|
Terug na my eerste liefdeKoos Kombuis oor die skryfproses van sy besverkoper-outobiografie, Seks & Drugs & BoeremusiekHierdie essay is geborg deur Nic Barrow Die ergste ding wat met enige mens kan gebeur, is dat jy jou eerste liefde kan vergeet. Dit is veral erg as so iets met 'n kunstenaar gebeur. Kunstenaars is die mense wat veronderstel is om ander mense deur middel van hulle kuns te herinner aan húlle eerste liefde, en wanneer 'n kunstenaar self sy eie eerste liefde vergeet, beteken hy niks meer vir die gemeenskap nie. Dan is hy op sy beste 'n entertainer, en op sy ergste bloot 'n vakman, 'n tegnikus. Die kunstenaar wat sy eerste liefde verloor het, vervang erotiek met pornografie, waarheid met ideologie, en skoonheid met kitsch. Die grootste deel van my loopbaan as kreatiewe gees het ek gewy aan alles behalwe die najaag van my eerste liefde. Hieroor vra ek niemand om verskoning nie. Ek moes finansieel oorleef. En dan was daar natuurlik die politieke agendas. Ag, Here. Ek weet ek sou dit seker weer doen as ek my lewe oorgehad het. Maar vir 'n groot deel van my kreatiewe loopbaan het ek my kuns ingespan met een doel voor oë: om die vyand te oorwin. Ja, ek het 'n vyand gehad. Ek het die vyand gesien as iemand wat ek moet oorwin voordat ek my eerste liefde kon herontdek. Die vyand het gestaan tussen my en kreatiewe vervulling. Ek het gedink die vyand is die Nasionale Party. Maar die vyand was ook ekself. Wanneer 'n mens kuns skep omdat jy iets of iemand haat, word jy 'n bietjie soos Dan Roodt. Jy word 'n bietjie soos Dan Roodt selfs as jou cause 'n goeie cause is. Kuns kan oorleef, en selfs groot kuns kan geskep word uit gevoelens van walging en dissatisfaksie - kyk maar na "Guernica" van Picasso, luister maar na "It Ain't Me, Babe" van Bob Dylan - maar geen kreatiewe loopbaan kan permanent steun op die pilare van haat en aversie nie. Te veel haat maak jou eendimensioneel, net soos te veel en te goedkoop liefde jou eendimensioneel maak. Koos Kombuis, die mediaskepping, die mens, die ding, die stuk kuns, die ek, is neëntig persent tinsel en net tien persent goud. Pla dit my? Dit sou seker, as ek 'n day job gehad het. En tog, soms, laat in die nag, as die brandewyn praat en die kole smeul, dink ek aan my liefde, my eerste liefde, en dan wend ek my na my computer. En in die klein ure, wanneer niemand kyk nie, pleeg ek regstellende aksie. En ek rig my visier op haar. Ek sou nie finansieel kon oorleef sonder die tinsel nie, maar my hart smag na die juwele wat ek snags raakboor diep onder in die kors. Ek sou nie emosioneel kon oorleef as ek nie soms, net vir 'n oomblik, my masker kon afhaal om te kyk hoe ek regtig lyk nie. Soos Dorian Gray onophoudelik teruggelok is na sy eie kelderverdieping, so verruil ek soms my almal-se-pel-kleinlettertjie-k-persona vir die verskriklike waarheid van Kuns, Kuns met 'n hoofletter K. Nie uit lojaliteit of plig nie, maar omdat die drang eenvoudig te sterk word. Natuurlik is Kuns 'n jaloerse God, en hierdie two-timing game verg dus heelwat vernuftige voetwerk. Ek sal nooit my werkswyse kan verander nie. Ek is nie net JM Coetzee nie. Ek is ook 'n bietjie Fanus Rautenbach. Al hou ek my lyf Aldous Huxley, wag daar 'n Leon Schuster altyd net onder die oppervlak. Dit is hoe my kop werk. Dit is hoe die Vader my geskape het. Ek het 'n corny sin vir humor. Ek is 'n dualis. Daar is wel een soort kreatiewe moment wat my honderd persent tevrede stel, en dit is die kreatiewe moment, die oomblik van beide goddelike en profane waarheid wat albei fasette van my persoonlikheid dek. Dis baie skaars. Maar dit kan gebeur. Vir 'n skisofreen bestaan daar immers nie iets soos masturbasie nie; daar is slegs groepseks. Ek het my hele lewe lank al groot bewondering vir die suiwer kunstenaars van ons tyd, die manne en vroue wat helder brand en uiteindelik hulleself vernietig in die vlamme van hul eie waansin. Ek bewonder Sylvia Plath, en ek bewonder Jack Kerouac, en ek bewonder Ingrid Jonker, en ek bewonder Scott Fitzgerald. Hulle was sulke ongelooflik heroïese losers. Maar, let's face it, hulle was losers. Hulle kon nie die punch vat nie, when the going got tough they all cracked up. So groot soos my bewondering vir hierdie deursigtige genieë is, soveel groter is my admirasie vir die ouens wat dit reggekry het om hulle brood aan albei kante te botter. Daar is minder van hulle as wat mens dink. Ek praat nie noodwendig van ouens soos ek, wat soms skitter en soms skyt nie, ek praat van ouens wat, in die woorde van Breyten Breytenbach, dit regkry om "van hondedrolle sterre te maak". Met ander woorde, die kunstenaars wat die haas ondenkbare tightrope kon loop van kommersiële sukses aan die een kant en kreatiewe integriteit aan die ander kant. Ek het een so 'n oomblik in my kreatiewe loopbaan ervaar. Daar was een oomblik in my lewe toe die Muse en die background-sangeressies almal mooi saamgesing het. Toe ek daarin geslaag het om 'n werk te skep wat myns insiens kreatiewe integriteit het, dog ook goed gedoen het op die markplein. Dit was 'n ongelooflike ervaring, en ek sal nooit vergeet hoe hierdie wonderwerk gebeur het nie. Ek dink ek sal die proses probeer naboots totdat ek eendag oud en grys is! Volgens die meeste kritici is my outobiografie Seks & Drugs & Boeremusiek my beste werk ooit. Dit is ook die een enkele Kombuis-produk wat die beste verkoop. Ek kan nie meer onthou hoeveel keer die boek herdruk is nie. En wat die inhoud betref, nog nooit wanneer ek teruggegaan het om daardeur te blaai, het ek ooit die behoefte gevoel om een woord daaraan te verander nie. Hoe het dit gebeur? Wat het aanleiding gegee tot hierdie onverklaarbare sinchronisiteit? Miskien moet ek teruggaan na die begin van my loopbaan, toe ek net 'n skrywer was. Van liedjies skryf, musiek maak en konserte hou was daar toe nog geen sprake nie. My musiekloopbaan het eers in die middel-tagtigs afgeskop en eers werklik momentum gekry in 1990, na my tweede album, Niemandsland. Maar vir 'n hele paar jaar, vanaf 1980 tot min of meer 1984, was ek 'n voltydse skrywer. Skryf was my eerste liefde, en ook my enigste liefde. Ek het natuurlik toe al die tightrope probeer loop, want ek moes my ernstige skryfwerk aanvul met 'n swetterjoel Huisgenoot-stories om te oorleef, maar dit het geen ernstige wanbalans geskep vir my nie, want die Huisgenoot-stories was 'n waardevolle leerskool in terme van basiese storie-vertel-tegnieke. Tot vandag toe, selfs wanneer ek eksperimentele werk skryf, gebruik ek daardie kennis. Ek het begin ongelukkig raak by Afrikaanse uitgewers in die middel-tagtigs omdat ek gevoel het ek het myself in 'n hoek vasgeverf. Selfs toe al het ek instinktief aangevoel dat my Letoit-persona moes selfmoord pleeg. Dit sou eindelik gebeur teen 1990, toe ek dramaties en selfvoldaan my afskeid geneem het van Afrikaanse letterkunde en aangekondig het dat musiek voortaan my hoofaktiwiteit sou word. Ek het vir my die mees onliterêre, mees almal-se-pel-naam gekies wat ek moontlik kon: Koos Kombuis. My literêre selfmoord was voltrek, en, bevry van die Muses van Hoër Kuns, het ek, met 'n groot gevoel van verligting, myself begin verkoop aan die volk. Vir die volgende tien jaar sou ek niks anders doen nie as rondry deur die land in verskillende Kombi's vol vals kitare, vuil sokkies, daggareuke en groupies. Dit was lekker vir 'n ruk, maar my rondloop-tekkies het my begin skaaf kort voor die draai van die millennium. Teen die einde van die neëntigerjare, toe ek eindelik besluit om te settle met 'n steady girlfriend - 'n dramatiese aanpassing - en selfs 'n huis koop in suburbia - 'n nog meer dramatiese aanpassing - moes ek stocktaking doen. Kannetjie het vir my gesê dat sy op die punt gaan kom dat sy nie langer kans sien om CD's te verkoop na shows nie, en dat konserte te veel van ons tyd vat. Ek het self begin terugdink aan my oorspronklike prioriteite. Toe sy my vra of daar dalk ekstra geld te maak is in boeke, was dit soos 'n bliksemstraal uit die hemel. My eerste liefde was terug! Dit was die antwoord. Ek sou weer 'n skrywer word, het ek geweet. Ek sou ophou lawwe liedjies sing in kroeë, en my Kinky Friedman-Muse verruil vir Etienne Leroux en JM Coetzee. Daar was twee probleme. Die eerste probleem was dat ek nie meer 'n uitgewer gehad het nie. Al daardie brûe is jare tevore al verbrand. Ek het te veel trots gehad om terug te sluip na Tafelberg toe nadat ek hulle so gruwelik beledig het. Boonop het sommige van die uitgewers van die vroeë tagtigerjare nie meer bestaan nie: Perskor was weg, Haum was weg, en die kleiner uitgewerytjies was onaktief. Die tweede probleem was finansieel (ons was nie dadelik hiervan bewus nie, maar ons sou dit weldra besef). Bitter min Afrikaanse skrywers kan bekostig om voltyds te skryf. Dit is waarom ek selfs nou, teen 2006, steeds musiek moet maak. Ek het die afgelope paar jaar etlike kompromieë probeer aangaan met my musiek-persona. Die eerste kompromie was heeltemal kosmeties, en 'n bietjie onsinnig. Ek het my sing-pseudoniem (Koos Kombuis) behou en slegs 'n "A" as voorletter ingevoeg tussenin om te suggereer dat ek my "André"-fase wil laat herleef, en die Letoit-selfmoord ongedaan wil maak. Die drie voorletters in hierdie nuwe naam - Koos A Kombuis - het "kak" gespel. Dit was nadat ek te laat besef het die naam "Letoit" was 'n anagram vir "toilet"! Maar al hierdie rondspringery met outeursname was op die ou end eenvoudig te phoney vir woorde. I mean, who cares? A stinkafrikaner by any other name … (hierdie aanhaling met apologie aan Anton Goosen!). My tweede kompromie was meer prakties van aard: ek het besluit om myself van tyd tot tyd te omring met werklik goeie musikante en interessante projekte aan te pak. Dit hou natuurlik die verveling weg, en dit hou my besig. Wanneer ek gelukkig en besig is in my nuwe stokperdjie - want musiek is, na alles, vandag net 'n stokperdjie, al bring dit soms meer geld in as skryfwerk - hou dit my ook uit die kwaad in, en dan is daar minder versoekings om myself te herhaal, of betrokke te raak in sinlose openbare argumente met medemusikante. In ieder geval, vir sowat 'n jaar na my Groot Besluit het ek en Kannetjie op en af gestap deur ons huis en gewonder hoe ek my comeback as Afrikaanse skrywer gaan hanteer. Ek het nie 'n clue gehad waar om te begin nie. Ek het 'n computer gekoop, maar in plaas van skryf het ek heeldag sit en prentjies teken met die kunsprogram. Een of twee keer het ek voelers uitgesteek na skrywers. Die enigste een wat vir my goeie raad gegee het, was Tinus Horn. Daar is net een goeie editor in Afrikaans, het hy gesê, en dit is Etienne Bloemhof by Human en Rousseau. Ek het hieroor getob, maar niks daaromtrent gedoen nie. Toe, eendag, uit die bloute uit, bel Human en Rousseau my. Op die lyn was Jaco Scholtz (ek sou later uitvind hy is my ou mentor, Hettie Scholtz, se seun). Hulle wil 'n boek uitgee, sê hy. Die boek moet goed verkoop. Hulle soek 'n openbare persoonlikheid met 'n cool image wat kan skryf. Hulle het onthou dat ek vroeër 'n skrywer was. En (dit het hy nie hardop gesê nie, maar ek kon dit aflei) hulle rugbyspelers was op. Francois Pienaar se boek het goed gedoen, en Gary Teichmann s'n was op pad, maar dit was blykbaar die enigste twee eks-Springbokke wat woorde op papier kon neersit in die regte volgorde. So my name had come up. Ek was in goeie geselskap. Ek was dadelik oor my besluiteloosheid. Ek het geweet dat dit een van die beste dinge was wat ooit met my sou gebeur. Die laaste deel van die puzzle het in posisie geval. Ek sou 'n fantastiese boek skryf wat goed sou verkoop, Human en Rousseau sou dit uitgee, en dit sou my herposisioneer in die mark. Dit sou wees asof ek full circle gekom het, want Human en Rousseau was, destyds in my prille en optimistiese jeug, ook die eerste uitgewer wat 'n kans gevat het op 'n solo effort deur my (al was dit net 'n versamelbundel Huisgenoot-stories genaamd Nou's die Kaap Weer Hollands). Alles het so eenvoudig gelyk. En dis presies wat ek gedoen het. Beginner's luck was aan my kant. Die hele proses het ongelooflik seepglad verloop, vanaf ons eerste uiteet saam met Jaco Scholtz en Etienne Bloemhof (wanneer laas het Afrikaanse uitgewers my gewine-'n-dine?) tot by die launch op 1 Augustus die volgende jaar. My verhouding met my editor, Etienne, was wonderlik. Daar was slegs een haakplek, reg aan die begin: ek wou my roman begin met die sinnetjie: "Toe ek vanoggend wakker word, was my kak groen", maar hy het gevoel dit sou sensitiewe lesers afskrik. (Vir 'n dag of twee het ek gewonder of die nuwe Afrikaanse uitgewerswese werklik die konserwatisme van die vroeë tagtigs afgeskud het!) Dit was egter die laaste sin wat Etienne sou afkeur. Vir maande lank het ek gewerk. Ek het gewerk dwarsdeur Kannetjie se eerste swangerskap, en dwarsdeur traumatiese aanbouings aan ons huis (ons het byna te laat agtergekom ons kort 'n babakamer). Eers toe haar magie boep gestaan het, was my manuskrip klaar. Nou moes dit geproeflees word. Ek het vir Etienne 'n foto ge-email wat Kannetjie van my geneem het tydens 'n vakansie in Istanbul, en hy het dit aanvaar vir die voorblad. Alles was so ongelooflik maklik. Ja, van al die boeke wat ek nog ooit geskryf het, was Seks & Drugs & Boeremusiek die mees pynlose geboorte (pun intended). Die grootste krisis sou nog voorlê. Human en Rousseau wou 'n launch hê, 'n moerse paartie om my terugkeer tot die letterkunde te vier. Ek het soos die verlore seun gevoel. Maar Kannetjie wou niks weet nie. "Wat as Simon te vroeg gebore word?" het sy gevra. "Maar die datum van die launch is twee weke voor die datum wat die dokters voorspel het," het die uitgewers gepaai. "Dis 'n lang tyd; min babas word so vroeg gebore." Op die ou end het hulle ons omgepraat. Alles het goed gegaan tot 'n dag voor die launch. Toe gebeur dit. Ek was in die boonste verdieping van ons huis in Gordonsbaai, besig om, soos van ouds, prentjies te teken met my kunsprogram, toe ek Kannetjie se stem uit die slaapkamer hoor: "André, my water het so pas gebreek." Dit was die groot oomblik. Ons noodtassie was klaar gepak, 'n week tevore al, en ek het my vrou in die kar geboender vir 'n wilde jaagtog Medi-Clinic toe. Maar toe besef ek die petrol is op. Ons het dit net-net gemaak tot by die naaste vulstasie, en daar moes ons deur die hele pynlike stadige volmaakproses gaan, terwyl Kannetjie elke paar minute 'n kontraksie kry. Ek het nie eers tyd gehad om te dink aan die