike jeug goed is vir n digter? Die digkuns is n soektog na n stem. Dit het te make ook met die soektog na jou identiteit in die familie-romanse. Jou letterlike familie en jou digterlike familie. Kinders moet gesien, nie gehoor word nie, lui die spreekwoord. Vir my is dit dan eerder: Kinders moet gehoor, nie gevoel word nie. Terugskouend is my digkuns na bykans twee dekades n obsessiewe verkenning van my plek binne die Afrikaanse digkuns en n proses van vredemaak met n uiters komplekse familie-opset. Maar die digter soos die skilder weet gelukkig nie watter demone hom/haar aandryf nie. Dis net soms terugskouend dat jy n oomblik van helderte beleef. In my jongste manuskrip, En skielik is dit aand, keer ek opnuut terug na die ouerhuis en so reageer my Jungiaanse sielkundige op hierdie terugkeer na aanleiding van n vers: Snaaks dat met die tweede huisverlating
Hierdie lang aplogia pro domo bring my dan by die verhouding tussen die skilderkuns en digkuns. Of, die digkuns en skilderkuns. Talle gedigte in my oeuvre ondersoek hierdie verband en probeer die werk van beroemde skilders dekonstrueer: Picasso, Monet, Andy Warhol, Jackson Pollock, ea. In terugskoue besef ek dat hierdie belangstelling gebou is op die obsessie met my ouma en haar skilder-suster. En die rol wat skilder ook in my grootvader se lewe gespeel het. Dat om te skilder (of om te skryf) jou red uit jou pynlike omstandighede. Ook reis neem jou weg uit dit wat gebroke of onseker is. Psigoanalities gelees is my gedigte-oor-skilderye gelaai met my komplekse familieromanse van ontheemding, die soeke na identiteit, pyn, versaking en genderkeuses. Die gedig (of skildery) neem dus die plek in van iets anders. Dit staan vir iets anders. Die vers Rembrandt uit Bitterlemoene tree in gesprek met Louw se vers oor Rembrandt, n gedig wat ek as jong kind van buite leer ken. My ontheemde jeug. My onsekere jeug. Rembrandt praat hier met Constantijn Huygens oor die rol wat die self in kuns speel. (Ek onthou dat ek hierdie vers letterlik in een sitting geskryf het.) Rembrandt Digters kan metonimies of metafories skryf; maw, die gedig kan verhalend wees of dit kan kompak wees en staan vir iets anders. Waarskynlik is n digter se lesing altyd psigoanalities relevant, maar dit kan ook vertroebelend inwerk op die leser se interpretasie(s). Dieselfde geld skilders se menings oor hul eie werk. Dit kan n sleutel wees, maar n gebuigde of gebreekte sleutel waarmee die deur nie oopgesluit kan word nie. Die gedig, soos die skildery, loop dikwels n pad waaroor die maker/skepper geen beheer het nie. Kort voor sy dood stuur Timo Smuts vir my n artikel, Teorie is n gil vir voorlegging aan Tydskrif vir Letterkunde, as redaksielid. Ek sien onmiddellik raak hoe hy n verhaal wil skryf, maar eintlik teoretiseer oor die effek van Munch se Die skreeu op sy psige. En hoe wys hy op die spanning tussen mimesis (nabootsing) en alethea (onthulling) in tekste. Hoe bring n mens die geskrewe teks in ooreenstemming met die visuele beeld? Vir ons doeleindes: hoe bring ek my gedigte uit by die skilderye/teorie van hierdie skrywer? Nodeloos om te bely dat Smuts ook verwys na die verhouding tussen Rembrandt en Huygens my gedig jare geskryf voor hierdie artikel van hom maar dit is bykans asof hy sou weet van hierdie huldigingslesing. Is dit toevallig dat hy ook n onderskeid probeer tref tussen canniness en uncanniness? Hoe sy essay as t ware onbewustelik sleutels verskaf to ons begrip van dit wat in wese buite woorde lê? In Huygens se lesing van Judas het ons die Bybelteks wat die werklikheid sigbaar maak, Rembrandt maak die teks sigbaar en Huygens, op sy beurt, maak die werklikheid van die teks sigbaar. Deur middel van die sintese tussen die stilte van visuele kunswerk en die dramatiese klanke van woorde word die betekenis van die kunswerk ontbloot, skryf hy klinkend. So ook dan met my lesing wat die stilte, die afwesigheid van die subjek, Timo Smuts, onder woorde probeer bring en nuwe betekenis te gee aan sy bydrae tot die teorie. Dit sal altyd moontlik wees om te onderskei tussen n bloedstollende en n eentonige gil, sluit hy af. Die digter is soos n skilder. Die skilder soos die digter. Die digterlike teoretikus sluit aan by die skilderteoretikus. Om die stilte te verplaas. Dit is waarom dit ten slotte gaan. Augustus/September 2003
Bibliografie Gallop, Jane: The daughters seduction. Feminism to Psychoanalysis. Cornell University Press, Ithaca. 1982. Hambidge, Joan: Bitterlemoene. Human & Rousseau, Kaapstad. 1986. En skielik is dit aand. Ongepubliseerde manuskrip. Hartskrif. Human & Rousseau, Kaapstad. 1985. Interne verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995. Swart koring. Human & Rousseau, Kaapstad. 1996. Die boek wat my lewe verander het. Woordfees-lesing. Augustus. 2003. Louw, NP van Wyk: Nuwe verse. Nasionale Pers Boekhandel, Kaapstad. 1954. Smuts, Timo: teorie is n gil in Tydskrif vir Letterkunde. XXXVI:3 Augustus 1998. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |