|
Tagtigers*Etienne van Heerden
Die nuwe energieë wat in die jare tagtig deur 'n generasie jong skrywers, rockers, joernaliste en kabaretkunstenaars losgemaak is, moet geplaas word binne 'n klimaat waar Afrikaanse mense hulself begin losmaak het van die wurggreep van party, staat en kerk. Die reuk van traangas was op die wind. Die Casspirs was in die townships. Skryfblokke en tameletjie is aan die troepe op die grens gestuur. Forces' Favourites oor die radio in stil somermiddae. UDF-marse. Ons beleef nou eens werklik die resultate van 'n politieke en kulturele ontbondelingsproses wat toe reeds begin het. Terwyl mense deesdae veral na die effek van die Voëlvrybeweging verwys, moet hulle onthou dat die letterkunde eintlik voor Voëlvry daar was. Tagtig was sosioliterêr belangrik: klein tydskriffies (Graffier, Spado, ens) en uitgewers, aktualiteitsbewustheid (grensliteratuur en protespoësie), taalvariante ("Kaapse Afrikaans") in die poësie, ander genres (rocksongs en literêre kabaret); gay literatuur; die oplewing in die kortverhaal as flitsopname van 'n versplinterde tyd. Wees egter versigtig. Tagtig lê as begrip inderdaad lekker op die tong omdat 'n stel nuwe stemme in daardie tyd gedebuteer het, dikwels in benouende landsomstandighede. Dis egter net 'n losse beskrywing van 'n verskynsel, want "die Tagtigers" was nie 'n literêre generasie in die ware sin van die woord soos wat Dertig en Sestig dit was nie. Daarvoor steun die sogenaamde Tagtigerskrywers te swaar op die temas en verteltegnieke van 'n ouer geslag skrywers. Hulle het die dinge wat mense soos Aucamp, Brink, De Vries, Haasbroek, Elsa Joubert, Weideman, ensomeer gedoen het, verder geneem en geradikaliseer binne 'n postmodernistiese sfeer. Eer die vaders en die moeders. Tagtig was 'n radikalisering, eerder as 'n skoon breuk met die verlede. En 'n snuf in die neus oor wat voorgelê het.
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |