SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

Afrikaanse en Nederlandse gedigte vir die laaste jaar van die millennium

Renée Marais

Carl Niehaus en Robert Dorsman (samests.):
Klanke soos vere: Gedigte tussen Suid-Afrika en Nederland
(Den Haag: Suid-Afrikaanse Ambassade, 1998)

As u die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland was, en u moes op ’n geskenk vir die laaste jaar van die millennium besluit, sou u gedigte gekies het? Ja, ongelooflik soos dit vanuit Suid-Afrika mag klink, is dit presies wat mnr. Carl Niehaus gedoen het. Hy en die Utrechtse vertaler Robert Dorsman het ’n sjarmante bundel met elf gedigte deur vyf Afrikaanse en ewe veel Nederlandse digters saamgestel ter viering van “daardie subtiele, maar groeiende band tussen die mense van ons twee lande”, Suid-Afrika en Nederland (p. 5).
    Niehaus beweer tereg dat “die swaar hamerslae van amptelike verklarings en propagandistiese toesprake” (p. 5) alte maklik op ’n stereotipering van die komplekse verhouding tussen Suid-Afrika en Nederland uitloop, maar dat die veerligte taal van die poësie die vele fasette en nuanses van hierdie lang verhouding tussen hierdie lande onder woorde kan bring.
    Die digters wat (op versoek van die ambassadeur) tot die bundel bygedra het, het byna almal ’n aantoonbare band met albei lande. Elisabeth Eybers en Vernie February woon reeds onderskeidelik 38 en 36 jaar lank in Nederland, terwyl Wilma Stockenström, Antjie Krog en Gert Vlok Nel in Nederland bekend is deur optredes by verskillende poësiefeeste. ’n Keuse uit sowel Stockenström as Krog se gedigte sal ook in die loop van 1999 in twee afsonderlike tweetalige publikasies (die Afrikaanse gedigte, met hul Nederlandse vertaling daarnaas) in Nederland verskyn.
    Drie van die vyf Nederlandse digters wat in die bundel verteenwoordig is, het ’n literêre betrokkenheid by Suid-Afrika: Gerrit Komrij publiseer later vanjaar ’n vierde band met Afrikaanse gedigte as toevoeging tot sy omvangryke driedelige bloemlesing De Nederlandse poëzie van de twaalfde tot en met de twintigste eeuw in 3000 en enige gedichten, Ad Zuiderent is (saam met Johann Lodewyk Marais) medesamesteller van die omgewingsbundel Ons klein en silwerige planeet en Adriaan van Dis het onder meer ’n reisverhaal oor Suid-Afrika geskryf: Het beloofde land. Ofskoon Remco Campert en Judith Herzberg se gedigte vir hierdie bundel nie pertinent oor ’n aspek van Suid-Afrika of die Nederlands/Suid-Afrikaanse verhouding handel soos dié van hulle reeds genoemde Nederlandse kollegas nie, is dit treffende gedigte wat volkome “tuis” is in hierdie versameling.
    Enkele gemeenskaplike kodes, temas en/of beelde kom uit die elf gedigte in die bundel na vore. Krog en Komrij maak van ’n skeepsbeeld gebruik, terwyl Stockenström se gedig met water te make het. Sowel February en Van Dis as Krog (in “niks by te voeg”) skryf oor taal. Zuiderent dig (in die vorm van ’n gesprek met sy moeder) oor ’n besoek aan Suid-Afrika, en van Eybers is die bekende “Twee kleuters in die Vondelpark” opgeneem. Nel skryf oor die besoek van die sirkus aan sy tuisdorp, Beaufort-Wes, Herzberg oor koerantnuus en Campert oor die aard van kuns.
    Soos Campert se gedig, kan Krog se “niks by te voeg” as ’n gedig oor die poësie gelees word. In hierdie gedig verwoord sy die subtiele en sublieme uitdrukkingsvermoë van die digterlike taal (wat Niehaus in die voorwoord teenoor die ongenuanseerdheid van politieke taalgebruik stel) soos volg:

niks by te voeg
niks toe te voeg
oor hoe diep dit lê as

klanke soos vere val
in Baadjiesvlei en Biedousrivier
so soos ’n asemveeg so lig

geluidloos in die voorwêreldse stilte val
[...]

Dat ’n bloemlesing gedigte saamgestel word om as “nuwejaarsgeskenk” te dien, is myns insiens kenmerkend van die belangrike rol wat boeke, en dan spesifiek ook poësie en poësiefeeste, in die Nederlandse kultuur speel. Dit maak hierdie klein bloemlesing so ’n gepaste geskenk binne die Nederlandse konteks — én dit strek die gevestigde Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf, wat deesdae kwalik meer as die krummels vir die digters gooi, ’n bietjie tot skande. Vir hierdie pragtige inisiatief verdien die Suid-Afrikaanse Ambassade in Nederland voorwaar ’n veer in sy hoed.

Departement Afrikaans
Universiteit van Pretoria

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.