|
Mooi gedigte van die tuisfrontKaren de WetVan Heidebos en Klip Suider Kollege Uitgewers Stellenbosch 2000 Ronnie Belcher het n nuwe bundel die lig laat sien: Van Heidebos en Klip. By Suider Kollege Uitgewers, Stellenbosch. Dis nie die eerste Afrikaanse digter wat sy poësie self uitgee nie deserdae meer dikwels die norm as die uitsondering, wil dit voorkom. Mens kan n voorlopige lysie (1) saamstel, sommer so uit die vuis uit en oor die afgelope vier of so jaar al loop jy gevaar om n paar uit te laat, want dit is die probleem met tuispublikasies: die bemarking en beskikbaarheid daarvan is nou maar eenmaal nie so voor die hand liggend sigbaar nie. Terug by Belcher. Dis die bekende Belcher wat weer aan die woord is in Van Heidebos en Klip. Die Belcher van die bekkige kwatryne (My hart sing sewe moppies), van die Boerneefse praattaalpoësie (n Ding om te skil in die maand April), van die volkspoësie (So is die lewe vir een pond sewe), van die gedigte oor die inheemse: mense, landskappe, gebruike, leef (reeds sedert Ver land en Mens en skepper, immers). Alhoewel die temas en die toonaard van die gedigte herkenbaar is, is dit die eerste bundel van Belcher wat deurgaans sonnette bevat. Op drie na (2) algar Shakespeariaanse sonnette. Ook Belcher se voorliefde vir die streng verstegniese is dus weer teenwoordig in sy nuutste bundel. Ten spyte van die streng versvorm kry Belcher dit reg om sy kenmerkende praattrantpoësie te handhaaf dikwels deur gebruik te maak van enjambement. En natuurlik word die stromende reëls se orale trant verder gedra deur die tipiese woorde wat die geïmpliseerde verteller sou gebruik (Duisman, hotnosgod, hoogson, dat ons bloed heel huis toe kom). Vergelyk byvoorbeeld die vers Gebed om n basterkaptein (p 5):
brag onheil na my deur, want toe hy skrou op sewe myl distansie dat net ek sy woord kon hoor, toe weet ek dis oor jou, Hermanus, wat daar iewers tussen klip jou moeë burgers sonder dat jul weet met hoogson n gebied laat binneglip waar mausers reglê vir die aanvalskreet. Toe waak en bid die hele Rehoboth dat God oorvat, toe sien ons hoe die Maandag glip van die voorvoet van die hotnosgod en tussen Duisman en die son stofslaan, en toe die dag blind word, skiet jul hot-om toe weet ons dat ons bloed heel huis toe kom. Gesien die moeilike paadjie wat tuispublikasies het om te loop, gesien die (gerieflike?) voordele wat n redigeerder, tipografiese en uitlegredakteur, bandontwerper, ens kan bied, gesien Belcher se gevestigde status as gepubliseerde digter in Afrikaans, en veral gesien die onteenseglik waardevolle gedigte wat hier aangebied word, is dit vir my duister waarom Van Heidebos en Klip n tuispublikasie is / moes wees / wou wees. Kyk hierdie mooie gedig en dan boonop nog heel in pas wat tema betref in terme van die stroom tekste wat dit het oor die (post)kolonialisme (3): (Kryt, p 3)
sy vuis teen wit skuimkoppe van die see en moker hou vir hou die strand vuisvoos onder die meeue se bloedlustige geskree. Die rompe van matroos en houerskip kom aangerol met ankertou en vrag en word verpletter teen die riwwe klip wat soos n Leviatan lê en wag. Dan skielik sak die stormwind sy vuis en raak die asemhaling van die see weer kalm met n reuk van vars harpuis waar geel stootskrapers skroot en vuil opvee. En in die bergkom lê die wind doodstil asof hy sê: dis soos die Here wil. Eva van die bosse (p 8) is Belcher se bydrae tot die groot gros literêre tekste oor / geïnspireer deur Krotoa / Eva. Hand aan hand met die historiese bewussyn wat deur die bundel loop, is daar ook telkens blyke van n politieke besef. En onomwonde so. En van vele kante af beskou. So wissel die perspektief tussen Arbeiderskongres (p 9), Trajek (p 10) en Oorgawe by Paardeberg (p 11) byvoorbeeld verduidelikingloos, kompromisloos:
Ons sal die nuwe politiek laat praat
Sewe preskripsies uit die volksgeloof
Die Kakies het hul eerste skoot laat klap Dat historie hier omgedig word tot poësie is gewis én genoeglik (genotlik?) Partymaal minder satiries, partymaal meer vermaaklik. Soos die volkse weergawe van die besoek wat pous Johannes Paulus bring (Besoek, p 12):
