|
Hoekom haal die kinders van apartheid hulle skouers op?Deur Sonja LootsGelewer te KKNK 31 Maart 2000 Die Burger se lesingreeks Is dit waar dat die kinders van Verwoerd, en in besonder sy skrywerkinders, hul skouers optrek? As metafoor is dié gebaar tekenend van ’n traak-my-nie-agtigheid wat onversoenbaar is met wat ’n skrywer doen. ’n Skrywer skryf immers omdat sy woedend is, omdat iets haar belg of boei en aangryp. Dit is miskien meer gepas om te praat van ’n skrywersgenerasie wat hul rug draai en dan versigtig oor hul skouers terugkyk. Die draai van ’n rug is ’n gebaar wat spreek van emosie. Woede, miskien; afkeur, soms... Maar altyd wys dit dat ’n besluit geneem is. Die omkyk verklap vertwyfeling, tweede kanse en oop eindes... Die kinders van Verwoerd draai onder meer hul rug op die stryd vir Afrikaans. In die afgelope dae op omstrede wyse veral op Dan Roodt en PRAAG se misplaaste idees. Waarom wil die jonges nie saamdraf na Spoornet en die Uniegebou nie? Waarskynlik omdat PRAAG vanuit die staanspoor eggo’s dra van ’n stryd om legitimiteit waarmee baie kinders van Verwoerd niks te doen wil hê nie. PRAAG verraai ’n onnadenkendheid en dikvelligheid oor die kompleksiteit van die Afrikaanse taalpolitiek deur die wyse waarop hulle in die debakel wat losgebars het na mnr Lukas Rautenbach se skandalige afdanking deur Spoornet gebruik maak van ’n HNP-lid (aldus ’n onlangse voorbladberig van dié party se mondstuk, Die Republikein) as een van die gesigte van hul beweging. Regse bedmaats soos Carel Boshoff en Kallie Kriel wys ook dat PRAAG noue bande het met die eksponente van ’n behoudende, bekrompe politiek. Dit wek noodwendig die indruk dat PRAAG pro-Afrikaans gebruik as kodewoord vir anti-regering. Omdat Afrikaans se image die begin en einde van al haar probleme is, is sulke lede ’n gewig aan die voet, die beeld wat hulle aan PRAAG besorg die laaste ding op aarde wat Afrikaans nou nodig het. PRAAG word aan sy vriende geken, en word dus ervaar as ’n groepering van die sogenaamde Nuwe Regses. Luidens ’n notule van ’n PRAAG-vergadering wat vroeër vanjaar gehou is, het van die lede ’n beroep op ander gedoen: Ons moet moeite doen om Kleurlinge te betrek. Volgens die notule was dit inderdaad die woordkeuse: Kleurlinge. PRAAG praat ’n ander taal as baie kinders van apartheid selfs al is ons almal Afrikaans. Luidens die notule gaan die gesprek vervolgens oor probleme wat met sulke uitreikaksies gepaard kan gaan. Daar word gepraat oor mnr Chris Louw, uitvoerende regisseur van Monitor, wat moeite gedoen het om bruin mense aan te stel, maar toe moes vind dat hulle hom ondermyn. Ek lees tussen die reëls: Dis ’n gelukkige toeval dat bruin mense ook Afrikaans praat. Dit kan handig te pas kom. Maar ons moet net sorg dat hulle hul plek ken. Dit is in die lig van al bogenoemde moeilik om te glo dat Afrikaans vir die manne van PRAAG iets anders is as ’n simbool van hul verlore mag. In die jongste uitgawe van Insig sê mnr ZB du Toit, assistent-redakteur van Rapport (voorheen van Die Patriot), die volgende: Jy kan nie mense soos Dan Roodt en Breyten Breytenbach as verkramp etiketteer nie. Waarop ek wil antwoord: O ja? Die Nuwe Regses wat verdagte optogte na die Uniegebou hou en Afrikaanse dwarstrekker-universiteite tussen die volstruise bepleit, stem baie kinders van Verwoerd hoogs ongemaklik. Afrikaans het sulke taalvegters nie nodig nie. Trouens: Afrikaans kan sulke taalvegters nie bekostig nie. Nog iets waarop die kinders van Verwoerd hul rug draai, is die voortdurende gesanik oor die wyse waarop die ANC-SAKP-alliansie Afrikaans met voorbedagte rade marginaliseer. Hierdie kind van Verwoerd bekommer haar veel meer oor die wyse waarop die taalstryders Afrikaans marginaliseer met ’n hele reeks taalfeeste (kom laat ons die ding op sy naam noem) en ’n eie Afrikaanse televisiekanaal alles moontlik danksy die boere se vet beursies. Wat my bekommer van ’n eksklusief Afrikaanse kanaal is dat ons in ’n situasie beland waar ons net met mekaar gesels. Netnou klink ons dalk soos die manne van PRAAG as hulle onder mekaar gesels. Dit raak so maklik om te verval in ’n gerusstellende, nostalgiese stel gesellige gemeenplasighede. Die stagnasie blyk reeds op ’n klein manier in die feit dat ’n woordmeester soos Breyten Breytenbach sy Kyknet-program voorspelbaar en saai Pitkos gedoop het. Wat my bekommer van Afrikaanse feeste is dat dit allermins ’n oplossing is vir die probleme wat Afrikaans het om ’n vastrapplek te vind in ’n samelewing waar sy op gelyke grondslag moet meeding. Die antwoord is allermins om haar uit die geroesemoes te lig en een keer per jaar hier op Oudtshoorn te kom pamperlang. Wat ons hier regkry, behoort bloot aanvullend te wees tot Afrikaans se vordering in die wêreld buite hierdie veilige laer. Sy moet leer om sonder bitterheid skouers te skuur met ander tale. Sonder om te bly bulder: Gee terug my mikrofoon, die grootste een! Dit sal slegs gebeur indien u in die res van die jaar ook gaan kyk na Afrikaanse opvoerings in die Markteater, die Baxter, die Nico, ensovoorts. Indien Afrikaans steeds te sien is op die laslappie-kanale van MNet en die SAUK. Dit wat betref die toekoms van Afrikaans. Jonger skrywers staan ook nie werklik so onkrities en kil teenoor hul verlede as wat dikwels te kenne gegee word nie. Hulle gil nie meer verset nie, maar in hul skryfwerk word daar wel hier en daar ’n wenkbrou gelig, vinnig oor ’n gewrig geraps of afkeurend met die tong geklik. Die kinders van Verwoerd beskryf die eggo’s van geweld wat hulle geërf het in al die ondergrondse nuanses en monderings. Die gesprek het weggedwaal van die primêre gegewe. Dit gaan nou oor die rimpeleffek. En daarom moet u fyn lees. In Uitreis van Rina Sherman verloor Tilda haar cool op die Johannesburgse Internasionale Lughawe tydens ’n reis met ’n lughawebeampte. Hy’s ’n dier, nie ’n mens nie, sê Tilda en kyk na die massa mense wat verstom na haar staar. Julle almal, kyk na hom, julle is in die hande van ’n dier. Sy praat nie van ’n polisieman wat ’n gevangene in ’n sel martel nie. Die boosheid verskyn hier in die gedaante van ’n doodgewone mens, in ’n doodgewone situasie. Dit gaan oor die agtergrond waarteen Tilda dit interpreteer, die grond waarin die situasie gewortel is. In Mark Behr se Die reuk van appels sien ’n seun in ’n verskriklike oomblik sy pa sonder sy maskers, verduidelikings en vergoeilikings. Die kinders van Verwoerd se skryfwerk moet hierdie oomblik voltooi, dit raak ’n poging om die vaders en oupas en ooms en broers, ook die ma’s en oumas, meer volledig letterkundig uit te pluis. Om hulle in tekste staan te maak, tot verantwoording te roep, aan te kla en ook te verdedig. Dit gaan oor die ambivalensie wat ’n mens voel vir dié wie se besluite jy onverstaanbaar vind, maar aan wie jy nietemin onverdraaglik verknog is. Die kinders het nog slegs begin om met hul voorgangers te stoei. Die proses sal hom uitwoed in die moord op die vaders, oupas en ooms die eerste fluisteringe is reeds daar. Jaco Botha skryf in In Drie Riviere oor die karakter my oom Kobus: Met al sy hempsknope los en sy broek op sy knieë het sy tweede vrou hom in die badkamer aangetref en op sy begrafnis het sy hele familie vir sy onsterflike siel gebid. Gert Vlok Nel skryf in om te lewe is onnatuurlik: ...Pa was i tier in die huis Ma dikwels i prooi. In die berg was tiere uitgewis. Sherman beskryf in die volgende toneel die kompleksiteit van ’n situasie waarin jy jou rug draai om dit wat jou gevorm het. ’n Vrouestem kondig haar vlug aan. Tilda kyk weg en staan op. Sy omhels Ma. Sy draai om na Pa en fluister hees Pappa in sy oor. Pa se baard krap teen haar wang. Die vel in sy nek word bloerooi. Tilda draai haar rug op Ma en Pa en loop na die uitgang. Maar in my opening het ek daarop gewys dat die kinders van Verwoerd weer terugkyk oor hul skouers altyd nog verknog. Ek haal vir oulaas aan uit Sherman: Tilda gaan sit in Pa se leunstoel. Pa is dood... Jy sal nooit weer sy dogter wees nie, sê sy vir haarself en gaan lê in Pa se warm bed. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |