|
Nie wat staan daar nie maar eerder wat moet daar staanMarius CrousSonklong oor Afrika Geredigeer en ingelei deur J C Kannemeyer Destyds met die herlees van Byatt se bekroonde Possession het die idee by my opgekom dat n mens n roman moet skryf waarin n groep studente die Oppermanmanuskrip steel en dit dan probeer verkwansel aan n literator . Of n mens kan n dosentkarakter die manuskrip laat steel. Helaas, nou met die verskyning van hierdie faksimilee-uitgawe is dit nie meer moontlik nie. Kannemeyer verwoord hierdie nuuskierigheid in sy inleiding as hy beweer dat lesers van die Afrikaanse poësie weet dat daar nog iewers die beginfases van n digbundel bestaan en dit graag sou wou lees: Baie lesers is bewus van hierdie laaste onvoltooide werk van Opperman en daar is n verstaanbare menslike nuuskierigheid daaromtrent… Die wete van verskuilde, geblokkeerde kennis is vir die moderne mens n stuk Hierdie transkripsieprojek herinner mens aan Foucault se bekende opstel, What is an author?, waarin Foucault n kwessie soos oeuvre problematies vind. Waar begin n outeursinstansie se oeuvre en waar eindig dit? Moet die outeursinstansie se droogskoonmakerlysies en inkopiestrokies ook as deel van sy oeuvre beskou word? In sy inleiding wys Kannemeyer daarop dat hy aan die hand van onder meer Dorleijn hom moes vergewis van die jongste verwikkelinge op die gebied van die tekswetenskap - iets wat aan Suid-Afrikaanse universiteite helaas nie bestaan nie. Deurgaans word die leser daaraan herinner dat hy met n onvoltooide produk sit, met n manuskrip-in-wording. Die proses is myns insiens ook n baie interessante weerspieëling van poststrukturalistiese teorie. Indien n word deurgehaal is, bestaan daardie word nog en dra daardie word betekenis? Indien die redakteur n bepaalde woordkeuse maak of selfs deurgehaalde woorde insluit in sy transkripsie of woorde [invoeg], illustreer dit derhalwe die prosesaard van die leesproses? Gestel die redakteur het n woord verkeerd gelees en na goeddunke n woord ingevoeg, is daar dan sprake van n misreading? Opperman is op 22 September 1985 oorlede en die gedigte wat in Sonklong oor Afrika opgeneem is/sou word, kom dus uit die periode 1981-1985. Opperman het in 1981 saam met Hannes van der Merwe n reis na Malawi onderneem en hier het hy die inspirasie vir sy bundel gekry. Vergelyk n mens Opperman se uitbeelding van Afrika met byvoorbeeld dié van Krog in haar onlangse Kleur kom nooit alleen nie, dan is dit opvallend dat sy Afrika vanuit n Westers-toeristiese oogpunt beskou word. In die tagtigerjare, met die politieke toestand in die land was daar ook nog nie so n beheptheid met PC-geit nie en n teks soos Tien Masbiekers of Nikkerbol sou vandag beslis nie goed afgegaan het nie. Die vraag ontstaan nou net: indien Opperman die bundel gepubliseer het, sou die kritici hom van polities-inkorrektheid beskuldig het? Gedagtig aan die feit dat Opperman besonder goed op die hoogte van sake was van die konteks waarin hy geleef en geskryf het, twyfel ek of hy so n oordeelsfout sou begaan het. Relevant beslis, is Opperman se tekste oor Livingstone wat hy na aanleiding van Ransford geskep het. Die koloniale idee dat dit die Britte was wat alles in Afrika ontdek het en daaraan name toegeken het, word sodoende ondermyn. In sy inleiding haal Kannemeyer vir Brummer aan wat na aanleiding van die Langenhoven-biografie opgemerk het dat Afrikaans hom tans in Suid-Afrika in n bedreigde posisie bevind. Kannemeyer vervolg: Indien Opperman in die lewe was, sou hy sekerlik graag met sy werk n bydrae tot die versterking van sy taal wou gelewer het. In sy afwesigheid kan so n publikasie van sy onvoltooide werk dit doen. Toegegee, maar die aard en koste van hierdie publikasie plaas dit onmiddellik buite die bereik van die Afrikaanse leserspubliek. Dit word n akademiese kuriosum vir diegene wat hulle nog met Afrikaans besig hou. Hoekom die luukse uitgawe? Ek vra dit in die konteks van bedreigde Afrikaans. Lees n mens weer oor Opperman se lewe, sy jare as dosent en sy spesiale leerstoel in kreatiewe skryfwerk aan die US, dan het die konteks aansienlik verander. Sonder om swartgallig te raak, wonder n mens of daar nie tog waarheid steek in die opmerking van die een of ander Unesco-verslag naamlik dat die derdewêreld (natuurlik gesien vanuit n eerstewêreldse raamwerk) nie universiteite nodig het nie - seer sekerlik veral nie geesteswetenskaplike instellinge nie. Moet ons miskien nie ook daaraan begin dink om meer van die grootse werk van Opperman in Engels te vertaal nie? |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |