SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Afrikaanse poësie in Antwerpen

Renée Marais

Op Vrydag 29 Oktober is Gerrit Komrij se bloemlesing Die Afrikaanse poësie in 1000 en enige gedigte in Antwerpen bekendgestel. Die bekendstelling, in die lieflike Bourla Schouwburg, wat net om die hoek van die Rubenshuis geleë is, het die vorm aangeneem van ’n voordragaand waartydens vyf Afrikaanse digters hulle eie gedigte voorgedra het. (Twee dae later is hierdie bloemlesing ook op die 63ste Boekenbeurs voor Vlaanderen, in Antwerpen se Bouwcentrum, bekendgestel.)
    Gerrit Komrij en Daniel Hugo het die digters aan die gehoor voorgestel: eintlik is weinig meer oor die digters gesê as wat hulle name is, en moes die gehoor hulle dus verlaat op die inligting wat in die program opgeneem is. Komrij wou kennelik hê dat die kollig op die gedigte self moes val, en het gevolglik baie min aandag vir homself en vir sy toeligting van die aard en ontstaan van hierdie merkwaardige bloemlesing opgeëis.
    Wilma Stockenström, Charl-Pierre Naudé, Daniel Hugo, Hennie Aucamp en Marius Titus is die digters wat gevra is om by die bekendstelling op te tree, en hulle het dan ook in hierdie volgorde opgetree (na die pouse in omgekeerde volgorde). Die grondvloer van die saal met sy pragtige, beskilderde plafonne, rooi fluweelgordyne en goudafwerking het vol belangstellende mense gesit, ofskoon die losies betreklik leeg was. Die opkoms het nietemin getuig van ’n duidelike belangstelling by die publiek.
    Om hierdie rede het ek dit ietwat jammer gevind dat geeneen van die gedigtekste wat voorgelees is aan die gehoor verskaf, of teen ’n skerm geprojekteer is nie. Die toehoorders moes eenvoudig die voordragte kon volg; iets wat in ’n taal wat die gehoor miskien nog nooit gehoor het nie sekerlik nie maklik is nie. Komrij het dit dan inderdaad ook daaroor gehad dat die gehoor die ritme en die klank van Afrikaans moes ervaar, miskien eerder as om die betekenis presies te kon volg.
    Wat “verstaanbaarheid” van die tekste betref, was Aucamp se gedigte ongetwyfeld die verstaanbaarste, synde kabarettekste met gewoonlik ook ’n refrein daarby. Aan die reaksie van die gehoor kon ’n mens dan ook aflei dat hulle die betekenis daarvan kon volg. Gesoute aktrise wat sy is, het Stockenström haar gedigte (eers uit Spesmaseen na die pouse uit Komrij se bloemlesing) so onvergelyklik soos altyd voorgedra, maar vir iemand wat nie met Afrikaans vertroud is nie, is die betekenis nie maklik om te volg nie, siende die gedigte nie altyd sintakties eenvoudig is nie. Ook Hugo se voordragte is deur die gehoor geniet. Dit was ’n slim keuse om enkele van sy Herman de Coninck-vertalings voor te lees. Van Titus en Naudé se voordragte vra ek my egter af hoeveel die gehoor kon volg, aangesien eersgenoemde gevra is om slegs gedigte in Kaapse Afrikaans voor te lees en laasgenoemde soms ietwat binnensmonds voorgelees het. Dat die vyf digters egter ’n goeie en verteenwoordigende beeld uit die Afrikaanse poësie laat hoor het, ly geen twyfel nie.
    Die gehoor het gedurende die pouse die geleentheid gehad om self met sowel Komrij as die digters te gesels en eksemplare van die bloemlesing te koop en te laat teken. Daar is dan ook ’n goeie stapel boeke van die hand gesit. Die bloemlesing is ongelooflik verteenwoordigend van die Afrikaanse poësie, en is trouens ook bygewerk met ’n goeie klompie gedigte oor Suid-Afrika wat in Nederlands geskryf is en daarom nooit die Afrikaanse bloemlesings gehaal het nie. Die bundel word verkoop saam met ’n klein boekie met tien opstelle(tjies) deur Komrij, na aanleiding van tien verskillende Afrikaanse gedigte. Die boekie bevat ook ’n verklarende woordelys — veral nuttig ten opsigte van die Kaapse Afrikaans. (Hierdie boekie sal blykbaar nie in Suid-Afrika te koop wees nie.) Die bloemlesing is trouens pragtig uitgegee, in presies dieselfde formaat as die Nederlandse triptiek, maar met ’n protea op die voorblad in plaas van ’n tulp. Die kleur is donkerblou (die klein boekie is turkoois). Die verkoopprys: ongeveer BEF 950 (omgereken sowat R160).
    Na die pouse het Komrij sy beloofde “verrassing” aan die gehoor bekendgestel: Tom Lanoye, wat ’n vier- of vyftal gedigte van sy eie keuse sou voordra. Getrou aan sy aard het hy ’n keuse gemaak wat deur die gehoor as komies en/of kontroversieel en/of skokkend, of ’n mengsel van al drie beleef kon word. Sy eerste keuse was ’n vir my totaal onbekende gedig oor ’n “poepwedstryd”, en hy het nie nagelaat om die gehoor presies in te lig oor die verskillende betekenisnuanses van die woord “poepen” in die Afrikaanse, Vlaamse en Nederlandse konteks nie (nogal belangrik om te weet; die kulturele verskille is in hierdie verband beduidend). Dit is gevolg deur Adam Small se “Kô, lat ons sing”. Die laaste twee gedigte wat hy voorgedra het, was ’n gay vers deur Johann de Lange (“no pun intended”, volgens Lanoye) en Antjie Krog se “ek staan op ’n moerse rots langs die see by Paternoster”, waarvan hy die slotreël, “ ’n vry fokken vrou”, met ’n dramatiese crescendo voorgedra en dit in die lug laat hang het onderwyl hy weer sy plek ingeneem het.
    Die hele voordraggeleentheid is “omlys” deur die optrede van ’n vir my totaal onbekende groep, die “tienkoppige band ‘Tribal Countdown’ ”, wat toe slegs nege koppe getel het en waarvan die musiek hoegenaamd nie by die karakter van die Afrikaanse poësie gepas het nie. ’n Groter beswaar (as die stilistiese onversoenbaarheid van die poësie en die musiek) is egter die feit dat die musikale gehalte van die optrede allermins ’n advertensie vir die Suid-Afrikaanse musiekbedryf was.
    Die bekendstelling is voorafgegaan deur ’n gespreksgeleentheid vir studente wat Afrikaans studeer aan die Universitaire Instelling Antwerpen se Centrum voor Taal en Spraak, onder direkteurskap van prof. Kris Van de Poel, met Komrij en die digters. Dat daar belangstelling in Afrikaans bestaan, is duidelik. Dat daar egter nog “veel werk aan de winkel is” ten opsigte van kennis van die Afrikaanse letterkunde is egter ewe duidelik as begryplik. En in hierdie verband lewer Komrij se bloemlesing ’n uiters belangrike bydrae vir sowel die Nederlandstalige as die Afrikaanstalige publiek. Met hierdie bloemlesing word die tradisionele kanon van die Afrikaanse poësiebloemlesing immers grondig deurbreek, veel meer nog as met Poskaarte.

Universiteit van Pretoria
Universitaire Instelling Antwerpen

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.