SeminaarKamer - dinkruimteArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
This table is 9.2 mm thick, is replica watches online a relatively slim watches, with automatic movement, more importantly, it is fake rolex watches equipped with 1150 core, with 100 hours of fake rolex power storage, is a long dynamic table does not swiss replica watches see more regular table in paragraph.

’n Leeftyd se plet aan hierdie oggend-alfabet

Karen de Wet

Petra Müller: Swerfgesange vir Susan en ander (Kaapstad: Tafelberg, 1997)

In 1997 al, verskyn daar ’n bundel gedigte van gedugte omvang — hoeveelheid gedigte, ja (120 binne die bestek van 130 bladsye) maar ook veel meer as net dit. Die soort bundel wat mens van Opperman se Komas uit ’n bamboesstok, Krog se Lady Anne en Breytenbach se nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde laat onthou. Dit is Petra Müller se vyfde digbundel en die eerste een van die negentigerjare (nadat sy twee substansiële kortverhaalbundels in hierdie dekade laat verskyn het: Die dwerg van die Infanta en In die omtes van die hart). Dis wanneer ek Swerfgesange vir Susan en ander weer lees, dat dit by my opkom: misgis ek my of kry hierdie digter/skrywer minder kritiese aandag as wat haar tekste verdien? In hierdie oeuvre lê beslis ’n boeiende navorsingsveld nog braak. Ek is dus dankbaar vir die geleentheid om vir Litnet te skryf oor Müller se bundel, al het dit reeds ’n geruime tyd gelede verskyn.
    Onvermydelik opvallend is die manier waarop sterwe en swerwe in die bundel na mekaar buig. Dit sou egter ’n ernstige verskraling, indien nie ’n fout nie, wees om slegs “sterfgesange” te verwag. Die versoeking is wel daar: ’n studie van die neerslag en (variante) vorme van die elegie in die Afrikaanse poësie is iets wat wág om onderneem te word. Immers is die hoeveelheid rougedigte, begrafnisgedigte, in memoriams ensovoorts (dikwels ook oor afgestorwe digters/skrywers) aansienlik: van Totius se “o Die pyn-gedagte” tot Breyten Breytenbach se negedelige Oorblyfsels: ’n roudig wat as selfstandig gepubliseerde bundel verskyn het (ook in 1997). En dit is nie asof Müller (se teks) só ’n tematiese vereenselwiging met die elegie probeer vermy nie. “Vooraf” skryf sy: “Die boek word opgedra aan die herinnering van drie vriende wat in 1995 gesterf het”, persone wat “sanger en skilder”, “natuurliefhebber en filosoof” en “my reisgesel” was. Afgesien daarvan dat die tematiese gemoeidheid met kuns en die skep daarvan (skilderye, musiek, gedigte), met die natuur, met filosofie en met reis dus nie onverwags is wanneer mens dit in die bundel teëkom nie, lyk dit ook asof die onafwendbare inbedding van swerf en sterf wel in die vooruitsig gestel word. En tog, en tog. Dit is waar dat vele van die verse verval (en dan in verskeie vorme) verken, dat daar ’n optekening bestaan van andere se afskeid van die lewe, van die reis op pad na die dood. Dit is waar, ja, maar dit is nie al nie. Dit is meer as dit. En met hierdie besef beland hierdie resensent toe in ’n cul de sac. Elke poging om die teks aan die woord te stel, kom ek weer eens agter, verskraal dit noodwendig. Laat die veelheid verweefde moontlikhede daarvan afsterf tot maar ’n enkele waarneming, tot een veralgemening.

Foucault in die Nonpreface tot sy seminale Madness and Civilization skryf:

A book [...] is produced, a minute event, a small, handy object. From that moment on it is caught up in an endless play of repetitions; its doubles begin to swarm around it and far from it; each reading gives it an impalpable and unique body for an instant; fragments of itself are circulating and are made to stand in for it, are taken to almost entirely contain it, and sometimes serve as refuge for it; it is doubled with commentaries, those other discourses in which it should finally appear as it is, confessing what it had refused to say, freeing itself from what it had so loudly pretended to be.

Foucault sê vir my: laat die teks met rus, elke lesing fragmenteer (die bundel, die gedig). Elke opmerking loop gevaar dat dit die genuanseerde geheel tot veralgemening meesleur en reduseer. Erger nog: elke lesing, elke resensie raak skuldig aan ’n soort aanmatiging (dat dit wat die teks verswyg, soos Foucault sê, uitgeblaker word) en ook aan ’n soort ontbening (dat die laaste stukkie sluier die teks ontneem word). Hieraan wil ek nie skuldig wees nie — dieselfde ek wat in die eerste paragraaf gesuggereer het dat daar te min geskryf word oor hierdie digter/skrywer se werk.
    Dit is ’n bietjie soos wat in “ruiker in glaskraf” (p. 23) gebeur: dat die blomme wat opsluit in “die één heel / en heeltemal deurskynende kraf” moes kom, dat die blomme nie kon wag nie. In die naarstigtelike soektog (“ek het my moeg gedraf”) na die perfekte manier (die kraf) waardeur die wonderbaarlike (die ruiker blomme, die bundel gedigte) ten toon gestel (aan die woord gestel) kan word, word dit verloor, gaan die oomblik(ke) van leef en skoonheid verby. Die blomme wat sy “kon omlyn met my hande / [...] kon opnoem in my taal”:

die fleur-de-lis, byvoorbeeld, wat ons noem flappe,
op hul hoë stele besonders; papawers, kamiemie, ranonkels,
verskillende narsings, die ranke van rose, ritse jasmyn,
anemone windverskrik, wat hang aan ’n oomblik

dié blomme, wat moes wag op ’n perfekte vaas, teken die verganklikheid, die verspeelde kans:

toe ek by die blomme terugkom
was daar niks meer aan te doene nie —
was die anemoneblare alles af

Dit teken ook die resensent se onvermoë: hoe dringender die soektog is na die glaskraf waarin die blomme (bundel gedigte) perfek moet vertoon, hoe reëeler die gevaar van veralgemening, van versplintering, van enumerasie.
    Ek moet dus omdraai om uit die doodloopstraat te kom: wél skryf oor die bundel, maar dan met die wete van twee sake: die geïmpliseerde waarskuwing in Foucault, en die futiliteit daarvan om te soek na die perfekte kraf. Wat my by elke lees en herlees weer van vooraf aan bly boei aan dié bundel, gaan ek dus hier probeer aandui — sonder om ’n rangskikking te wil maak, maar wel in die hoop dat die leser hiervan na die blomme self sal gaan kyk.
    Die verkennig van verganklikheid en verval, die insig van “dit is nie verniet dat sterwe / nou begin te rym met swerwe nie” (p. 8), en die manifesterings hiervan in die gedigte in Swerfgesange vir Susan en ander is een van die boeiendste ondernemings van die bundel. En geslaagd ook. In “Gedierte” (p. 13) is die besef van verganklikheid (wat hier met die winter saam kom) ook ’n erkenning van die vertroudheid daarmee:

Nou kom die sterflikheid van buite af in
met ’n nat pels en geel oë. Hy lyk vanoggend bekend,
’n valerige dierelyf wat lank reeds in die klofie hou.
Kon jy nie vir my die deur oopgehou het nie, kweel hy,
ek is platgeleef en deurgeloop. Jy het my tog
lank reeds hoor tjank ook, hoewel jy my wegstoot
met Mahler en Janácek.
Nou kom hy binne, gaan lê sugtend voor die stoof
waar my eie hond, tot my verbasing,
sy snoet begin lek.

Dié gedig is die laaste in afdeling een, ’n afdeling waarin daar reeds heelwat van die gegewe wat later die tematiese ruggraat van die hele bundel raak, ter sprake kom. Gegewe soos die poging om die intensiteit wat in die minste lê, te sê:

Nie vir enige groot silwer waarheid
in die wêreld nie
maar, as jy dit so sou wou hê,
vir ’n stuiwertjie stilte

leef ons hierdie skerpgevylde oomblik
    (“Praagse gedig”, p. 5)

Gegewe soos die saamdig van mens, skryf, natuur, leef, sterf — soos in “ru-sy” (p. 4):

boek vol asem
hand vol skrif —
is jý nie my mens nie?

jou warm blaaie
ruik na gras

as ek jou oopvou
staan die dodes op uit die stof

Daar is ander aanwysers ook, in hierdie eerste afdeling, waaruit die res van die temas in die bundel kiem. Soos die beskouing van die nietige liggaam (“Boetserings”, p. 9), soos die aanduiding van siektetoestande (“Bestraling”, p. 10), soos die bytrek van religieuse gegewe (“Engel praat met sy maat”, p. 11, en “jakob”, p. 12).
    Afdeling II bevat gedigte oor die lewe en afsterwe van Nico, Eraine en Martin Versfeld — verweef met musiek, skilderkuns, die filosofie en die natuur. Die fokus op minheid is weer teenwoordig, en in “weestuin” (p. 22) gryp dit selfs vooruit na die soort portrette waarvan daar meer as een teenwoordig is in afdeling VI: van Europa en oorlog en honger. In hierdie gedig word die wintertuin ’n foto van die weeskinders: beide afgestroop en uitgedun:

die wintertuin, soveel anders as die somertuin,
vertoon been, vin en graat
gratebeen staan my tuin
my tuin, ’n oorlewende, is koud
en smeek om heenkome

so staan oorlewendes op rouhoutkaaie
[...]

ja, daardie vaalkopkinders met hul stoppelrige hare,
kinders wat so kla van pyn in oksels,
kinders uitgedun met takfyn vingers,
knopvol sop en vrees,
in watter taal kla daardie kinders
dat ek so goed verstaan?

Asof van mens verwag word om te antwoord: in die taal van die tuin, van afgestrooptheid, in die taal wat die digter se oog raaksien, wat die woord moet meedeel. Daar is ander voorbeelde ook, waar die blootgelêde essensie van natuur en die afgetakelde mens afbeeldings van mekaar raak. Soos in “hier” (p. 62):

In my stad (sê die telefoon) stort die reën skuins af
[...]
En die silwerbome swaai oop in die storm, ’n nakende windloop
wat met mense niks meer uit te waai het nie, konstellasies smal
en volhardende blare wat jare lank hou.
Waarna ek hier kyk, is ’n wit bedoeling wat nie wil bedaar nie.
’n takelasie spier en been wat nie weer sal kan heg
tot mens nie [...]

Soos ook in “remissie” (p. 63):

met jou maer gebare
afgemaakte stronke in ’n mielieland,
    sê jou vriendin uit Afrika

o ja, ook ek is nou ’n himbavrou,
sê jy, kyk: my laaste hutjie groei uit my; ek is ene lat
en lit; ’n skoongemaakte takkerasie van ...
mopanie, as ek reg onthou ...
ek is baie dun gestrek oor die stellasie

Afdeling III sluit met “Sneeu in September: Agter-Pakhuis” (p. 34) waarin die natuurbeskrywing verweef word met ’n aantal figure uit die Afrikaanse (literêre) wêreld: Boerneef, Leipoldt, Opperman, Daantjie Saayman, Martin Versfeld. (Soos wat ook gebeur in gedigte soos “reënbrief vir Sheila”, p. 26, en “Die vraat”, p. 74, wat opgedra word aan Audrey Blignault.) Die sneeu in die lentetyd bring “helderte en pyn” waarbinne die plekgebonde herinnering aan vriende opgediep en tot ruste gebring word:

Op Botterkloof se hoogte is daar helderte en pyn: yswind
oor die yl kapokbos en ’n ruik van wildekamfer [...]

Dit is hier nou nugter oggend in die klippe. Elke hart
het in sy holte tuisgekom. In die goudgeel botterblomme
staan die sneeu gedam. En daar is son — ’n koue son
wat straalslaan uit die wit. Ook die asem, waar dit losraak
van die lippe, wil nog talm in die onklaar oomblik
van die asemhaal. Wou nog graag ’n ietsie sê.

Die laaste drie afdelings van die bundel word gedra deur die laaste van die drie vriende waaraan die bundel opgedra word: Susan Rudnitzky. Die gedig “Tyding van Susan” (p. 39) gee ’n goeie aanduiding van die aard en omvang hiervan: “Luister!”, skryf die digter, “Ek het jou soos die dood onder lede: ’n unieke musiek / wat binnekort sal oplos / in voltooide akkoorde.” Só dat ek onkeerbaar en nuut oor jou moet skryf:

Frédéric het gefluister
(sê George Sand): ek is tevrede. Tog het hy nog sy hande
uitgestrek asof vir laas ... hy ’n modulasie wou onttrek
uit onbeskrewenhede. Maar ek — br> ek is nie tevrede nie.
Ek soek eerste woorde.

Die afdeling begin dus met die tyding van Susan se siekte en sluit met die “vermoede” (p. 47) van verskrikking en onvermydelikheid:

ek voel ’n verskriklike lente aankom

ek gewaar dit aan die surings wat bandeloos blom
reeds een dag na die sonnewending,
en die fiskale se geskree

wie sal die woedende asemhaling keer,
die oneweredige hartslag, die sterre
wat skeef hang, of tuimel,
    snags?

[...]

die basiel op die vensterbank
staan arms-omhoog in volle blom:
ek voel ’n vreesbevange lente kom

Interessant genoeg handel die vyf gedigte tussen die eerste en laaste gedigte van afdeling III nie direk oor Susan (se siektetoestand) nie, maar word dit gewy aan kunstenaars en kunswerke — bykans asof dít is wat gedoen behoort te word in die aangesig van skok en onafwendbaarheid, om jou tot bestaande kuns, tot geliefde kunstenaars, te wend. Vergelyk: “Morgenstern se raad” (p. 40); “In the penal colony” (p. 41); “Macbeth pak uit” (p. 42); “Die inval: Strangfjördloch” (p. 44)1 met ’n subtitel uit Yeats; en “Rembrandt se model, in Vodderaperstraat” (p. 45). In hierdie beeldgedig is dit die kunsobjek, die vrou wat geskilder (gaan) word, wat die kunstenaar en die proses van kuns maak ontbloot. Bykans asof Müller hierdeur vooraf reeds waarsku teen wat sy vermoed in die res van die bundel gaan volg, naamlik dat die digter kuns, gedigte gaan skryf, oor die persoon van wie sy tyding ontvang het. Rembrandt se model is aan die woord:

Hy volg my spoor en het my reeds ’n naam gegee —
dié konterfeitsel van ’n man, wat mý nog
ingekleur in elke oogkas
na sy hool sal dra
en daar sal aandik vir sy doek!
    Ek weet, ek weet hoe vreet die naglig
aan die nag. [...]

Maar nee! Ek lag daarvan. Ek sal hom wegstuur
as hy vra.
’n Koningin verduur nie afslag nie!

Hierop volg dan die mees uitgebreide afdeling — meer as ’n derde van die gedigte kom hier voor. Gedigte waarin die laaste dae van leef met ’n sterwende ter sprake kom. Hierby kom die verwoording van die ontheemding/vervreemding daarvan om in Europa te leef, wat etlike gedigte waarin Afrika ter sprake kom, tot gevolg het. Meer dikwels as nie, is hierdie elemente egter nie noodwendig boustof van afsonderlike gedigte nie. Soos wat die beskrywing van sneeulig in die Alpe (“Laat lig”, p. 56) die ervaring van seisoene oproep, maar uiteindelik eintlik ’n verwoording van die besef van verganklikheid is:

Ek het vanjaar reeds twee maal herfs gehad —
een maal in my eie, een maal in die Duitse taal. Ek weet:
dit sal nie duur nie, want dié lig, inskiklik soos dit is,
bly talm en dwaal, maar doof, wanneer
dit doof, oombliklik.

Ook die bedryf van die digter word herhaaldelik ontbloot. Soos in “Roei” (p. 59):

In jou geil groeiende skedel lê jou oë
nou nie meer blou nie, maar swart. Ek kan
dit nie benader nie: dit is dieper as dink.

waar die digter iemand word wat “benader”, wat na betekenis op pad is, wat daarheen wil swerf. Daar is ’n ander aspek ook hieraan verbonde, naamlik dat die digter iemand word wat namens iemand anders (Rembrandt se model, en later namens die digter Mandelstam, bv.), en dan ook namens die sterwende (moet) verwoord. In “Nou en” (p. 62) gebeur dít en is die afloop van dié gedig ’n ander soort insig as waarop daar voorberei is toe Rembrandt se model gewaarsku het dat die kunstenaar die objek van die kunswerk “ingekleur in elke oogkas” aandra en “aandik vir sy doek”. Hier kom ’n onwilligheid ter sprake:

[...] Nou beweeg
jou vinger in die rigting van die kraf.
“Say,” sê jy. “Wit tjienkerientjies,” sê ek,
“en silwerboomtakke.”
Hier begin jou maer glimlag.
“Write”, sê jy. Ek wil nie.
Elke skryfsel skryf jou af.

’n Spanning ontstaan in die digter wat besig is om op te skryf, aan te teken, en wie se skryfsels eintlik erken dat dit die objek wesenlik (begin) afskryf. Die erkenning daarvan dat ek namens jou verwoord, word ’n erkenning daarvan dat jy dit nie meer self kan doen nie, dat jy nie meer volledig kan leef nie, dat jy sterf.
    Die vervreemding wat die digter hierdeur ervaar, sluit aan by die vervreemding as gevolg van die spanning tussen Europa en Afrika. Vergelyk byvoorbeeld “drie-uur snags” (p. 77):

Hoe hang die vensters in die esbome, elk
’n dofgeworde vierkant lig in lower,
luisterend na die gedig.

Ek is vreemd hier.
Ek leef van flentertjie
tot flentertjie papier

Op hierdie dubbele vervreemding volg afdeling V waarin die afloop van die sterfte verwoord word: gedigte oor uitlê, balsem en begrawe; met afdeling VI wat dan heeltemal verby die voorafgaande ervaring strek en kan fokus op dit wat agtergelaat is, gedigte dus wat nagelaat is deur die afsterwe van Susan. ’n Belangrike aspek van hierdie “erfdeel” (p. 107) is Naftali Rudnitzky, Susan se oupa:

jy het, byvoorbeeld, hierdie sprakelose oupa
in die album voetstoots
vir my nagelaat

wat, wil ek weet, moet ek máák met die jood?

Hierdie opstandige vraag raak bepalend vir die aard en samestelling van die laaste afdeling gedigte. Gedigte wat (weer eens) stem wil gee aan stemloses. Gedigte oor Russe en Jode, oor godsdiens, digters en skryf. (Met drie vertalings uit Mandelstam ingesluit.)
    Boonop bring die beskouing van hierdie Jood wat sy wil verwoord, die digter tegelykertyd tot ’n herkenning van die skeppingsproses, en ook van die self:

my vingers loop daagliks sy lyn langs
soos boere ’n plaas; ek wil grein
van hom vang
hy ontsnap my [...]
gedurig verloor ek sy spoor
behalwe die glimp
af en toe ... as iets
hongerig winkend bly loer
uit die oë van kinders of kleinkind

[...]

vlugtende jood: as ek lank genoeg kyk
lyk jy altevol meer soos die hoek
van my oog, die kiem
van my brood

Hierdie eiening, hierdie raaksien van (aspekte van) die self in die “vlugtende jood”, het myns insiens ook raakpunte met die hele gemoeidheid met swerf in die bundel — soos wat die titel van die gedig wat direk op “erfdeel” volg, immers meedeel: “Naftali Rudnitzki: foto van ’n swerwer” (p. 109). In “swerf” (p. 71) was daar reeds die belydenis:

ek is ’n digter, ek; ek werk met skaduwees,
met liggame op trek; ek kry eers lewe
as die avond met gesange uit die rante rek
en enkel swerwers, byna reeds geraamte,
op die grondpad vind

En ná die gedig “Naftali Rudnitzki: foto van ’n swerwer” (p. 109), swerf die digter weer in die mond van ’n ander spreker in (soos wat ons dit reeds in verskillende gedaantes in hierdie bundel aangetref het). “sprekende as rabbi” (p. 111) gebruik verwysingsmateriaal uit die oorlog, sowel as uit die Bybel, maar uiteindelik het die gedig dit eintlik oor wat ’n goeie gedig is — met die bykomende voordeel dat dit ’n meester (“rabbi”) is wat aan die woord is, dat die uitsprake dus gesaghebbend is:

so ’n smal gedig
met teruggetrokke woorde,
so ’n gedig wat jare lank huiwer
en dan terugval op stilte
met ’n gebaartjie nederiger as
— hoe kan dit gesê word — br> die nederste

[...]

so ’n gedig wat ’n nuwe woord toets
soos ’n honger vrou ’n groenvergifte aartappel
omdat sy niks anders het nie
en daarna begin te bontpraat, soos dronkes —

[...]

ek, wat baie vlugtig verkeer het
in die geselskap van jesus die huislose
gebore uit hartstog en houtkrulle —
ek sê vir julle: salig
is hierdie gedig
wat die koninkryk sal erf
van daardie hemele wat byna-byna gerym het
met die nedere

Hierdie strewe na essensie, na minheid, na “die nedere” is ’n herhalende gegewe in die bundel en word boeiend deur Müller ontgin. Dit is ’n gestrooptheid wat reeds van die begin van die bundel af teenwoordig is. Die behoefte hieraan word vroeg al verwoord in “Engel praat met sy maat” (p. 11):

Jy kan van laaste woorde praat as jy met eerste
dinge stoei; maar as dit kom by laaste dinge
moet jy op jou eerste woorde wag;
iets heeltemal gereduseer,
eenlettergrepig en gering.

Petra Müller se werk is ’n uitdaging: intellektueel, emosioneel. En miskien is dit moontlik om die opgawe aan die leser geïmpliseer te lees in “Der Tod und das Mädchen” (p. 84):

Reeds weet niemand waarom hy dié stuk
opgestel het nie. Sy stiltes en steune
is ons enigste repliek, ook die kere dat hy opgevlieg
het van die klawerbord om God te vloek.
[...]
’n Mens sal moet luister en stilbly.
[...]
[...] ’n Motief
wat wil terugkeer, makeer nog —
iets duisters. ’n Mens
sal moet stilbly en luister.

Want dit is immers wat die digter doen, sy is ook ’n agtervolger op soek na betekenis. In “Op die Kama” (p. 118 — opgedra aan Osip Mandelstam) is oorlogslagoffers (wat doodgaan van honger) ter sprake:

En wanneer hulle later kaalsool in die sneeu stap
word die spore ligter, ligter vanweë ’n gebrek
aan lyf en lyfgewig. Hy kom agterna, die digter,
en vul dit op met die ys van die eeu.

Maar ook die agtervolger word maer. En moet
altyd luister, luister waar die woord verdik
soos melk, soos bloed.

Ek wend my weer tot Foucault: “Original forms of thought are their own introduction: their history is the only form of exegesis they tolerate, and their fate the only form of criticism.” Só is Petra Müller se Swerfgesange. Lees hierdie gedigte. Lees hierdie digter (p. 17):

Daar lê ’n leeftyd voor
om klaar te plet aan hierdie
oggend-alfabet.
    (p. 17)

Departement Inligtingkunde
Universiteit van Pretoria

1 Wat weliswaar ’n verband met Susan het, aangesien dit haar geboorteplek was. Vergelyk “Vooraf”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.