launch nie. Ek was in 'n flat spin. Ek was, om eerlik te wees, baie meer gespanne oor die hele aangeleentheid as sy, want nadat ons die kar volgemaak het, wou sy nog hê ek moet vir haar by die CNA stop sodat sy iets kan kry om te lees tydens die geboorte. Bid jou aan! Toe ek weier, het sy haar selfoon aangeskakel en begin oproepe maak. Nie om haar vriende en familie in te lig oor die bevalling nie, maar sake-oproepe. Sy was al in die kraamsaal, gekoppel aan die masjiene, toe is sy nog besig om te reël dat van my CD's afgelewer moet word by een of ander winkel of konsert of iets. Die bevalling was 'n moeilike en stadige een. Om 'n lang storie kort te maak, Simon is gebore skuins voor donker die volgende oggend. Van slaap was daar geen sprake nie. Maar dit was 'n onvergeetlike ervaring, iets wat ek nooit in woorde sal kan beskryf nie, al het ek hoeveel skryftalent! Een of ander stadium in die loop van die dag, 1 Augustus 2000, het ek eers onthou dat ek daardie aand 'n boek launch in die Tygervallei-winkelsentrum het. "Sê vir Human en Rousseau ek kan dit ongelukkig nie maak nie," was Kannetjie se triomfantlike afskeidswoorde toe ek die aand in my kar moet klim oor deur te ry. Van die launch kan ek bitter min onthou. Ek weet daar was mense uit my skrywersverlede wat ek baie bly was om weer te sien. Dit was 'n emosionele affêre. Ek dink Valiant Swart het 'n kort speech gemaak. Ek was dood op my voete en het, met die applous aan die einde, byna in trane uitgebars voor al die mense. Dit sou ongeveer drie jaar neem om my verlore slaap in te haal. Maar die daad was gepleeg. My best-seller was geskryf en uitgegee, en ek kon van daar af al my aandag aan kinders-grootmaak gee. Wel, darem ook nie al my aandag nie. Hotel Atlantis sou volg - geskryf, onder dieselfde omstandighede, tydens Kannetjie se tweede swangerskap, en terwyl ons aanbou aan nog 'n babakamer. Kort na die geboorte van klein Marleentjie het ek die novelle The Secret Diary of God geskryf, die meeste van die tyd met een vinger op die keyboard en die ander hand besig om die nuwe baba te wieg op my een skouer. Albei hierdie boeke was myns insiens goeie werk, maar dit was nie dieselfde wegholsukses in die mark as Seks & Drugs & Boeremusiek nie. Nog nooit weer het ek die sinchronisiteit, die pure ekstase, en die intellektuele eenvoud ervaar wat daardie roman so reg laat voel het, en so goed laat presteer het nie. Al my ander boeke moes dikwels herskryf word, geskaaf en gebeitel en tot wasdom forseer word; Seks & Drugs & Boeremusiek het uitgeglip soos 'n diarree, morsig dog maklik. Sommer net so. Daar is natuurlik een klein probleempie wat ek nooit voorsien het nie. Sedert die publikasie van daardie boek - my amptelike outobiografie - het ek talle insidente begin onthou wat nie in die boek opgeneem is nie. Hoe verder my jare van dwelmmisbruik in die vergetelheid verdwyn, hoe helderder word my brein, en hoe meer prentjies skiet terug in my kop. Die een fase wat ek veral goed begin onthou, is die fase wat ek gedownplay het die eerste keer: die Voëlvry-jare en die musiektoere - met ander woorde, die sestien jaar met 'n vals kitaar tussen 1984 en 2000. Onlangs het ek gehoor dat Etienne Bloemhof nou weer by Human en Rousseu werk, en het ek aan hom 'n konsep per epos gestuur vir 'n nuwe outobiografiese manuskrip, 'n opvolgboek. Ek het nog nie 'n titel nie; hierdie ongebore babatjie staan vir eers slegs bekend as &. Ons sal maar sien of die tweede reën, as dit ooit sou val, so mildelik soos die eerste sal wees. Hou duim vas vir my, asseblief!
Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |