SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Kannemeyer se leesuitgawe van Opperman se Sonklong oor Afrika

Coenraad Walters

Koop hier!

I

Dat Dirk Opperman ’n onvoltooide bundel nagelaat het toe hy in 1985 oorlede is, is lank reeds algemene kennis in die Afrikaanse letterkundige sfeer. Met die dokumentêre program oor sy lewe deur Katinka Heyns en Chris Barnard, getiteld Sonklong, het die digter self gepraat oor en voorgelees uit sy skeppende werk waarmee hy ná die opspraakwekkende Komas uit ’n bamboesstok besig was.

Riemtelegramme het die indruk geskep dat die bundel feitlik voltooi was, dat finale redigering en seleksie nog nodig was en dat daar dus ’n aantal gedigte so te sê gereed was vir publikasie. Hierdie indruk word gou vernietig wanneer ’n mens die “manuskrip” van Sonklong oor Afrika te siene kry: twee boeke (onbedrukte toetsweergawes van hoe die luukse uitgawe van Komas uit ’n bamboesstok sou lyk) vol stukkies papier in die digter se handskrif, niks eens getik nie, en feitlik geen gedig wat werklik sanksioneerbaar klaar is nie. Hoewel hierdie “manuskrip” belangrike insae bied in die werkwyse van die digter, sou daar nog baie water in die see moes loop voordat dit ’n afgewerkte, publiseerbare bundel kon word.

Vanuit die omvangryke groep holograwe, neergekrabbelde invalle en talle “probeerslae” van gedigte het J.C. Kannemeyer ’n fassinerende leesuitgawe saamgestel. Met sy kennis van Opperman wat hy opgedoen het tydens die skryf van ’n biografie oor die digter (D.J. Opperman: ’n biografie, Kaapstad: Human & Rousseau, 1986) was Kannemeyer seker die aangewese persoon om hierdie projek te onderneem, onder meer weens sy verhouding met Opperman se weduwee en dogters. Mev. Marié Opperman het voor haar dood finaal toestemming verleen dat so ’n leesuitgawe die lig mag sien, op voorwaarde dat die “gedigte” as verse-in-wording aangebied moet word.

Oor hierdie hele geskiedenis, asook oor die spesifieke werkwyses wat gevolg word, wei Kannemeyer deeglik uit in die Inleiding. Hy wys spesifiek daarop dat hy die beginsels van die edisiewetenskap toepas. Hierdie tegniek is meer algemeen bekend in byvoorbeeld die Nederlandse letterkunde, waar nagelate en onvoltooide verse van digters bestudeer en “gerekonstrueer” word.

Terloops, Kannemeyer herhaal ook tersaaklike biografiese inligting. Indien Elmarie Rautenbach nie Komas uit ’n bamboesstok of die Opperman biografie gelees het nie, behoort sy nou te weet dat Opperman se siekte van 1976 akute lewerversaking was en nie ’n beroerte nie. Iets wat ek voorheen moes geweet het — en ek HET die biografie gelees! — is dat Opperman in Augustus 1980 reeds ’n ligte beroerte gehad het, iets wat sy werk aan onder meer Sonklong oor Afrika en die reis na Malawi saam met Hannes van der Merwe soveel meer indrukwekkend maak. Dit bied ook ’n verklaring vir die verslegtende kwaliteit van Opperman se handskrif, wat op sy beste nie besonder leesbaar was nie.)

II

Die klaarmaak van onvoltooide nagelate werke is veral in die musiekwêreld bekend. Dis algemene kennis dat Mozart nie sy Requiem self voltooi het nie, en Puccini was reeds oorlede toe die komposisie van sy opera Turandot afgehandel is. ’n Weergawe van Mahler se onvoltooide tiende simfonie word deesdae dikwels uitgevoer en opgeneem, en van die Britse komponis Elgar se onvoltooide werke, onder meer ’n simfonie, is onlangs deur musikoloë voltooi op grond van sy nagelate aantekeninge en planne, ten spyte van die feit dat die komponis voor sy dood uitdruklik opdrag gegee het dat sy werk nie voltooi mag word nie.

(Tel ’n mens Joernaal van Jorik as ’n bundel, het Opperman nege bundels gepubliseer en sy tiende onvoltooid gelaat. Hierdie stand van sake kom voor by meer as een simfoniekomponis, soos Beethoven en Schubert; Mahler was heel bygelowig oor hierdie patroon en het daarom sy Lied van die aarde nie as ’n simfonie genommer nie. Maar ook sy tiende simfonie kon hy nie voltooi nie! Om hierdie patroon op Opperman van toepassing te maak, is egter seker ’n bietjie té kreatief.)

Die ignorering van ’n kunstenaar se wense is ook in ander gevalle bekend. In sy essaybundel Testaments betrayed vertel Milan Kundera dat Franz Kafka in sy testament bepaal het dat al sy ongepubliseerde literêre werk, wat blykbaar in daardie stadium van sy belangrikste romans en verhale ingesluit het, vernietig moes word. Hierdie taak is aan ’n bepaalde vriend oorgelaat. Die vriend het hom egter nie aan die bepaling gesteur nie en het die werke wel laat publiseer. Vanuit literêre oogpunt moet ’n mens daardie vriend dankbaar wees dat hy Kafka “verraai” het!

Is Kannemeyer besig om Opperman te “verraai”? Een van die argumente ten gunste van hierdie publikasie was dat dit die beeld van Opperman voltooi, dat ’n mens ’n idee kry van waarheen hy op pad was. En daarvoor moet ’n mens Kannemeyer ook dankbaar wees.

III

Die blote feit dat Opperman se handskrif so moeilik leesbaar is, maak al van Kannemeyer se werk ’n prestasie. Hoe leesbaar die variante en fragmente is, het ook ’n rol gespeel in die seleksie wat gepubliseer is. Dit lyk haas onmoontlik dat hierdie “manuskrip” ooit volledig getranskribeer sal kan word, tensy uiters gesofistikeerde sagteware navorsers kan bystaan om “educated guesses” te maak. Ek het ter voorbereiding vir die skryf van ’n M-verhandeling die manuskripte van Engel uit die klip (1950) en Blom en baaierd (1956) deurgewerk en uitvoerige transkripsies gemaak. Die handskrif van Opperman in sy fleur, lank voor sy lewerversaking en beroertes, was reeds moeilik om mee te werk!

Verskillende tegnieke binne die edisiewetenskap word in Kannemeyer se boek gedemonstreer. Van drie gedigte word (sover moontlik) al die manuskripvariante getranskribeer, sodat die leser ’n indruk kry van hoe die tekste ontwikkel het. In die afdeling “Die gistende baaierd” word ’n oorsig gegee van die omvang van die manuskrip: verskeie invalle word deur middel van faksimilee en transkripsie beskikbaar gestel en daar word aandag geskenk aan verskillende bronne wat Opperman gebruik het, om die omvang van sy denke omtrent die inhoud van die bundel aan te dui. Die grootste deel van die uitgawe bestaan uit leestekste van 34 gedigte, saamgestel uit die verskillende variante teenwoordig in die “manuskrip”.

Hierdie praguitgawe is net so ’n prestasie as Die galeie van Jorik (1979), waarin Kannemeyer die ontstaan van Joernaal van Jorik dokumenteer. Tafelberg en die betrokke boekontwerpers, Jürgen Fomm en Nazli Jacobs, moet saam met Kannemeyer gelukgewens word met die beskikbaarstelling van hierdie kleinood in die Afrikaanse letterkunde.

IV

Kannemeyer rig sy fokus op die “manuskrip” van Sonklong oor Afrika. Maar juis die beskikbaarheid van hierdie werk laat nou ’n hele klomp ander vrae ontstaan waaraan die bloedjong Afrikaanse edisiewetenskap aandag sal moet skenk, sodat ’n basiese “etiek” ontwikkel kan word vir toekomstige navorsing.

Enersyds sal dit ’n interessante studie tot gevolg hê om te sien hoe die beoogde verse in Sonklong oor Afrika aansluit by vroeër gepubliseerde werk van Opperman. Wanneer ek enkele verbande trek, bepaal ek my grotendeels by die bundels wat ek die beste ken, naamlik Engel uit die klip en Blom en baaierd. Natuurlik sal daar verdere verbande ook met ander bundels in die oeuvre wees.

Die gebruik van Afrika-sprokies en -mites as intertekste herinner aan “Sprokie van die spikkelkoei”, en die verwysings na die Egiptiese beskawing in “Brief van ’n mededigter” herinner aan “Scriba van Egipte” (albei in Engel uit die klip). “Geboorte van die verminktes” skakel met “Swembad by ’n kraaminrigting vir radiumgevalle” (Dolosse, 1963), en die beeld van die hamerkop (“Ons hamerkoppies maak bekend”) eggo “Ringdans van die hamerkoppe” uit Blom en baaierd.

Gekoppel daaraan sal omvattender navorsing kan uitwys watter nuwe temas Opperman sou aansny. Daar is byvoorbeeld in die variante van die gedig wat ’n Guineaanse skeppingsverhaal verwerk twee geskrapte reëls (in Sonklong op bl. 96-97) wat ’n mens laat wonder: Sou dit die eerste verwysing in Opperman se oeuvre na homoseksualiteit wees, of is daar vroeër reeds iets hieroor?

Dit is opvallend dat die gedig “Oom Joël” reeds ongeveer dertig jaar tevore ontstaan het: tussen die manuskripweergawes van gedigte wat later in Engel uit die klip verskyn het, is daar reeds vroeë variante hiervan onder titels soos “Oom Jool vertel” en “Sprokie van die spookwa”. Dit sou baie interessant wees (maar sekerlik onmoontlik) om te kon vasstel waarom Opperman hierdie teks nie vroeër afgewerk het en byvoorbeeld in die bundel “oorskietverse” Kuns-mis (1964) geplaas het nie.

Andersyds open hierdie publikasie die vraag omtrent die oorskietverse wat tydens die werk aan vroeër bundels ontstaan het, maar nooit die lig gesien het nie, ook nie eens in Kuns-mis nie. Van ’n gedig bestaande uit drie koeplette, met titels soos “Bode”, “Sprokie”, “Voorbode” en “Boodskap” bestaan daar omtrent agt variante, en van die slotkoeplet alleen 19 weergawes. Die vers is nooit deur Opperman gesanksioneer nie, ten spyte daarvan dat hy soveel tyd, denke en energie daaraan bestee het. Dit laat ’n mens wonder hoeveel van die gedigte wat Kannemeyer rekonstrueer, werklik die finale Sonklong oor Afrika sou bereik het. Natuurlik kan ons hieroor net spekuleer: ons sal helaas nooit weet nie.

’n Reeks gedigte wat tydens die laat veertiger- of vroeë vyftigerjare ontstaan het en ook nooit gepubliseer is nie, is getiteld “Briewe aan ’n boer”. Die gedigte word aangebied as ’n reeks briewe wat deur onder meer ’n swart man, ’n bruin man, ’n Indiër en ’n Engelssprekende aan die boer gestuur word, en sluit ook reaksies van die boer in. In hierdie reeks is Opperman veel meer eksplisiet besig met die politiek van die dag as in die bundels van daardie tyd, naamlik Engel uit die klip en Blom en baaierd.

Die vraag wat hieruit voortvloei, is: sou dit die beeld van Opperman verder aanvul om hierdie duidelik verwerpte verse deur middel van die edisiewetenskap openbaar te maak?

V

Dit moet nou reeds duidelik wees dat Kannemeyer se arbeid weer eens ons kennis van en insig in die Afrikaanse letterkunde verryk en verruim. Die waardering van Opperman as literêre en kulturele figuur in die Afrikaanse wêreld is nog geensins afgehandel nie; trouens, dit verkry nou nuwe momentum: belangstelling in Opperman en sy werk het allermins met sy dood verdwyn. Hy is nie alleen ’n belangrike digter nie; in sekere opsigte is hy vandag nog ’n relevante digter (vergelyk die bespreking van die toonsetting van sy “Gebed om die gebeente” deur Hendrik Hofmeyr in “Klankkas”).

Kannemeyer moet gelukgewens word met hierdie publikasie, onder meer omdat dit die gesprek oor Opperman opnuut stimuleer.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.