en wyl sy aide de camp in Pools vertaal sing veertigduisend stemme uit één mond hom toe: Laat, Heer, u segen op hom daal. [...] Sy komste word n sekel wat oopsny, nie tussen Boer en Brit, maar knou vir knou van bo tot onder dwarsdeur die Party. En in die skemerstilte rys die grou gestalte van oom Paul wat dikbek brom oor n gewese Afrikanerdom. Soos die wonderlike ophaal van die eerste geskrif in Afrikaans (Gabloematiem, p 13):
om blootvoet aan die knie van die moestaat te leer om op te sê uit die Koer-Aan sodat hul met n hadjie kan saampraat byvoorbeeld oor die iets van Ramadaan of slimtes van abdas voordat jy bid en so by tammat kom, kon hul nie mooi verstaan hoe die Arabies op hul tong moet sit. Toe skryf Ieesjmoeni die Gabloematiem in Afrikaans wat soos Arabies lyk dat soortes wat moekallaf is kan sien hoe Gods woord vir Shytaan sal laat wyk omdat hy bang is vir dié Kaapse taal soos wat n Slams dit skrywe: regop en halaal. Alle bundels se gedigte moet nie noodwendig voor die voet tematies (of volgens enige ander beginsel) georganiseer word nie. Maar dit lyk my tog n effe steurend dat die gedigte in Van Heidebos en Klip somaar lukraak aangebied word. Juis omdat daar sulke sterk tematiese verbande tussen bepaalde gedigte bestaan, vind hierdie leser dit ontwrigtend om tussen Eva van die bosse (p 8) en Eva van die fort (p 18) gedigte te moet lees oor politiek (die Arbeiderskongres, die Nasionale Afrikanerdom), oor die Anglo-Boereoorlog, oor die oorsprong van Afrikaans, die Kaap en Distrik Ses, en les bes ook nog gedigte oor die nomadiese bestaan in semi-woestynstreke waarin taal wat na Karoo en Griekwa ruik gebesig word. Dat Belcher se vroeëre uitgewers (en daar is n rééks gemiddeld een per bundel, en dit is ook nie sy enigste boek by Suider Kollege nie die aansienlik beter versorgde Bayeux het ook by hulle verskyn en staan bekend as die eerste Afrikaanse poësiepublikasie van 2000), dat énige gevestigde uitgewer, die bydraes van hierdie bundel deur die vingers laat glip het, lyk my na n verlies. Al is dit dan nét om die tipografiese versorging en die bandontwerp daardie lettraset art nouveau-randjies en die rafelrand geel (geel, nie sepia nie) foto en die krullerige titel, is net een te veel om nie eers te begin sê hoe dit die inhoud en teksaanbod kniehalter (mens wil bykans sê: in die wiele ry) nie. En, dit lyk my boonop n duur bedryf ook te wees, die tuis- / klein uitgewery publiseerdery. Human & Rousseau se onlangse Afrikaanse poësiepublikasie is Cornelius van der Merwe se Witsig. 87 bladsye, 99 gedigte, glansomslag, tipografies en redaksioneel goed versorg: R59,95. Van Heidebos en Klip: 51 bladsye, 51 gedigte, onversorgde gombind, swak papiergehalte ens, R56,00. Floris A Brown se Die woudmaker (1998, FAB-uitgewery) 72 bladsye, 52 gedigte, aansienlik netjieser en meer versorg uitgegee: R40,00. Minstens het van die ander minder gevestigde, non-hoofstroom uitgewers van Belcher-bundels (soos P J de Villiers en Klipbok-Uitgewery) n bundel uitgegee waarvoor ek my nie sal skaam om aan buitelandse poësielesers aan te bied nie. Vir die inhoud van Van Heidebos en Klip skaam ek my allermins. Trouens, ek is heelwat opgewonde daaroor, die meeste wat ek nog was dwarsdeur 99 en tot in 2000 (die bundel is s j uitgegee, sonder ISBN, sonder menige verantwoordelikheidsmelding). En dít is op die ou end wat ek wil sê: dat hierdie gedigte nie so n wanversorging, selfs onversorging, verdien nie. Schade doch. 1. Boshoff, Johann P. 1998. Bloot. Pretoria. 2. Kuslyn (p 1), Magdalene van Genadendal (p 31) en Ryleeu (p 48) het n Italiaanse vorm. 3. Daar is baie meer blatante voorbeelde hiervan, vergelyk bv Sam-Kubisdag (p 6; r 9-14):
moes bloed en siel afgee voor ons kon keer dat Kaiser Boel ons land soos koring wan waaruit ons nou, terwyl ons vier, moet leer dat bloed en bloed mekaar nooit kan uitroei wat saam-saam deur ons Baster-are vloei. |
|||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |